Aanvanklik het sy omtrent elke dag ’n video gemaak, maar nou het sy net tyd om omtrent een keer per week ’n video te vervaardig en op haar sosialemediaplatforms te deel. 

“Die terugvoer is ongelooflik, ek het nooit so iets verwag nie. Dit was net ’n persoonlike projek en ’n uitdaging vir myself, en toe ontplof dit in iets wat ek nooit verwag het nie,” vertel Juliette. 

In die kort komediesketse vertolk Juliette die rol van al drie skreeusnaakse karakters, die enkelma Cheryl, ook bekend as Chezza, én haar twee kinders, Sasha en Dwayne. Soms klits sy selfs nog ’n karakter by, soos dié van die blonde “Brenda” en deesdae die Australiese astroloog en lewensafrigter, Denice.

 

Juliette, wat drama studeer het en ook ’n opgeleide sjef is, het dié video' s aanvanklik gemaak sodat sy haar akteursvaardighede ten toon kon stel wanneer sy oudisies doen. En só het die idee vir die Anderson-gesin stadig maar seker aan die begin van die jaar begin vorm aanneem. 

Toe die nasionale inperking begin het, het ’n vriend voorgestel sy dokumenteer die lewe van dié koddige gesin tydens die inperking. Met haar selfoon en ’n driepoot-staander het Juliette die uitdaging aanvaar en aan die werk gespring. Aanvanklik het Juliette sommer geïmproviseer, ’n video verfilm en dit die aand voor sy dit in die sosiale media uitgereik het, geredigeer. 

“Maar soos die vlakke verminder het en ons meer vryheid begin kry het, het ek bietjie minder video’s begin maak. Ek maak nou so een video per week, maar ek skryf nou deesdae vooraf ’n teks, so die proses is meer effektief en gestruktureerd,” verduidelik Juliette. 

Sy meen aanhangers en mense wat die video’s gekyk het, het die storielyn begin volg en naderhand sommer versoeke gerig vir temas. Party mense vra vir Juliette of hul naam of ’n vriend se naam in die video’s genoem kan word, en sy probeer dan hard om mense met dié soort diamantjies in haar teks te vermaak. 

“Dit laat mense deel voel van die reeks,” vertel sy. 

En as jy mooi luister, sal jy boonop die bekende stemme van Cheryl en Dwayne deesdae in ’n nuwe radio-advertensie hoor. 

Volgens Juliette het ’n vriend wat onlangs ’n advertensie-agentskap begin het, haar genader om ’n opname te doen vir die Oosterse restaurant Simply Asia.

In dié advertensie bespreek Cheryl en Dwayne ’n nuwe app waarmee mense kos kan bestel.

Juliette was nie seker of hulle háár werk sal kies nie. 

“Ek was verras dat hulle dit gebruik het. Dit het gelyk of hulle die karakters geniet het. Mense wat nié die Andersons kyk nie, sal besef dit is ’n ma en seun, maar mense wat die reeks ken, sal die stemme herken,” verduidelik Juliette. “Dit is alles nogal mal,” vertel sy laggend. 

Juliette deel haar video's op Facebook, YouTube en Instagram. 

“Van die gewilde video’s word so 15 000 keer gekyk, maar ek het die afgelope naweek een gemaak wat meer as 30 000 keer gekyk is,” vertel Juliette.

In dié video verwys Dwayne na ’n video wat die afgelope week in die sosiale media gedeel is waarin ’n man van Kaapstad kras uitvaar teen vroue met kurwes. (Waarskuwing: kru taal)


“Dwayne praat in die video oor body-shaming, maar dit het vir my nogal van ’n persoonlike plek af gekom. Ek het gevoel ek moet iets sê, want toe ek klein was, was ek ook nie een van die maerste kinders nie en ek is geterg deur vriende se ouers wat sou sê Juliette is te vet vir roomys, of dink jy sy moet dit of dat eet.

“Selfs toe ek ouer word, sou kêrels na my verwys as Juliette die vet chick, en dit was so ’n seer plek vir my. Ek het gevoel ek moet iets sê en dit sal goed wees as Dwayne daaroor praat, omdat hy ’n man is. Maar dit was 'n interessante en vreemde dinamika omdat dit eintlik van ’n vrou af kom, maar van ’n man se persona. En dit was die gewildste video wat ek tot nog gemaak het.”

Volgens Juliette was die video’s van die begin af vir haar terapeuties omdat sy die kans kry om sekere soorte persoonlikhede, gewoontes en mense in die samelewing uit te lig. 

“Mense het die karakters begin liefkry, maar terselfdertyd is die karakters ook gebaseer op mense wat my in die verlede al seergemaak het. So dit is maar ’n vreemde dinamika. Maar dit is ook hoekom ek gevoel het ek vir Dwayne moet gebruik om hierdie mening te lug,” verduidelik sy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe