Dit is nou die vraag op almal se lippe. As dit gebeur, sal Suid-Afrika nie die eerste land wees wat se skoonhede in dieselfde jaar die Mej. Heelal én Mej. Wêreld-titels verower nie. 

Vier lande kon dit al regkry. Die eerste land wat die dubbele oorwinning behaal het,was Frankryk in 1953. Denise Perrier van Frankryk was toe as Mej. Wêreld gekroon en haar landgenoot Christiane Martel is as die mooiste vrou in die heelal aangewys. Hierna het Australië in 1972 gevolg en Venezuela in 1981.

Indië het in 1994 en weer in 2000 die dubbele oorwinning behaal. Aishwarya Rai het in 1994 met die Mej. Wêreld-titel weggestap en Sushmita Sen is as Mej. Heelal gekroon.

View this post on Instagram

?????

A post shared by AishwaryaRaiBachchan (@aishwaryaraibachchan_arb) on

Hul landgenoot Priyanka Chopra is in 2000 as Mej. Wêreld gekroon en Lara Dutta, ook van Indië, het dieselfde jaar met die Mej. Heelal-titel weggestap. Priyanka is deesdae 'n Hollywood-ster en is met die sanger Nick Jonas getroud.

Hopelik kan ons eie Sasha-Lee ook nou ook met die kroon wegstap wanneer sy Saterdag aan die Mej. Wêreld-kompetisie in Londen deelneem. 


Die geheime wapen agter ons nuwe Mej. Heelal Zozi en Sasha-Lee is ook alreeds in Londen. Hul stilis, Werner Wessels, het onlangs ’n foto van hom en Stephanie Weil in die Britse hoofstad gedeel.

Werner en Stephanie, die stigter van Weil Entertainment wat vanjaar die Mej. Suid-Afrika-kompetisie aangebied het nadat Cell C se kontrak geëindig het, is daar om Sasha-Lee te ondersteun nadat hulle ’n paar dae gelede in Atlanta, Georgia, in Amerika was om Zozi se kroningsoomblik te beleef. 

Suid-Afrikaners word steeds aangemoedig om vir die beeldskone Sasha-Lee te stem, wat teen 130 lande om die gesogte titel meeding. Dit sal haar kans verbeter om die vierde Suid-Afrikaner te word om die Mej. Wêreld-titel te verower. 

Die eerste Suid-Afrikaner wat met die Mej. Wêreld-titel weggestap het, was Penny Coelen in 1958.

Sestien jaar later, in 1974, het Anneline Kriel Mej. Wêreld geword nadat die wenner, Helen Morgan van Wallis, vier dae na haar kroning die kroon moes afgee nadat dit aan die lig gekom het dat sy ’n enkelma is van ’n 18 maande oue seun.

Die beeldskone Rolene Strauss is vyf jaar gelede in 2014 as Mej. Wêreld gekroon. Die kompetisie is ook toe in Londen gehou. 

STEM SO OM SASHA-LEE IN DIE TOP-20 TE KRY 

HOE OM TE STEM 

  • Besoek die Mej. Wêreld-webtuiste by www.missworld.com op jou selfoon.
  • Soek vir Suid-Afrika se Sasha-Lee.
  • Teken in deur Facebook of Twitter te gebruik.
  • Wanneer jy terug gevat word na die webtuiste kan jy stem.
  • Let ook op dat die uitsaaityd van die Mej. Wêreld-kompetisie verander het. Dit sal nou om 17:00 op SABC 3 uitgesaai word. Aangesien Suid-Afrika twee ure voor Londen is, beteken dit dat die uitsending van die kompetisie met ’n uur vertraag is. 
EKSTRA BRONNE: ANGELOPEDIA.COM, CHANNEL24.