Van skoenlappers tot ou stoele kan van 'n paar bekendes in bewende bangbroeke laat verander!

TYRA BANKS is doodbang vir dolfyne! Iets wat vir die meeste mense dierbaar is, kan Tyra Banks nie voor haar oë verdra nie. Glo dit of nie, maar die vurige TV-­persoonlikheid is doodbang vir dolfyne! “Jy dink hulle is oulik en snoesig, maar ek dink nie so nie. Ek voel paniekbevange wanneer ek met ’n dolfyn te doen kry of selfs net daaraan dink of daaroor praat.”
NICOLE KIDMAN sê skoenlappers moet skoert. Haar brose skoonheid herinner aan ’n skoenlapper, maar moenie dit waag om een van dié mooi insekte naby die Oscar-­wenner Nicole Kidman te bring nie. “Ek het dit te bowe probeer kom deur by die skoenlapperhok van ’n museum in te stap, maar vergeefs,” vertel sy. “Ek spring uit vliegtuie, ek doen allerhande dinge, maar ek hou nie van die gevoel van skoenlapperlyfies nie.”
Slange laat MATT DAMON "soos 'n baba huil". Die arme man het behoorlik kop verloor toe hy talle medesterre vol skubbe op die stel van sy fliek We Bought a Zoo (2011) teëkom. Sy medester Scarlett Johansson vertel hy het “soos ’n baba gehuil en heen en weer gewieg”. Matt vertel self hulle moes hom “boelie om iets met hulle te doen te hê”.
JUSTIN TIMBERLAKE stuur 'n spinnekop-S.O.S! Die sanger Justin Timberlake ly aan aragnofobie – ’n irra­sionele vrees vir spinnekoppe. “Ek is doodbang vir hulle. Ek het eenkeer ’n massiewe een op my hotelbed gesien en ek kon skaars beweeg, wat nog te sê daarvan ontslae raak. Ek moes ontvangs bel sodat hulle iemand kon stuur om dit te verwyder.”
CHRISTINA RICCI sê potplante moet verbyhou. Moenie eens daarvan droom om Christina Ricci ’n potplant present te gee nie, want dan kan jy dalk ’n nare verrassing kry. “Hulle is vuil,” sê sy, “en as ek aan een moet raak, gril ek my dood.”
BILLY BOB THORNTON vrees antieke meubels! Hy ly aan ’n klomp fobies – van swem tot komododrake (’n groot soort akkedis) – maar sy vreemdste vrees is vir antieke meubels. “Ek kan nie in die omgewing daarvan asemhaal nie,” sê hy. “Ou, stowwerige, swaar gordyne en groot tafels met leeukoppe daarin gekerf – dis die soort goed waarvan ek ver wegbly. Dit laat my gril.” Dan vermy jy seker kostuumdramas soos die pes, of hoe, Billy?
Seemeeue gee ADELE die horries. Die sangeres Adele het ’n onbeheerbare vrees vir seemeeue vandat sy as kind deur een aangeval is. “Ek het op die promenade geloop en roomys eet toe hierdie reuse- f***** seemeeu neerdaal en dit gryp,” vertel die Grammy-wenner. “Ek het nog die litteken van sy klou aan my skouer. Ek het gedink hy sou my ook wegneem!”

Foto's: Gallo Images/Getty Images