Die Hollywood-aktrise is terug voor die rolprentkameras en geniet dit om ’n enkelloper te wees, vertel iemand na aan haar. Jennifer (49) is "gelukkig om ’n enkelloper te wees. Sy fokus op haar eie geluk," vertel ’n bron aan die tydskrif People. “Sy lyk baie gelukkig.”

Die aktrise is Woensdag vir die eerste keer op die stel van haar nuwe Netflix-fliek, Murder Mystery, in Montreal, Kanada, saam met Adam Sandler gewaar. Die twee, wat voorheen saam in die romantiese komedie Just Go With It (2011) te sien was, speel ’n paartjie wat verdagtes word in die moord op ’n biljoenêr, berig People.

Die tonge het behoorlik geklap toe Jennifer en Justin (46), wat in 2015 afgehaak het, vroeër vanjaar aankondig hul paadjies gaan ná sewe jaar skei. Die akteur van The Leftovers-faam was haar tweede man. Sy was vroeër, van 2000 tot 2005, met die Hollywood-hartebreker Brad Pitt (54) getroud.

Jennifer het aanvanklik verkies om uit die kollig te bly nadat sy en Justin uitmekaar is. Sy is wel onlangs saam met haar Friends-medester Courteney Cox (54) by onder meer ’n aandete van die modehuis Chanel in Los Angeles en by ’n gala-geleentheid van die Amerikaanse rolprentinstituut gewaar.

Jennifer lyk heel gelukkig nadat sy met haar lewe aanbeweeg het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy kuier ook gereeld saam met haar ander bekende vriende soos die Amerikaanse kletsprogramaanbieder Ellen DeGeneres en die akteur Jason Bateman, wat saam met haar in die fliek Horrible Bosses te sien was.

Bronne: People.com, DailyMail