Karlien se Elah in die hospitaal: ‘My hart hang aan flarde’

akkreditasie
Boodskappe van bemoediging stroom in ná die sangeres Karlien van Jaarsveld hartroerende foto’s van haar dogtertjie, Elah (3), in 'n hospitaalbed in die sosiale media gedeel het.

Karlien en haar man, Joe Breytenbach, se skattige kleinding Elah is in Oktober 2017 ses weke te vroeg gebore. Toe hul dogtertjie sewe maande oud was, kom die skokdiagnose: Elah het ’n lewensgevaarlike mediese toestand – ’n bloedklont in die poortaar wat bloed voorsien aan haar lewer, milt, maag en pankreas.

By die eerste van ’n reeks foto’s wat Karlien Sondagoggend op Instagram gedeel het, het sy onthul Elah het skielik siek geraak.

"Elah is vir die eerste keer skool toe en ongelukkig kan iets wat vir 'n normale kind net 'n maagvirus is, Elah se lewe in gevaar sit," skryf Karlien in 'n inskrywing aan haar 275 000 Instagram-volgelinge. "As sy koors kry vanweë wat ook al in die lug is, is die kanse dat sy begin bloed opgooi daar. Ek het haar gaan optel na haar tiende skooldag in haar lewe. Sy was warm en het opgegooi terwyl ek met 'n trollie vol goed in 'n winkel staan, net na haar tweelingboetie Eliah jogurt op my tekkie gemors het,"skryf Karlien. 

Karlien skryf verder as Elah opgooi weet sy altyd dis moontlik gevaarlik, as gevolg van die reeds hoë druk in haar portale aar. Karlien het haar "trollie net so gelos" en na 'n dokter gehaas. Dié het vermoed dis moontlik 'n maagvirus, skryf sy.

"Sy het koors gehad en weer die volgende dag opgegooi maar nog geen bloed," vertel sy verder. Teen 18:15 die aand, toe Karlien met klein Elah op haar heup televisiekamer toe stap, het Elah begin bloed opgooi. "Ek en my man ken die dril, dit het ook in Desember 2018 gebeur. Gryp Elah, hardloop kar toe en kom so gou moontlik by haar dokter en die hospitaal uit waar hulle haar elke drie tot ses maande narkose gee en are bind vir portale hipertensie en trombose."

“By die hospitaal staan ek met bebloede tekkies aan en ‘n kaalbolyf dogtertjie in my arms. Almal spring om te help en begin protokol volg tot haar dokter arriveer,” skryf Karlien by die roerende foto van klein Elah in die hospitaal. "Elah kry twee drips, een moet die inwendige bloeding stop en die ander een gee vloeistof en antibiotika," skryf sy verder.

“Ek lê my driejarige skreeuende dogtertjie vas sodat hulle bloed kan kry. Sy kyk my aan my haar groot groen oë vol trane, haar mondjie sê niks maar haar ogies vra hoekom. Daarna mag ek nie by haar lê nie, ek moet op my eie gaan lê en sy soek haar pappa, maar net een ouer mag by wees in hierdie Covid tydperk,” skryf Karlien verder by ’n foto van Elah wat op haar skouer lê. 

Die ma van vier deel verder sy wou nie hê klein Elah moet sien hoe sy huil terwyl sy haar krulhare vryf nie.

In Desember 2018 moes Elah ook ’n bloedoortapping kry na die are in haar slukderm en maag begin bloei het.

Op 16 Februarie 2019 is Elah uit die hospitaal ontslaan na 'n vergeefse poging om die vernoude aar met 'n aar van elders in haar lyfie te vervang.

Karlien vertel in haar jongste Instagram-inskrywings dat Elah Sondagoggend teater toe moes gaan. "Sy moet negeuur teater toe sodat hulle kan sien waar die bloed vandaan kom en sy moet weer 'n bloedoortapping kry soos in 2018. Sy ken die vloer waar die teater is so goed soos die straat waarin haar ouma bly, die twee bykomende emosies met die herken daarvan is net totaal uiteenlopend," skryf Karlien.

"Die hartseer en vrees op haar gesiggie laat vir my die hoeveelste keer God smeek om hierdie ding vir my te gee en haar gesond te maak.

"Sy skree en baklei tot sy uiteindelik uitpaas van die narkose. Dis elke drie tot ses maande se storie," skryf Karlien.

“Dis swaar om jou kind te sien deur hierdie goed gaan en ek het elke keer die hoop dat wanneer sy vir haar gereelde besoeke teater toe gaan, dat die dokter sal uitkom en sê Elah is genees! Maar vir nou lyk dit in die fisiese nie so nie. Ons stap nog die pad. Dag vir dag,” skryf Karlien. 

Karlien deel ook haar meegevoel met ander ouers wat dieselfde pad stap. “My hart is stukkend vir julle. Ek bid dat daar ‘n liggaam om julle sal wees wat julle arms kan omhoog hou en dat julle ook nooit sal ophou glo in die wonderwerkende krag van God nie. Mag ons Hom sien soos Hy wil hê ons Hom moet sien, want Hy kom nie soos ons Hom verwag nie,” skryf sy verder. 

Karlien se ma en bestuurder, Ronel Brink, het by navraag gesê die familie wil geen verder kommentaar lewer oor Elah se huidige toestand nie.

Talle bekendes het op Karlien se roerende Instagram-inskrywings kommentaar gelewer. Hieronder was die Proteas-krieketspeler Faf du Plessis se vrou, Imari. "Karlien, jy is 'n warrior. Jy het 'n hart van vuur wat van die sterkste mense se verstand te bowe gaan. Jy staan keer op keer in hierdie plek, 'n plek wat die meeste van ons wond as ons net een keer hier gestaan het as ouer," skryf Imari.

"Jy het soveel dankbaarheid in hierdie seisoen van vuur en dit raak soveel harte," skryf Imari, die ma van twee dogtertjies. "Ek het soveel respek vir jou en stuur soveel liefde vir julle."

"Karlien ons tree in," skryf die aktrise Simoné Pretorius. "Bid vir nuwe krag vir julle, comfort vir haar, en genade om jou te dra."

"Ah liefste Karlien . . . liefde, lig en krag," skryf Die Boekklub-akteur Armand Aucamp in die kommentaar-afdeling.

"Liefste mens! My hart voel asof dit versmoor soos ek elke woord lees,"skryf die sangeres Caroline-Grace Brüssow. "Ons bid vir Elah se genesing, dat God haar sal omvou en haar veilig sal hou. Ons bid dat Hy vir julle sal inject met onverstaanbare krag om daar te kan wees vir Elah en mekaar! Al ons liefde."

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees