Gou-gou ’n TV- en filmster

As klein dogtertjie het sy haar ma belowe sy gaan haar die wêreld wys. En 20 jaar later is dit presies wat Nicole Fortuin doen.

“Wanneer ek my ma na ’n toekenningsaand nooi of ons vir iets werkverwants reis, sê sy: ‘Sien jy, jy kom jou belofte na.’ En dan sê ek: ‘Wel, die jonger Nicole moes dit geweet het!’ ” vertel die 26-jarige aktrise.

Nicole is nog net vier jaar in die vermaakwêreld en maak reeds naam in ’n bedryf wat genadeloos kan wees.

Daar wag groot dinge op die talentvolle ster – tuis en oorsee.

Sy is in Julie in die kykNET-reeks Alles Malan te sien, ’n familiedrama wat in die Paarl afspeel. Nicole speel Lee-Anne, die verloofde van Nico Malan (Sean Marco Vorster), jongste seun van Derik (Albert Maritz) en Brenda Malan (Elsabé Daneel).

Nicole (heel links) is eerdaags te sien in die Afr
Nicole (heel links) is eerdaags te sien in die Afrikaanse reeks Alles Malan as Lee-Ann. Die reeks, wat in Julie begin, is ’n familiedrama wat in die Paarl in die Boland afspeel. Ander akteurs soos Elsabé Daneel, Albert Maritz, Matheo Olivier (almal voor), Sean Marco Vorster, Ivan Zimmermann, Nadia Valvekens en Greteli Fincham (almal agter) is ook in dié reeks. Foto: kykNET

Haar jongste fliek, Flatland, waarin sy ’n hoofrol vertolk, het onlangs groot lof op die Berlynse rolprentfees in Londen gekry.

“Dit het binne nege minute uitverkoop by vier teaters,” vertel sy.

“Dit het nog nooit by die fees gebeur nie en het dus duidelik ’n impak gemaak.

“Jenna (Bass, die fliek se Suid-­Afrikaanse regisseur en skrywer) en een van die vervaardigers het my van die fees af gebel. Ek kon nie gaan nie, want ek het aan ’n reeks hier gewerk. Ons het net gehuil. Dit voel nog so onwerklik.”

Flatland, ’n kontemporêre Wilde Weste-­fliek, het baie tyd gekos om te vervaardig. Nicole het in 2016 ’n oudisie afgelê en die rol gekry, maar weens geldpro­bleme is produksie twee keer gestaak.

“Ek het in die proses werk verloor, want ek het gedink ek gaan verfilm en het dus nee gesê vir ander rolle. Maar ek is nie spyt nie.”

Nicole se karakter, Natalie Jonkers, is ’n jong bruin vrou. Sy trou met haar kêrel, Bakkies (vertolk deur De Klerk Oelofse), ’n wit polisieman. Maar hul huweliksnag verander in ’n ramp toe Natalie besef sy het ’n verskriklike fout begaan en vlug.

Wat volg, is ’n reeks ongelukkige voorvalle wat die soeklig op kwessies soos rassisme en seksisme laat val.

“Dis werklik ’n spesiale fliek,” sê Ni­cole trots.

Grootwordjare

Nicole het in Belhar, Kaapstad, groot­geword by haar ma, Diane, pa, Leonard, en jonger broer, Paul (23).

“Ek was nogal ’n rabbedoe. Ek het baie boom geklim en deur sproeiers ge­hardloop . . . lekker pret.”

Maar sy was ook van kleins af dol oor kuns, dans en hip-hop.

Sy het in 2010 aan die Hoër­skool Settlers gematrikuleer. Daarna het sy teater en opvoering aan die Universiteit van Kaapstad studeer. In 2015 het sy haar televisie­debuut gemaak in die Afrikaanse dramareeks Roer Jou Voete as die dansonderwyseres Maryke van Niekerk.

“Daarna het ek net aanhou werk. Die vervaardigers en rolver­delingsregisseurs het my regtig ’n kans gegee en ek is dankbaar daarvoor.”

Die dansreeks is nou weer op SABC2 te sien.

Internasionale deurbraak

Nicole het in 2016 die rol van Georgie los­geslaan in die Warner Bros-produksie A Cinderella Story: If the Shoe Fits. Sy beskou dit as haar groot internasionale deurbraak.

“Ek was ten tyde van die oudisies in Johannesburg en het gevra of ek ’n video-­oudisie vir hulle kan stuur. Hulle aanvaar gewoonlik nie selfopgeneemde oudisies vir hierdie groot produksies nie,” sê sy.

“Ek weet hulle het twee of drie oudisies in Kaapstad gedoen en was dus reeds ver gevorder. Maar ek het my video gestuur en hulle het nie gevra om my weer te sien nie – hulle het my net die rol gegee.”

Om die rol te kry het haar laat besef enigiets is moontlik, sê Nicole.

“Dit het my hele wêreld uitgebrei. Ek het ontdek die enigste beperkings wat daar is, is dié wat ons op onsself plaas. Dis ’n cliché, maar dis waar.”

Opofferings

Sy werk die afgelope drie jaar sonder ophou, met nie veel tyd om asem te skep nie. Die verskillende rolle wat sy aanvat, maak dit onmoontlik om op een plek nes te skop.

“Jy maak baie opofferings,” sê sy.

Sy het geen benul gehad hoe moeilik die bedryf sou wees nie.

“Ek dink my idee van ‘moeilik’ was dat dit taai sou wees; dat daar hierdie een rol gaan wees wat almal wil hê. En dit is so. Maar dis nie al nie. Ek moes leer wie’s wie, want nie alle mense is betroubaar soos ek eens op ’n tyd gedink het nie.”

Dan moes sy ook leer om verwerping nie persoonlik op te neem nie.

“Ek het drie maande by ’n rolverdelingsateljee gewerk en besef hoe onbenullig die oudisies uit die rolverdelingsregisseur se oogpunt is. Soms kyk hulle net na die inleiding van iemand se oudisie en sê: ‘Nee.’

“Hulle kyk nie eens na die hele oudisie nie. Ek het besef dis niks persoonliks nie, al voel dit so persoonlik omdat jy soveel werk ingeploeg het.”

Druk besig

View this post on Instagram

Go your own way. #thesecret #nicolefortuin

A post shared by Nicole Fortuin (@itsnicolefortuin) on

Dis hoe Nicole die res van die jaar beskryf. Sy het onlangs kontrakte onderteken met twee internasionale agent­skappe: een in Los Angeles en een in Londen. In April het sy Londen toe gevlieg om agente te ontmoet met die oog op nog internasionale werk.

Aan die plaaslike front is daar ook volop werk vir die aktrise wat al in Generations gespeel het. In September sal sy op die stel van ’n nuwe Suid-Afrikaanse aksie­fliek wees.

Nicole het in so ’n werkslaaf ontaard dat sy bewustelik moes leer ontspan.

“Ek oefen my brein om net te rus. Wanneer ek nie werk nie, sal jy my kaalvoet in die natuur kry. Ek is mal oor die strand, ek hou van fietsry op Seepunt se promenade of om net te ontspan en tyd saam met vriende deur te bring.

“En om te dans!”

Haar ster skitter ál helderder, maar Nicole weet toneelspel is ’n wispelturige bedryf. Roem kan kortstondig wees, en geld kom en gaan.

“Ek verstaan hoekom geld belangrik is, maar dit is beslis nie die moti­vering vir hoekom ek hierdie werk doen nie.

“Toe ek jonger was, het ek baie druk op myself geplaas om dit of dat te wees. Nou het ek ’n punt bereik waar ek van myself hou. En daarop is ek baie, baie trots.”

Kampvegter

Nicole wil haar platform gebruik om sake na aan haar hart te bevorder. Sy is ’n kampvegter vir geestesgesondheid en slagoffers van seksuele mishandeling.

“Ons is so toegegooi met tegnologie en leef soos geen ander generasie voor ons nie. Ons vergelyk gedurig onsself met ander. Ek moedig mense aan om te praat. As jy te lank oor iets broei, sal dit uitkom op maniere wat jy nie verwag nie.”

Haar droom was nog altyd om die hoofrol in ’n teaterproduksie, fliek en televisiereeks te vertolk. Nicole sê dit verstom haar dat sy dit al bereik het.

“Ek het drie jaar laas teater gedoen toe ek die rol van Carol in Oleanna kry. Toe dink ek: Hoe kan ek hierdie rol aanpak? Ek was so bang!”

View this post on Instagram

Dreams come true. #oleannasa

A post shared by Nicole Fortuin (@itsnicolefortuin) on

Oleanna is ’n tweekarakter-toneelstuk oor die magstryd tussen ’n universiteitsdosent en ’n student wat hom van seksuele uitbuiting beskuldig.

Dit was emosioneel, maar Nicole het haar goed van haar taak gekwyt en is selfs vir ’n Fleur du Cap-teaterprys as beste aktrise benoem.

Al het sy al soveel sukses behaal, sê Nicole haar grootste prestasie is dat sy geleer het om haarself lief te hê.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.