In ’n rooi aandrok met ewe rooi lippe en hoë hakke daarby lyk Karlien van Jaarsveld vandag pure Hollywood-ster. Dis net blonde hare en lang bene toe die ma van drie soos ’n supermodel vir Huisgenoot se voorblad poseer.

Ondanks al die mooimaak en glans dwaal haar aandag gedurig af na haar twee maande oue dogtertjie, Elah. Sy gee haar ’n bottel, ruil haar doek om of koer liefderik wanneer haar poppie – of “Sussiepop” soos haar twee boeties haar noem – sagte kreungeluidjies in haar slaap maak.

“Om ’n ma te wees is my gunstelingrol ter wêreld,” sê die sangeres blinkoog. As sang nie vir haar ’n roeping was nie, sou sy maklik net ’n ma kon wees, vertel sy.

“Dis vir my die beste tye wanneer ek saam met my man en kinders by die huis is. Dis waar ek op my gelukkigste is,” sê Karlien (32), wat begin vanjaar met Joe Breytenbach (33) getroud is.

Wanneer sy op die verhoog moet wees, gaan klein Elah saam. Net ses weke ná haar geboorte op 7 Oktober het haar ma in al nege Afrikaans Is Groot-vertonings verskyn.

Ondanks die musiek, geraas en geskarrel om haar het die baba rustig agter die skerms lê en slaap. Tussen haar optredes deur het Karlien vir haar melk aangemaak, haar gevoed, doeke omgeruil en haar aan die slaap gesus.

In die feestyd tree sy ’n paar keer op, maar dit is ook lekker bedrywig by die huis, want haar tweeling, Eliah en Daniël, is nou vier jaar oud en regte woelwaters.

Sy kan haar nie indink wat sy met haar tyd gedoen het voor haar kinders in haar lewe was nie, sê Karlien.

“Wanneer my kinders vir ’n dag by my ma (Ronel Brink) gaan kuier, voel die huis leeg. Ek kan nie sonder daai geskree, geraas, gehardloop en gehuil in my huis nie. Dis mal en ’n sirkus, maar dis presies hoe ek dit wil hê.”

Die pragtige ma het skaars twee maande ná haar jongste se geboorte weer haar eksieperfeksie figuur. Karlien reken dis aan “goeie gene” te danke, want sy oefen glad nie op die oomblik nie en eet ook nie juis gesond nie.

Skaars twee maande ná haar jongste se geboorte is Karlien se figuur weer eksieperfeksie.

Daarby is sy lief vir soetgoed. Sy probeer darem gesonder eet wanneer ’n groot konsert of musiektoer voorlê.

Ná die koms van haar twee seuns was dit vir haar ’n groot oomblik toe sy uitvind sy gaan ook ma van ’n dogtertjie word.

“Ek was baie opgewonde omdat ek Evah verloor het en so graag ’n dogtertjie wou hê.”

Evah is die dogtertjie vir wie sy en haar eksman, Derick, reeds ’n naam gehad het toe Karlien in Januarie 2015 op 19 weke ’n miskraam het.

Evah sal altyd haar eie plek in my hart hê wat niemand sal kan vul nie.

“Dis vir my lekker om nou met Elah te ervaar hoe dit is om ’n dogtertjie te hê. Maar ek weet ook die twee sussies se persoonlikheid sou verskil het,” sê sy met trane wat in haar oë opwel. Dan sê sy: “Evah sal altyd haar eie plek in my hart hê wat niemand sal kan vul nie.”

Aan Karlien se linkerpols is Evah se naam en sterfdatum getatoeëer. Sy het die tatoe later uitgebrei met ’n swaeltjie wat op ’n draad sit terwyl nog ’n swaeltjie vry duskant die draad vlieg.

“Dit simboliseer hoe ek altyd vir haar sal wag en sy nou vry is.”

Aan Karlien se sy is ’n tatoe van haar man se volle name en van. Die pynappel aan haar regterarm is hul simbool vir liefde. Sy het ook ‘n tatoe van Evah se naam en geboortedatum aan haar linkerpols. Sy het later twee swaeltjies laat byvoeg. Foto: Martin de Kock

Op die dag dat Huisgenoot met Karlien gesels, sou Elah net twee weke oud gewees het as sy op haar verwagte ge­boorte­datum haar opwagting gemaak het. Maar toe word sy ses weke te vroeg gebore.

Karlien was by die huis in Pretoria-Oos toe haar water breek. Omdat die vrug­water nie erg uitgestort het nie, was sy onseker daaroor.

Koel en kalm het sy self hospitaal toe gery, waar ’n ginekoloog bevestig het dit is wel die vrugwater.

Sy is in die hospitaal opgeneem in die hoop dat hulle die geboorte kon uitstel, maar die volgende dag is ’n nood­keisersnee uitgevoer.

Elah is op 33 weke gebore. Sy was van haar kop tot toontjies 47 cm lank en het 2,2 kg by geboorte ­geweeg.

“Ek kon haar net vinnig vashou en haar ’n soentjie gee voor sy na die waak­eenheid geneem is,” vertel Karlien.

Die volgende 19 dae sou sy daar moes aansterk. Haar ouers het in dié tyd heen en weer tussen hul huis en die hospitaal in Pretoria-Oos gery en ure lank by haar in die waakeenheid deurgebring.

“Dit was die vreemdste gevoel. Nadat sy weke lank in my maag was, het dit amper onnatuurlik gevoel om nie heeltyd by haar te kon wees nie,” verduidelik Karlien.

Sy het Eliah en Daniël soggens by die kleuterskool afgelaai en dan dadelik hospitaal toe gery.

Smiddae om drieuur het sy die seuns weer by die skool gaan oplaai en dan by die huis tyd saam met hulle deurgebring.

Wanneer hulle teen seweuur in die bed was, het sy en Joe weer hospitaal toe gery om oor hul Elah, so klein soos die fynste poppie, te waak.

“Dit was vir my net so ’n onaangename ervaring soos toe die tweeling destyds in die waakeenheid was,” onthou Karlien die moeilike tydjie nadat hulle in 2013 meer as ’n maand te vroeg gebore is.

“Maar ek moet erken dit was dié keer ’n klein bietjie makliker omdat ek al voorheen die proses deurgemaak het,” voeg sy by.

Joe was in dié tyd haar rots.

#Dogter #Skoonseun #LiefdeInItalië ??

A post shared by Ronel Brink (@ronelbrink1) on

“Hy is die stabielste mens wat ek ken. Hy raak nie opgewerk of senuweeagtig nie. Dit is sy eerste baba en die eerste keer dat hy alles beleef, maar hy het net heeltyd gesê: ‘Sy is volmaak, die dokters kyk mooi na haar, en kyk hoe goed is al die verpleegsters vir haar.’

“Elke keer dat ons uit die hospitaal gestap het, het ek gehuil en gesê: ‘Ek kan nie glo ek moet nou my baba hier los nie; dis te erg vir my.’ Joe het my net vasgehou en herinner: ‘Sy is heeltemal orraait. Het jy gesien hoe gelukkig sy is?’

“Hy weet presies hoe om my rustig te hou.”

Elah was ’n week oud toe sy en haar twee boeties mekaar die eerste keer in die waak­eenheid ontmoet.

“Hulle het agter ’n lyn op die vloer gestaan en kon met haar gesels. Dit was ongelooflik hoe sy gereageer het; haar ogies het dadelik begin rondkyk. Dit het gelyk of sy hul stemme herken. Sy moes hulle in my maag gehoor het.

“Toe besoektyd verby is, het hulle gevra of hulle nie net nog ’n klein bietjie met haar kan gesels nie. Dit was so spesiaal,” vertel Karlien.

“Hulle dink dit is hul baba. Wanneer die een sê: ‘Dit is mý baba,’ sal die ander een sê: ‘Nee, dis mý baba.’

“Dis vir my die oulikste om hul gesprekke met haar te hoor: ‘Ons sal jou beskerm; jy moet nooit bang wees nie.’

“Hulle sal by haar op die bed sit en sê: ‘Elah, ek het vir jou iets gekoop en jy gaan so baie daarvan hou.’ Dan gaan haal hulle iets uit hul speelgoedkas en kom wys dit vir haar.”

Karlien weet alte goed hoe kosbaar dit vir ’n suster is om ’n broer te hê. Haar broer, die sanger Bobby van Jaarsveld (30), was “nog altyd my beste vriend, veilige plek en standvastigheid”, sê sy.

Sy is dankbaar dat Elah dié soort vreugde met haar tweelingbroers in dubbelmaat kan beleef.

Met drie kinders in die huis ervaar sy moederskap nou ­anders.

“Dis vir my ­belangrik om almal ewe veel aandag te gee,” sê sy.

Sy doen moeite om tyd in te ruim vir aktiwiteite saam met Eliah en Daniël wat hulle gelukkig maak en stimuleer.

Karlien saam met haar tweeling, Daniël en Eliah. Foto: Instagram
Karlien en manlief Joe Breytenbach toe hul dog­ter­tjie, Elah, ná 19 dae uit die waakeenheid ontslaan word. Foto: Instagram
Karlien met Elah agter die verhoog tydens ’n optrede. Foto: Instagram
2017 was vir haar vol hoogtepunte: Sy het getrou, swanger geraak en ’n dogtertjie, Elah, gekry. Foto: Martin de Kock
Om ’n ma te wees is haar gunstelingrol ter wêreld, sê Karlien Foto: Martin de Kock

Sy en Joe is begin vanjaar in die geheim getroud en het daarna op 29 April ook ’n strandseremonie voor 120 familielede en vriende op Yzerfontein aan die Weskus gehou.

Op laagtepunte wil sy nie fokus nie, sê Karlien. Was dit nie vir haar eie moeilike jeugjare nie, sou sy nie “soveel begrip ­gehad het” vir ander se neerhalende reaksie op haar doen en late nie, meen sy.

Haar en Bobby se ouers is geskei toe hulle nog baie jonk was, hulle was in sewe verskillende skole en het nie ryk grootgeword nie.

“Hoewel dit nie toe maklik was nie, eer ek die Here vir dié tyd. Ek besef dat mense soms dinge uit seer en onkunde sê en doen.”

Wat lê voor in 2018?

Sy en Bobby begin in 2018 aan die tweede seisoen van die VIA-werklikheidsreeks In Jou Skoene skiet.

Sy maak nie Nuwejaarsvoornemens nie.

“Ek sien wel daarna uit om te sien hoe my kinders groter word. En miskien, as dit die Here se wil is, om weer swanger te raak.”

Met dié dat Elah as’t ware agter die verhoog grootword, wonder ’n mens of sy vir die verhoog gebore is.

Droom Karlien daarvan dat haar dogter in ma se voetspore in die musiek­bedryf sal volg?

Haar droom vir al drie haar kinders is “dat hulle van die Here sal hoor wat hulle moet wees”, antwoord Karlien.

“Ek wil hê hulle moet self hoor wat die pad is wat Hy met hulle wil stap. Dit hoef nie ooreen te stem met wat ek dink hulle moet doen nie. Dit is hul eie reis.” 

Daniel en Eliah vier Dinsdag hul vierde verjaardag. "Geluk met julle verjaardag, my 2 manne! Mamma is so bitter diep lief vir julle,” skryf sy. 

Krediete
Stilis: Nadja Nortjé; Hare: Shannon Schoeman; Grimering: Suna Robberts; Rooi rok, Anél Botha Couture; Sagte rooi netromp, Ciska Barnard Couture; Kralewerk-onderstuk, Salomé Couture; Ander twee rokke van net (goud-en-swart en met rooi rose), Salomé Couture; skoene, Luella; Oorbelle, Lovisa. Foto's: Martin de Kock, Instagram