Eksentriek en flambojant met ’n vlymskerp humorsin wat selfs die Vogue-yskoningin Anna Wintour kon laat giggel – dis hoe die binnekring van die modebrigade die ikoniese ontwerper Karl Lagerfeld sal onthou. Dit en natuurlik ook sy kenmerkende voorkoms: die spierwit poniestert, alomteenwoordige donkerbril en vingerlose leerhandskoene.

Karl Lagerfeld
Karl in Maart 1984 in sy kantoor in Parys besig met die finale afwerkings aan ’n Chanelreeks. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die modewêreld rou nadat dié legende – wie se ontwerpe die loopplank vyf dekades lank oorheers het en wie se naam sinoniem is met Chanel, die ontwerphuis waar hy tot met sy dood die septer geswaai het – onlangs weens pankreaskanker oorlede is.

Maar die modereus was ook erg uitgesproke, en van die beledigings wat hy kwytgeraak het, is amper net so legendaries soos sy ontwerpe . . .

Die man agter Chanel

Karl Lagerfeld
In 1958 as ’n jong modeontwerper. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Nadat die stigter, Coco Chanel, in 1971 dood is, het dié Franse modehuis gesukkel om kop bo water te hou. Die maatskappy is as ’n lewelose handelsnaam beskou tot Karl in 1983 as die kreatiewe direkteur aangestel is.

Dié Duitser is in 1933 in Hamburg gebore, en voor sy aanstelling by Chanel was hy ’n ontwerper vir modehuise soos Chloé en Fendi. Hy het hom aan die herlewing van Chanel toegewy, maar het weggedoen met alles wat Coco ingestel het.

“Sy sou dit wat ek doen, gehaat het,” het hy erken. Maar dit was nodig om in te gryp, het hy geglo. “Die handelsnaam het ’n beeld, en dis my verantwoordelikheid om dit te vernuwe.”

Hy het allermins veilig gespeel: In 1993 het hy ’n opskudding by die Milanese Modeweek veroorsaak toe hy ontkleedansers en ’n porno-ster gebruik het om sy Fendi-reeks te vertoon. Einste Anna, redakteur van die Amerikaanse Vogue, het uitgestorm – maar sy het haar begaafde vriend natuurlik weer mettertyd vergewe.

Huldeblyke – en sy skerp tong

Karl Lagerfeld
Op die loopplank saam met die modelle Linda Evangelista (links) en Claudia Schiffer. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Topmodelle wou saam met Karl werk: Kate Moss, Naomi Campbell, noem maar op, en ná sy dood het die huldeblyke ingestroom. Die voormalige Franse presidentsvrou en model Carla Bruni het hom bedank vir “al die blinkertjies”, en die Duitse model Diane Kruger het laat hoor “ek aanbid jou”.

Victoria Beckham het emosioneel gesê hy was “altyd so gaaf en vrygewig teenoor my”, en die sangeres Lily Allen het gesê: “Jy het my soos ’n prinses laat voel.” Maar te midde van die lofsange het die Britse model Jameela Jamil laat deurskemer hy het ook ’n donkerder kant gehad.

Sy het hom ná sy dood as ’n “onderdrukker” en ’n “genadelose, vetfobiese vrouehater” beskryf. Die model Cara Delevingne het teruggekap: “Jy het duidelik nie die man geken nie.”

Tog getuig sekere opmerkings van Karl van daardie nare streep waarna Jameela verwys het . . . Hy het die sangeres Adele “ ’n bietjie te vet” genoem en na prinses Diana as “dierbaar maar dom” verwys.

Kate, die hertogin van Cambridge, was volgens hom ’n “skoonheid”, maar oor sus Pippa het hy gesê: “Ek hou nie van haar gesig nie. Sy moet net haar agterkant wys.”

Hy het selfs sy minagting teenoor die Me Too-veldtog teen seksuele teistering uitgespreek. “Ek is keelvol daarvoor,” het hy laat hoor. “Wat my die meeste skok, is die sterretjies vir wie dit 20 jaar geneem het om te onthou wat gebeur het.”

’n Ander soort liefde

Karl Lagerfeld
Jacques de Bas­cher saam met Karl. Foto: AAI/Fotostock SA.

Sy jare lange geliefde was die Franse model Jacques de Bascher, maar dié twee het nooit saamgeslaap nie. “Ek hou nie daarvan om te slaap by mense wat ek werklik liefhet nie. Seks kan nie hou nie, maar die liefde kan vir ewig duur,” het Karl verduidelik.

Karl en Jacques was 18 jaar lank saam en die ontwerper was aan sy modelmaat se sy toe hy in 1989 weens kanker oorlede is.

Nee vir pels en vleis

Karl Lagerfeld
Karl was die direkteur van die Italiaanse pels- en leermaat­skappy Fendi, maar het self nooit pels gedra nie en byna nooit vleis geëet nie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hoewel Karl die kreatiewe direkteur van die Italiaanse pels- en leermaatskappy Fendi was, het hy nooit pels gedra nie en byna nooit vleis geëet nie. Hy het in 2001 amper 50 kg afgeskud deur ’n dieet te volg wat die Fransman dr. Jean-Claude Houdret spesifiek vir hom geskep het.

Volgens die dieet moes hy suiker, room en rys prysgee. Dit is later in die boek The Karl Lagerfeld Diet saamgevat.

Die ware liefde van sy lewe

Karl Lagerfeld
Karl en sy kat, Choupette. Foto: Instagram/@Karllagerfeld.

Karl se kat, Choupette, was sy groot liefde. Hy het erken hy sou met haar getrou het as hy kon. Die kat het saam met hom aan tafel geëet en twee bediendes gehad wat aan haar behoeftes moes voldoen. “Hulle speel met haar, versorg haar pragtige wit hare en doen skoonheidsbehandelings vir haar oë,” het Karl vertel.

Choupette is self ’n Instagramsensasie en spog met meer as 290 000 volgelinge. Sy is ná haar eienaar se dood in ’n swart hoed en sluier gekiek met die onderskrif: “Met ’n eens koue maar nou gebroke hart gaan ek in rou. Ek bid dat jul mooi woorde my sal help om die beste poot voor te sit in my toekoms sonder pappa en as my eie vrou.”

Ná ’n luukse lewe

Karl was bang vir die dood en het geglo dit is “afgryslik” om begrawe te word. “Dis aaklig om mense met jou oorskot te belas,” het hy in 2015 aan ’n Franse televisiestasie gesê. Hy sal glo veras word en volgens sy wens sal sy as “saam met dié van my ma en Choupette as sy voor my sterf”, gestrooi word.

Die modeontwerper was na raming sowat R2,7 miljard werd en het glo ’n groot deel van sy fortuin aan sy geliefde kat nagelaat. Hy het 300 iPods en 2 400 wit hemde besit en soveel boeke gehad dat dit glo rakruimte van 5 km beslaan het.

Karl Lagerfeld
Karl saam met sy peetkind, Hudson Kroenig. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hy besit eiendom in Amerika en Parys en Biarritz in Frankryk, sowel as ’n dakwoning in Monaco, waar hy glo een badkamer soggens en ’n ander een saans gebruik het.

Benewens sy kat is nog een van sy erfgename glo sy peetkind, Hudson Kroenig, die 10-jarige seun van die Amerikaanse model Brad Kroenig. “Sy gesig is soos ’n venster,” het Karl eenkeer oor die seun opgemerk, “daar is iets soos sonskyn daarin.”

Karl het voor sy dood geglo sy nalatenskap sou voortleef. “Ek het altyd geweet ek is gemaak om so te leef,” het hy al gesê, “dat ek hierdie soort legende sou wees.”

Sy sêgoed

  • ‘Sweetpakbroeke is ’n teken dat jy tou opgegooi het. Jy het beheer oor jou lewe verloor, toe koop jy ’n sweetpakbroek.’
  • ‘Die lewe is nie ’n skoonheidskompetisie nie – sommige lelike mense is wonderlik. Maar ek verpes nare lelike mense. Die ergste is lelike, kort mans.’
  • ‘Ek het geen menslike gevoelens nie.’
  • ‘Ek is baie plat op die aarde – net nie op dié aarde nie.’ 

Bronne: Standard.co.uk, Telegraph.co.uk, Theguardian.com, Thespec.com, Thecut.com, Mirror.co.uk