Maar nadat hy sy werk verloor en ’n jaar lank sonder betaling by ’n vriend gewoon het, het hy Survivor SA: Philippines beskou as ’n manier om weer op sy voete te kom. 

Tom Swartz is lief vir die natuur en wou bewys sy oorlewingsvaardighede kan hom deur 39 dae op ’n afgeleë eiland kry.

Hy het meer as dit reggekry – hy het die kompetisiereeks in 2018 gewen.

Tom was nie almal se gunsteling nie, maar ná ’n wipwaentjierit-ervaring in die werklikheidsreeks, is hy as die wenner van die sesde seisoen van Survivor SA aangewys en het hy met die prysgeld van R1 miljoen en ’n elektroniese geskenkpak weggestap.

Huisgenoot het met die 43-jarige man gesels om uit te vind hoe sy lewe verander het sedert hy die groot prys gewen het. 

“Ek het beplan om ’n huis te koop wat nooit weer van my of my gesin weggeneem kan word nie, want ons het al tevore ’n huis verloor en op straat beland,” sê hy.

“Dit was een van die eerste dinge wat ek gedoen het – ’n deposito neersit op ’n huis. Ons het die huis gekoop en woon vandag nog daar.”

Nadat hy die dak oor hul kop verseker het, het Tom die res van die geld belê vir finansiële stabiliteit. Hy wil nog belê in kosmetiese chirurgie vir sy vrou, Nicci, sê hy.

“Ek het die res van die geld belê en kry ’n baie goeie opbrengs. Die R1 miljoen is op die huis en beleggings bestee.

“Ek het my vrou belowe ek sou vir haar nuwe borste betaal. Ons het dit nog nie gedoen nie, maar beplan beslis om dit te doen. Ek glo dis ’n belegging in ons toekoms,” sê hy. 

Hy is nou ’n verkoopsman vir ’n onderneming in die masjienbedryf in die Port Elizabeth-gebied.

Tom geniet steeds die opwindende dinge in die lewe en werk daaraan om sy passie te deel deur ’n TV-program oor bekostigbare, prettige kampeerterreine.

En as ons gelukkig is, kan dit binnekort op die kassie te sien wees.

“’n Vervaardigingsmaatskappy het ons gevra om vyf verskillende plekke te verfilm en hulle sal dan kyk of hulle dit wil uitsaai. Ek is baie opgewonde.”

Tom glo Survivor SA het hom voorberei vir die coronavirus-pandemie. Hy het houtware vir vriende en familie gemaak om hom deur hierdie onsekere tyd te kry en deel wenke wat hy tydens die program gebruik het en glo ook nuttig vir mense tydens die inperking sal wees.

“Die afsondering is net so moeilik soos op die eiland. Jy kan nêrens gaan nie, jy sien dieselfde mense elke dag en julle begin gefrustreerd raak met mekaar. As jy dit deur COVID-19 kan maak, kan jy Survivor oorleef.”

Hier is Tom se topwenke:

WENK 1

Hou kop 

“Jou grootste vyand, of jy Survivor of COVID-19 probeer oorleef, is jou gedagtes. Jou kop speel die grootste speletjies met jou, en as jy jouself besig hou, is jy veilig. Probeer positief bly, hou jou onderbewussyn positief. Hou die gedagtes besig, want dit kan jou grootste vyand wees.”

WENK 2

Bring tyd saam deur/reik uit na geliefdes

Hoewel Tom geskei was van sy gesin – sy vrou, Nicci, dogter Yasmin en seun Dyllan – het hy tydens Survivor tyd afgestaan om aan hulle te dink en vir hulle goeie wense tydens sy oomblikke van meditasie te stuur.

“COVID-19 is ’n nagmerrie vir talle klein ondernemings en families en ek begryp dit. Maar saam met die slegte dinge kom die goeie. Ons kon tyd saam met ons gesinne deurbring – goeie gesinstyd waar ons kon gesels. Die lewe raak so besig, daar is Xbox, daar is WhatsApp, dit raak so besig dat jy weggelei kan word van al die belangrike dinge. Met COVID-19 is ons saam, ons eet drie etes per dag saam as gesin, iets wat ons nooit tevore gedoen het nie . . .”

WENK 3

Kom in voeling met jouself 

“Wat ook al jou godsdiens; dis nou die tyd om meer tyd af te staan aan leer en kennis bekom. Lees daardie boek oor ’n positiewe ingesteldheid, fokus en mediteer oor die dinge wat jy wil verander.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe