Sy het aangevoer dat Derick en hul kinders nêrens te vinde is nie. Nadat sy twee foto’s van Derick en hul twee seuntjies op Instagram gelaai het, ’n video waarin sy oor haar seuntjies huil en nog ’n Instastory-foto van Derick op Instagram gelaai het, wou sy Woensdag geen verdere kommentaar oor dié voorval lewer nie.

“Sy gaan geen verdere kommentaar lewer nie,” het ’n vrou wat Karlien se selfoon beantwoord het aan Huisgenoot gesê.

Hierna het sy uit Fiela se Kind (met ’n foto van Shaleen Surtie-Richards wat dié rol gespeel het) op Instagram en Facebook aangehaal: “God vergeef ons baie dinge, maar Hy vergeef ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.”

Hierby gebruik sy ook die hutsmerke #Vireensenviraltyddiewaarheidisuit en #Vry.

Haar kinders het die Spar Carols by Candlelight aangebied deur Jacaranda FM by Loftus Versfeld in Pretoria saam met hul pa bygewoon waar Derick se vriendin, die sangeres Nádine, ook opgetree het.

“Ons het hulle gekry. Baie dankie aan die polisie en almal wat gehelp soek en bid het,” het sy minute later in nog ’n inskrywing op Instagram geskryf. Sy het intussen die vorige inskrywings en foto’s van Derick van haar Instagramprofiel verwyder.

Nádine het nie op Huisgenoot se herhaaldelike navrae gereageer nie. Derick se ouers op Piketberg het ook nie een hul foon geantwoord nie.

Derick het op Twitter teruggekap: “Blykbaar is daar chaos oor my kinders wat 'weg' was. Terwyl hulle veilig langs hul pappa geslaap het vanaand. Dit was voor Karlien se ma hulle kom gryp het.”

Hy het intussen in ’n twiet wat later verwyder is na Karlien as ’n “slegte mens” verwys.

Hy twiet aan Karlien se ma en bestuurder, Ronel Brink, dat Ronel ’n “#***!!!!!” is.

“En Karlien is al 30, maar net haar ma kan haar k*k uitsorteer. Enigiemand wat haar ken. I rest my case . . . 

Derick het hom na Twitter gewend om sy kant van die saak te stel.

Ronel het Woensdag aan Huisgenoot gesê sy gaan “in dié stadium geen verdere kommentaar lewer nie”. 

Maar Ronel het gisteraand op Instagram gesê sy het Dinsdagaand “gedoen wat enige ouer of grootouer sou doen as hulle die belange van hul kinders op die hart dra”.

Karlien se ma, Ronel Brink, het op Instagram reage
Karlien se ma, Ronel Brink, het op Instagram reageer.

“Ek sal dit weer en weer en weer doen. Ek sal met my lewe baklei vir my kinders en kleinkinders. En dié wat my persoonlik ken, sal weet ek praat die waarheid. Nadat Derick weer, soos verskeie kere in die verlede, nie die volle prentjie in die sosiale media gee nie, het ek besluit om te praat.” skryf Ronel.

So het alles versuur (Huisgenoot 3 September 2015)

Karlien van Jaarsveld en Derick Hougaard se liefdesreis het laat in 2015 tot ’n einde gekom. In Huisgenoot se uitgawe van 3 September 2015 kyk ons hoe dit ontvou het. 

Reeds met hul eerste verskyning saam in 2011 het hulle die verbeelding aangegryp. Die aantreklike jong rugbyspeler en die beeldskone blondekopsangeres.

Toe hulle in Maart 2013 op ’n reënerige Bolandse oggend aan mekaar trou beloof en sy aan hom belowe “ek is hier om te bly”, het aanhangers saam gehoop dít is die een huwelik wat sal hou.

Maar nou, twee en ’n half jaar later, is die droom aan skerwe. Karlien van Jaarsveld (29) het self die nuus bekendgemaak dat sy en Derick Hougaard (32) gaan skei.

In hul tydjie saam het hulle meer deurgemaak as wat baie mense in ’n leeftyd ervaar. Soms was hul pad vol seëninge: die geboorte van tweelingseuns, Daniël en Eliah (nou 20 maande oud); Karlien se opkoms as musiekfenomeen en sege in Strictly Come Dancing.

Met ander tye was hul pad met hartseer besaai. Karlien se swangerskap met hul dogtertjie, Evah, het ná 19 weke op ’n miskraam uitgeloop.

Die duiwel van depressie het Derick hard gery ná die einde van sy rugbyloopbaan.

Terugskouend klink Derick se troubelofte aan Karlien soveel te meer tragies.

“Ek sal alles doen om altyd my pad terug te vind na jou,” het hy destyds voor die kansel gesê.

“Maar asseblief, onthou, ek is net ’n man. Vir ewig is woorde wat ’n mens bang maak. Ek is ook bang, maar bang vir ewig is te kort saam met jou.”

Die rede in al sy kompleksiteit hoekom dié ewigheid saam hulle toe nie beskore was nie, sal eindelik in hul binnekamer toegesluit bly. Vir eers is daar net die berg van hartseer waardeur hulle moet werk terwyl hulle die eerste wankeltreë na ’n lewe sonder mekaar gee.

20 OKTOBER 2011

Die begin van die sprokie. In Oktober 2011 gesels Karlien vir die eerste keer met Huisgenoot oor haar verhouding met Derick.

‘‘Ons ken mekaar al jare, maar is nou drie maande lank ’n paartjie nadat ons mekaar weer by ’n troue raakgeloop het,’’ vertel sy.

26 APRIL 2012

In hul eerste onderhoud saam vertel ’n dolgelukkige Derick en Karlien van hul warrelwindromanse. Hulle is toe al agt maande ’n paartjie.

Toe hulle mekaar ontmoet, het Karlien nie geweet Derick is die Liefling van Loftus nie.

‘‘Ek het nie rugby gekyk nie,’’ bieg sy.

‘‘Ek het een oggend wakker geword en besef: ek wil nie sonder Karlien leef nie,” sê Derick.

“Daar’s belangriker dinge as rugby . . . soos die liefde!’’

26 JULIE 2012

Karlien onthul sy kan haar stem verloor as sy nie behoorlik rus nie, want nodules het op haar stembande gevorm. Sy moes agt vertonings afstel en ateljee-opnames vir haar nuwe album uitstel.

“Dis ’n hengse terugslag,’’ sê sy. ‘‘Maar dis dalk die Here se manier om te sê ek moet dit rustiger vat, want ek het die laaste tyd 10, 12 optredes per maand gedoen.’’

Derick is in dié moeilike tyd haar steunpilaar. Hy het ’n jaar tevore drie operasies ondergaan weens ’n rugbybesering wat sy loopbaan kortgeknip het.

25 OKTOBER 2012

Dis ’n maand voor die troue, maar Karlien word sonder haar Jenna Clifford-diamantverloofring gewaar. Die skindertonge gons kliphard.

Kort voor lank volg die aankondiging van haar ma en bestuurder, Ronél Brink: Derick en Karlien se verlowing is verbreek.

“Karlien en Derick gaan nie daaroor praat nie,” sê sy. “En daar is geen skandes nie. Dit was net ’n moeilike besluit wat hulle weet die regte ding was om te doen.”

1 NOVEMBER 2012

Hul verlowing is op die rotse en Derick sit met ’n gebroke hart in die spoghuis wat hy in Pretoria vir hom en Karlien gekoop het.

‘‘Saans raas die stilte,’’ vertel hy. ‘‘Sy was my alles. My hart is gebreek.’’

Tydens 'n onderhoud met Huisgenoot het Derick vertel van die stilte wat saans 'raas'.

Hy is ongeskeer en weerloos, veral wanneer hy praat oor Karlien, wat hul verhouding verbreek het. ‘‘Ek was geskok, want ons verhouding was so na aan ’n sprokie as kan kom. Alles was so perfek,” vertel hy.

Daar is by hom geen bitterheid nie. Hy praat met bewondering en duidelike liefde van die vrou wat hom afgesê het.

“Karlien is een van die beste mense wat ek ken. Sy het my geleer wat ware liefde is.”

21 MAART 2013

Al was hul liefdespad met dorings besaai, raak Karlien en Derick versoen nadat hul verlowing verbreek was. Op die wynlandgoed Brenaissance by Stellenbosch lê hulle eindelik hul troubeloftes af voor sowat 140 gaste, onder wie bekendes soos Robbie Wessels, Theuns Jordaan en Arno Jordaan.

Op die wynlandgoed Brenaissance by Stellenbosch lê hulle eindelik hul troubeloftes af voor sowat 140 gaste.

Die prediker, Saar Zaayman, sê in haar boodskap: “Trek jou skoene uit wanneer jy deur jou maat se hart loop. Teerheid is ’n ontsaglike mag. Harte is breekbaar. Wees versigtig.”

11 APRIL 2013

Luilekker dae op die strand, inkopies in oorvloed . . . Die pasgetroudes is in vervoering op hul wittebrood. Eers is dit ’n luukse villa in stelte bo die see in die Maledive. Daarna die inkopieparadys Doebai, waar hulle ook ’n woestynsafari aanpak.

“Ek is so geseën,” borrel Derick. “Ek het met my beste vriendin getrou en ons het tot dusver ’n ongelooflike reis gehad.”

Luilekker dae op die strand, inkopies in oorvloed . . .

6 MAART 2014

Karlien en Derick wys vir die eerste keer hul skattige tweeling, Daniël en Eliah, toe 10 weke oud. Die trotse ouerpaar verkyk hulle aan die kleingoed.

Daniël en Eliah (10 weke oud).

“Ek laaik hul voetjies, tot die voutjies op hul hande,” sê Derick.

“Hulle is perfek, perfek, perfek.”

18 DESEMBER 2014

Die tweeling vier hul eerste verjaardag met ’n partytjie met ’n swembadtema by Derick en Karlien se huis in Pretoria.

Karlien sê: 'My kinders is vir my soveel pret. Dis vir my lekker om tyd saam met hulle deur te bring. Hulle maak my lewe vol.'

Derick is versot op die tweeling en erken hulle het sy lewe verander, maar hy voeg by dit is vir hom belangrik dat Karlien steeds nommer een bly.

“Ek glo ’n gesonde huwelik is die grondslag van ’n gesonde gesinslewe.”

29 JANUARIE 2015

Karlien het hul ongebore babadogter, Evah, op 15 Januarie verloor.

“Gister was die slegste dag van my lewe, maar Vader, dankie dat ek haar 19 weke lank kon dra,” skryf sy op Facebook.

Derick verwoord ook sy gevoelens: “Ek en jou ma is nader aan mekaar. Jy het alles herstel waaroor ons getwyfel het.’’

18 JUNIE 2015

Nadat sy geheue begin sukkel het, is Derick hospitaal toe vir breintoetse om vas te stel of hy in sy rugbydae sy brein beskadig het.

Karlien was hard aan die werk met Strictly Come Dancing en het boonop die hoofrol in die musiekblyspel Aspoestertjie: Pantomime
vertolk. Sy kon Derick dus nie gereeld in die hospitaal besoek nie.

Die toetse het geen permanente breinskade uitgewys nie, maar dokters het bevestig hy sal nooit weer kan rugby speel nie. Hy het pille vir depressie gekry.

In ’n openhartige onderhoud vertel Derick hy en Karlien sien mekaar op die oomblik maar min.

“Ek sal jok as ek sê dit gaan altyd in tye soos hierdie goed met my en met ons."

Hy vertel ook oor sy hartseer na die miskraam.

“Ek het net begin huil en huil en huil.”

25 JUNIE 2015

Strictly Come Dancing neem Karlien se dae in beslag. Sy werk haar boeglam om haar bes te kan gee. Al ondersteun haar familie haar, sukkel sy om genoeg tyd met haar gesin deur te bring.

20 AUGUSTUS 2015

Haar beker loop oor – sy het Strictly Come Dancing gewen! En al was dit net blink liggies en glimlagte voor die kameras, vertel Karlien sy het tydens die reeks klippe gekou.

“Voor die kameras het ek my hart uitgedans, maar wanneer ek laat saans huis toe gery het, het ek my oë uitgehuil omdat ek my kinders so min sien. En ek weet ek het Derick afgeskeep.”

24 AUGUSTUS 2015

Karlien maak die nuus dat sy en Derick gaan skei in ’n mediaverklaring bekend.

“Vir ’n tyd lank het ek nie geweet hoe om hierdie met almal te deel nie. Ek het nou al baie gedink oor hoe, waar en wanneer. Maar die een of ander tyd sal dit uitkom. So ek deel dit eerder self met julle.

“Ek en my man, Derick, skei. Dis ‘n moeilike tyd vir ons almal en ons hoop dat elkeen wat dit lees ons privaatheid in die tyd sal respekteer.

“Dankie vir julle liefde en ondersteuning in alles.”

FOTO'S: LUBABALO LESOLLE, MARTIN DE KOCK, PAPI MORAKE, SEAN BRAND, TWITTER FACEBOOK, INSTAGRAM