“My hart is bitter seer. Elah is ernstig siek en is opgeneem in die hospitaal,” het Karlien Vrydag op Instagram en Facebook laat weet.

Die blondekop sangeres sou Vrydagaand in Stilbaai opgetree het, maar het ook haar vertonings in Langebaan en Herholdsbaai oor die naweek gekanselleer om by haar dogtertjie te wees.

“Ek hoop julle sal verstaan dat my eerste prioriteit altyd my kinders sal wees en dat dit (die) enigste rede is waarom ek hierdie shows kanselleer. Ek moet by haar wees. Vergewe my asb.,” skryf sy.

“Ek sal opmaak hiervoor, maar vir nou wil ek net by my dogtertjie uitkom. Baie liefde,” sluit Karlien die inskrywing af.

Die medelye vir Karlien en baba Elah het vinnig in die sosiale media ingestroom.

“Jou kinders kom eerste en ek weet jou aanhangers sal verstaan. Sterkte,” het een persoon op Facebook gesê.

“So jammer om te hoor Karlien. Ek hoop sy word gou gesond. Baie sterkte,” het nog 'n aanhanger laat hoor.

Een van Karlien se volgelinge op Instagram het ook uitgewys dat Karlien 'n moeilike 2018 agter die rug het. “Ai Karlien. Sterkte, hou ons op hoogte. Nie die beste jaar van jou lewe nie,” skryf sy.

Karlien het vroeër vanjaar in Junie op Jacaranda FM vertel dat Elah 'n gesondheidsprobleem opgedoen het en dat dit haar lewe “drasties verander” het. Sy wou nie uitbrei oor wat die siekte behels nie, en Karlien se ma, Ronel Brink, wou ook nie bevestig of Elah se jongste besoek aan die hospitaal daarmee verband hou nie.

Ronel het aan Huisgenoot gesê sy wil nie enige verdere kommentaar oor die voorval gee nie en het gesê dat Karlien alles wat sy wou sê by haar sosiale media-inskrywings ingesluit het.