“Dis ’n ongelooflike groot voorreg en vreugde om vandag haar verjaardag te vier,” vertel Karlien se ma en bestuurder, Ronel Brink aan Huisgenoot.  

“Dit was ’n pad van genade en daarom ons is dankbaar teenoor God,” voeg sy by. 

Klein Elah het volgens haar ouma gister haar verjaardagpartytjie, wat buite Pretoria gehou is, saam met haar tweelingboeties Daniël en Eliah (amper 6), en haar maatjies geniet. 

Ronel het later ’n foto van haar kleindogter op Instagram gedeel om haar geluk te wens. 

“Ellie-liefie. Jy het gister jou partytjie so baie geniet! Vandag is jy ’n volle twee jaartjies oud. Ouma het jou so lief. Jy is ’n lagbekkie. Niemand het ons nog ooit so intens leer bid soos jy nie. Jy is reeds besig om in jou roeping te stap.

“En dis ouma se enigste gebed vir jou (en vir elkeen van my geliefdes) – dat jy  sal wees alles wat God oor jou uitgeroep het van voor die grondlegging van die wêreld.

“God is jou Vader: Van altyd af tot in alle ewigheid. Vandag sê ouma net weer dankie vir Jesus vir jou in ons lewens,” skryf sy. 

Die klein krulkop blonde dogtertjie met blou ogies het sedert haar geboorte talle uitdagings in die gesig gestaar.  

Eers is sy in Oktober 2017 ses weke te vroeg gebore. 

View this post on Instagram

“Ek voel veilig in jou arms” - twee

A post shared by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on

Kort daarna, toe klein Elah net sewe maande oud was, het die eerste groot skok gekom.

Haar ouers moes hoor hul dogtertjie het ’n lewensgevaarlike mediese toestand – ’n bloedklont in die poortaar wat bloed voorsien aan haar lewer, milt, maag en pankreas. 

Elah is sedertdien gereeld in en uit die hospitaal. 

Sy het in Desember oorleef nadat die are in haar slukderm en maag begin bloei het en is op 16 Februarie vanjaar uit die hospitaal ontslaan ná ’n vergeefse poging om die vernoude aar met ’n aar van elders in haar klein lyfie te vervang. 

View this post on Instagram

So ek weet al wat eintlik altyd gedeel word op sosiale media is goeie tye. Maar ongelukkig is dit nie hoe die werklike lewe elke dag lyk nie. Wel myne doen defnitief nie. Ek dink nie my geloof was al ooit so getoets soos in hierdie laaste paar dae nie, om te sien hoe dinge van sleg na slegter gaan en dan steeds te vertrou dat God nog dieselfde is as gister, nogsteeds goed, nogsteeds IN die situasie is, dat Hy nie nou iewers heen verdwyn het of gaan wegkruip het nie, maar steeds langs my sit op hierdie steek-gebergte in die Suide, en my babatjie diep in Sy binne-vlerk bêre. Die langverwagte operasie waarna ek en my man vreeslik opgesien het vir Elah om deur te gaan het gebeur. Al waarna ons uitsien is dat na hierdie massiewe prosedure sy dan uiteindelik gesond gaan wees! Dit laat ons moed hou en deurdruk met als. Elah is 17:30 in teater in, die verwagte teater tyd is 4 ure. 20:00 stap die Dr in by die pediatriese saal, glad nie waar ons hom verwag nie, want ons kry hom by die teater wanneer hy klaar gewerk is op Elah? Ons hardloop hom tegemoet, bang, opgewonde... Hy sê ‘she’s fine, but I couldn’t do anything for her.’ Dit klink of ek nie reg gehoor het nie? Huh? Wat bedoel dr? Sê weer? ‘I couldn’t do the shunt’. ’N duisend vrae skiet op eenslag my kop en hart deur. Maar die een wat die hardste weergalm is, ‘God hoekom?’ Dis onmoontlik. Nee! Ons baba is oopgesny, van die een kant tot die anderkant van haar magie, net om te sien dat die Dr niks vir haar kan doen nie. Haar are lyk helemal anders as wat die radioloog vir die dr. gesê het dit lyk. En so moes hy haar net weer toewerk. So groot sny, met geen verandering. Elah lê in PICU en aansterk. Hulle onderdruk die pyn met sterk medikasie, en sal dit stelselmatig verminder hoe beter dit gaan. My hart is in soveel stukke en trek tou allekante toe. Soveel vrae! Hoe is dit moontlik Here? Hoekom moet Elah deur al hierdie goed gaan? Ek gee minuut tot minuut oor in U arms Here. Eks nie seker hoe om die hele ding te verwerk nie, maar ek weet U is hier. Hoe kan U nie wees nie? U is. Elah, God sal jou genees. Genesing is Syne. Hy sal dit op Sy manier doen. Vir nou moet jy sterk word en ons aanhou bid.

A post shared by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on

Maar ondanks al die uitdagings bring Karlien se jongste met haar lagbekkie en geselsies soveel vreugde in haar ouers en familie se lewens.

“Ons vertrou God vir volkome genesing en toon vandag ons dankbaarheid teenoor hom,” sê Ronel.

Baie geluk Elah!

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.