Sy is die mooiste dingetjie – ’n meisietjie met ’n lagmondjie, blink ogies en krullebol. Haar pa se enigste; haar ma se hart. 

Maar al is klein Elah Breytenbach nog nie ’n jaar en ’n half oud nie, moes sy al groot seer beleef. 

Vir haar ouers, die sangeres Karlien van Jaarsveld en die sakeman Joe Breytenbach, was daar al byna soveel vrees en verdriet as vreugde. 

Eers is Elah in Oktober 2017 ses weke te vroeg gebore, en toe sy sewe maande oud was, kom die skok: Sy het ’n lewensgevaarlike mediese toestand – ’n bloedklont in die poortaar wat bloed voorsien aan haar lewer, milt, maag en pankreas. 

In Desember het Elah oorleef nadat die are in haar slukderm en maag begin bloei het, en op 16 Februarie vanjaar is sy uit die hospitaal ontslaan ná ’n vergeefse poging om die vernoude aar met ’n aar van elders in haar lyfie te vervang. 

Die egpaar oorweeg dit nou om by oorsese spesialiste aan te klop en bly glo Elah sal gesond word.
View this post on Instagram

Die longe werk hoor. Altyd happy ??

A post shared by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on

In die hospitaal moes Karlien en Joe die hartverskeurende nuus by die chirurg hoor: “Sy is oukei, maar ek kon niks vir haar doen nie.” 

Die egpaar oorweeg dit nou om by oorsese spesialiste aan te klop en bly glo Elah sal gesond word. 

Hier vertel Karlien van die moeilike pad wat sy en Joe en klein Elah stap en hoe sy vertroosting vind selfs wanneer die toekoms onseker lyk. 

IN HAAR EIE WOORDE 

Ek hoor in my binneste die naam Elah en sien die spelling asof iemand dit in ’n dagdroom voor my oë uitskryf toe ek nege weke swanger is. 

Ek begin die naam ondersoek en vind dit geskryf in net een vertaling van Die Bybel, die King James-vertaling, 1 Samuel 17. 

Selfs deur die moeilikste tye kikker Elah haar oue
Selfs deur die moeilikste tye kikker Elah haar ouers se dae met haar oulike lagmondjie op. Foto: Verskaf

Die ander vertaal Elah as “die dal van die terpentynboom” of ’n eike- of groot boom. 

Dis die vallei waarin Saul en die Israeliete skuiling gevind het toe Goliat hulle uitdaag tot ’n geveg. 

Ek begin op nege weke bloei. Ek en Joe is landuit en nie naby dokters nie. Die dokters kan ook nie vir jou iets doen as jy voor 12 weke ’n “dreigende miskraam” het nie. 

Ek het al op vyf maande ’n babatjie verloor en het gedink dit is dieselfde situasie. 

Ek het op die bed gaan lê en God hoor sê: As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nooit saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie. 

Ek het al op vyf maande ’n babatjie verloor en het gedink dit is dieselfde situasie.

Ek het later gesien dis ook ’n vers in die Woord: Prediker 11:4. 

Ek verstaan toe God sê ek mag nie na die uiterlike kyk nie, maar moet bly plant in geloof. Dit was ’n les van oorgee aan die woorde wat ek van God gehoor het; dat ek verby die sigbare moet kyk. 

Toe ek 11 weke swanger is, vlieg ons terug na Suid-Afrika. Die aand voor ons vlug voel ek beweging in my. 

Ek dink dit was God se manier om rus te bring in my siel. 

Terug in Suid-Afrika het ons gegaan vir ’n sonar, en Elah het rustig in my gegroei. Trane van dankbaarheid. 

Elah het in haar jong lewe al die binnekant van ’n
Elah het in haar jong lewe al die binnekant van ’n hospitaal leer ken. Foto: Verskaf

Op 34 weke lê ek op my bed en voel of ek piepie. Ek hoop dit is nie wat ek dink dit is nie. Ek sê vir my huishulp: “Ek gaan net gou ry; ek is nou-nou weer terug.” 

Toe die dokter my ondersoek, sê hy my “water het gebreek”; hy gaan my opneem en kyk of hy die geboorte met ’n paar dae kan uitstel. 

Ek weet hoe dit is wanneer jy babatjies in die hoësorgeenheid het; ek het al twee daar gehad, en ek vra heeltyd vir die Here: Asseblief, kan ek hierdie keer my baba ná drie dae huis toe neem. 

Teen die volgende middag kon ek sien my maag begin sak en die vrugwater word minder, en ek het begin bloei. 

Die dokter het ingekom en gesê hulle gaan my voorberei vir die teater: Elah kom vandag. My hart was so seer, want ek het geweet wat op ons wag. 

Ek het haar ’n paar soene gegee, en toe is sy weggevat na die hoësorgeenheid.

Elah is gebore: perfek, sterk, ’n dogtertjie van 2,2 kg. 

Ek het haar ’n paar soene gegee, en toe is sy weggevat na die hoësorgeenheid. 

Ek het haar eers weer die aand gesien: ’n klomp draadjies en pypies en masjiene, maar die mooiste klein wonderwerk. 

Negentien dae in die hoësorgeenheid, en toe is sy ontslaan. 

Op vier maande het ek Elah na die pediater gevat vir ’n checkup. Hy het aan haar lyfie gevoel en gesê haar milt voel vergroot. 

Die piepklein mensie het by geboorte 2,2 kg geweeg. Foto: Verskaf
Elah is ná haar geboorte 19 dae lank in die hoëso
Elah is ná haar geboorte 19 dae lank in die hoësorgeenheid behandel. Foto: Verskaf

Hy het ons gestuur vir ’n sonar waartydens ek die hele tyd hardop gebid het. Niks vreemds is gevind nie. 

Op sewe maande vat ek haar weer pediater toe om te kyk of sy verkoue het. Die dokter sê haar milt is steeds vergroot en stuur ons om ’n tweede mening te kry. 

Dié dokter vind ’n bloedklont in die aar wat bloed van Elah se ingewande en milt na haar lewer neem. 

Hy stuur ons vir nog ’n sonar, en daar sit die trombose. 

Ons word verwys na ’n spesialispediater wat nou verder na haar moet omsien. 

Elah gebruik sedert sy sewe maande oud is bloeddrukmedikasie om die drukking te verminder.

Met duisend vrae sit ons voor dié pediater en kry inligting oor die diagnose wat jou ore en hart eers verwerk in die weke voor die eerste gastroskopie en narkose wat Elah moet kry. 

Die hoë bloeddruk in haar are veroorsaak dat die milt vergroot en spatare in haar slukderm en magie vorm. Dit vorm later bloedsakkies wat kan begin bloei, soos in Desember gebeur het. 

Dit is lewensgevaarlik wanneer dit gebeur; daarom het ons ’n noodbrief in haar babasak waarmee ek oral rondry. 

Die brief verduidelik vir ’n dokter presies wat om te doen om haar te stabiliseer wanneer so iets gebeur, tot hulle haar kan skuif na die hospitaal waar sy behandel word. 

Elah gebruik sedert sy sewe maande oud is bloeddrukmedikasie om die drukking te verminder. Ons het gedink sy sal nooit begin bloei nie; dit het ons onkant gevang. 

Ma Karlien stap dié pad vol hoop en ywer saam met
Ma Karlien stap dié pad vol hoop en ywer saam met haar kind. Foto: Verskaf

Ná die bloeding het die voorstel gekom dat ons Elah sal moet vat vir die operasie waarteen ons so opgesien het. 

Nadat ons die eerste keer die dokter gaan sien het wat die operasie moes doen, was my knieë lam van skok oor die omvang van die prosedure. 

’n Dag voor die operasie vat ek Elah weer vir ’n sonar om seker te maak God het haar nie dalk genees nie, maar die dokter sê die milt is al so groot soos ’n grootmens s’n. 

Daar is geen bloedvloei nie; ek moet haar vat vir die operasie. Sy bid saam met my. 

Ek gaan saam met Elah in vir die narkose vir die operasie op 7 Februarie. 

“She’s fine, she’s fine, but I couldn’t do anything for her.”

Dit voel of my hart in die teater agterbly; ek sukkel om te fokus, maar ek bly bid en oorgee in die wete dat sy ná die groot prosedure gesond sal wees. 

Ek en my man gaan na die grondverdieping en wag in Elah se kamer. Sy moet sewe dae in die hoësorgeenheid bly om aan te sterk. 

Die narkotiseur SMS my twee keer tydens die operasie – die eerste keer om te sê sy doen goed onder die narkose en is stabiel. 

Die tweede keer – ná twee uur – om te sê alles gaan goed; hy is nie seker hoe lank dit nog sal duur nie, maar na verwagting vier uur. 

Ek bly bid en hoor hoe die hadidas buite roep. Dit maak my rustig omdat ek Elah elke oggend wanneer sy wakker word buitentoe vat sodat sy vir die hadidas kan gaan hallo sê. Sy is mal oor hulle en maak hulle altyd na. 

Karlien se hart is gebreek oor die lang stryd wat
Karlien se hart is gebreek oor die lang stryd wat nog vir Elah voorlê, maar sy bly vol hoop. Foto: Verskaf
Elah verskaf groot vreugde – selfs in die hospitaa
Elah verskaf groot vreugde – selfs in die hospitaal. Foto: Verskaf

’n Halfuur ná die SMS kom die chirurg die pediatriese saal binne. 

Ek sê vir Joe: “Kyk, hier is die dokter,” en ons hardloop hom tegemoet met die meeste gevoelens wat ek al ooit op een slag ervaar het. 

Hy sê: “She’s fine, she’s fine, but I couldn’t do anything for her.” 

Ek en Joe is verward en bly vra: “What? What do you mean? How is that possible?” 

Ek hoop hy het haar nie oopgesny voor hy dit besef het nie, maar hy het reeds. Hy sê haar are is “a mess – it’s like a honeycomb in there”. 

Elah word nou elke ses tot agt weke met behulp van ’n gastroskopie behandel waartydens die dokter die are in haar slukderm en magie afbind of inspuit sodat sy nie begin bloei nie. 

Sy is steeds op bloeddrukmedikasie. Elah het nou al agt keer narkose gehad. 

Die spesialispediater stel voor ons kry oorsese hulp omdat die beste dokters hier op haar gewerk het en daar nie ander opsies in Suid-Afrika is nie. 

Ek bly bid dat God haar sal genees en oorsese hulp nie nodig sal wees nie. 

Daar is party gevalle waar die are self ’n pad vorm na die lewer en milt, en dis waarop ons hoop. 

Die een positiewe ding was toe die dokter haar oopsny, sien hy daar is wel are wat vertakkings maak. Prys die Here! 

Daar is party gevalle waar die are self ’n pad vorm na die lewer en milt, en dis waarop ons hoop.

As jy kinders het, is daar ’n liefde wat jy ervaar wat jy nie tevore geken het nie, maar daar is ’n soort seer wat jy nooit andersins sal beleef nie. 

Mense kry op soveel maniere seer deur hul kinders, maar steeds sal ek nooit kies om liewer nié die pyn te beleef nie omdat ek dan ook nooit hierdie liefde op ’n ander manier sou ken nie. 

Ek kan so ’n bietjie verstaan hoe pynlik dit vir God en Maria moes wees om hul seun te sien hang aan ’n kruis sodat ander iets kan beërwe. 

Ons word poorte vir mekaar. Elah se spesifieke pad is die poort van geregtigheid. 

Soos wat Jesus vir ons die poort geword het om terug te herstel na die beeld van God en die ewige lewe te kan beërwe, so is Elah ’n poort vir die bruid om in geregtigheid te kan loop. 

Die sny aan Elah se magie ná die onlangse operasie
Die sny aan Elah se magie ná die onlangse operasie. Foto: Verskaf

Toe God Elah se naam vir my gee, het Hy haar geroep om die skuilplek van geregtigheid te kom voorstel. 

Sy word ’n vallei vir ons “Israeliete” wat ingeënt is in die olyfboom sodat jy onder haar terebint se takke kan skuil. 

God het haar in my midde kom plant sodat ek by haar kan rus met almal wat my daagliks dophou. 

En vanuit daardie posisie kom daar dan een wat in Sy roeping loop as herder soos Dawid, en vanuit sy posisie wat hy in gehoorsaamheid beklee, kan hy die res wat in vrees gevange is, kom vrymaak. 

Hy verslaan vir Goliat, wie se naam na “ballingskap” verwys. Hierdie ballingskap is die “slawerny” waarin ons daagliks vasgevang word; dis die reus van ongeloof, twyfel en angs wat aan ons deur klop en wat ons moet oorwin. 

Toe God Elah se naam vir my gee, het Hy haar geroep om die skuilplek van geregtigheid te kom voorstel.

Sy oorwinning is nie gesetel in die eenvoud van sy wapens nie, maar die vreeslose gehoorsaamheid aan die stem van God. 

Die journey is by tye vir my so swaar dat ek alles aan God wil teruggee en Hom eerder vra om my net uit te los. En dan vra ek Hom in dieselfde asem om my asseblief net weer terug te vat, want ek sal sterf sonder Sy teenwoordigheid. 

Ek leer meer as wat ek al ooit geleer het: wat ’n werklike verhouding met God is, dat jy soms vir Hom kwaad word en dan weer lief. 

Ek ken Hom nog nie as geneesheer nie; ek ken Hom as geregtigheid; as die barmhartige wat Homself afbuig na die sondaar en hom help op die regte tyd. Ek ken Hom as vriend. 

Ek ken Hom as redder, waar Hy my destyds uit Hatfield Square met vuil hare en ’n drankasem kom vashou en oplig het asof ek ’n gebore engel is, wat ek nie is nie. Ek ken Hom as saligmaker. 

Die sny aan Elah se magie ná die onlangse operasie
Die sny aan Elah se magie ná die onlangse operasie. Foto: Verskaf

Ek ken Hom as die sagmoedige wat my saggies benader wanneer ek weer al my toys uit my bababed gedonner het. 

Ek ken Hom as die vredemaker wanneer ek voel hoe Hy my aanmoedig om eerste vrede te maak en ek myself probeer regverdig in ’n situasie. 

Ek ken Hom as nederig; ek ken Hom as die weg. Ek ken Hom as bemiddelaar, ek ken Hom as pa, ek ken Hom as beskermer. 

Ek bly bid en hoor hoe die hadidas roep. Dit maak my rustig.

Vader, ek wil U leer ken as geneesheer. Dankie ook vir waar ek U leer ken deur ander. 

Elah, mamma glo vas in die goedheid van God, en dat dít wat Hy aan ons toedeel en wat Hy toelaat ’n goeie uitkoms en ’n goeie rede het. 

Dat Hy aan iets werk wat ewig is, iets waaraan ons nie noodwendig nou kan vashou nie, maar dat dit goed is, soos wat Hy in Sy Wese goed is.