Die sangeres het dié nuus Woensdagoggend aan Huisgenoot bevestig. Sy is 13 weke swanger.

“Ons het al op vier weke gehoor ek is weer swanger,” vertel sy.

“Ons was geskok, maar ook baie gelukkig daaroor – nie een van ons kinders was beplan nie. Maar dis wonderlike nuus en ons kan nie gelukkiger daaroor wees nie.”

Sy het tot dusver ’n baie gesonde swangerskap, vertel Karlien.

“Almal weet van ons uitdagings met my vorige swangerskappe. Met elkeen van hulle het ek al voor 12 weke begin bloei. Tot dusver was die Here vir ons baie goed – ek het nog geen gesondheidsuitdagings ervaar nie.”

Ook Joe Breytenbach – Karlien se man – is in sy noppies oor die nuus. En klein Elah (2), Daniël en Eliah (byna 6), kan ook nie wag vir die jongste toevoeging tot hulle gesin nie.

“Hierdie keer hoop ons nie vir ’n dogtertjie of seuntjie nie – ons hoop net vir ’n gesonde baba,” vertel Karlien.

“My grootste wens is dat ek hierdie een ’n volle swangerskapstermyn kan dra. Die langste wat ek nog swanger was, was 34 weke – en elkeen van my kinders was ná hulle geboorte in die hoësorgeenheid.”

Karlien en Joe besoek gereeld die dokter om seker te maak dat alles met die swangerskap goed verloop.

“Dis vir ons baie belangrik om hierdie tyd te geniet – maar ons weet ook dat ons moet versigtig wees omdat elkeen van my vorige swangerskappe so moeilik was. Maar God is goed en groot; en ons is net dankbaar dat ons nog ’n keer met ’n klein wonderwerkie geseënd is.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.