Dit voel soos gister dat die Musiek Roulette-aanbieder en gewese Blou Bul Derick Hougaard in die sosiale media vir mekaar begin ogies maak het.

Nádine het haar aanhangers op Instagram herinner sy en Derick is nou al 11 maande ’n paartjie. 

By ’n foto van die tweetjies in Mauritius skryf sy by ’n hartjie-ikoon: “Daai smile van jou . . .”

Daai smile van jou..... ?? #11mnde #mauritius

A post shared by Nádine (@nadinenet) on

Toe Huisgenoot vir Nádine oor dié Instagram-inskrywing kontak, was die donkerkop skugter en "te besig" om oor die man in haar lewe te gesels.

Sy en Derick koer net so lekker op Twitter, waar hulle gereeld vir mekaar liefdevolle boodskappies stuur. 

“Dis aaklig om weg te ry as jy moet vlieg,” het Nádine op Twitter vir haar liefie gesê. Dit lyk of die paartjie se troetelnaam vir mekaar "lyf" is.

“Dis aaklig verby,” het hy beaam. “Dankie, lyf. Maar vind altyd weer my pad terug na jou . . .”

“Gaan beter helfde (sic) mis,” het Derick weer ’n dag later by ’n foto van Nádine laat hoor.

Dit was wel nie die enigste groot mylpaal vir die Ons2-sangeres vandeesweek nie. Donderdagaand het die vierde seisoen van Musiek Roulette op SABC2 tot ’n einde gekom.

Die reeks het tot dusver 104 episodes op die kassie gehad en Nádine het ook dié oomblik in die sosiale media gevier.

“My hart is lig en so ongelooflik dankbaar!” skryf sy by ’n foto op Instagram. “Dankie, Johan Stemmet, en die hele span wat so sterk staan saam met my!”