Dis genoeg om enige vrou wat al swanger was na haar kombuis te dryf sodat sy die yskas van bo tot onder kan leeg eet. Uit suiwer jaloesie. Want dis darem wraggies nie regverdig nie.

Die hertogin van Cambridge het ’n prins voor die kansel gekry, drie keer skynbaar moeiteloos gekraam en lyk eksieperfeksie elke keer dat sy haar voet buite die deur van die Kensingtonpaleis sit. Perfekte hare, pragtige klere, ’n volmaakte figuur.

Kate in haar geliefde jeans.

Maar noudat sy weer op haar amptelike pos is nadat haar kraamverlof ná prins Louis se geboorte in April vanjaar verstryk het, is sy maerder as ooit. Haar middeltjie is knakbaar klein en in haar geliefde noupassende jeans lyk haar bene gespierd maar rietskraal.

Dis nou nie dat ’n mens wil naar wees oor dié koninklike nie; sy’s immers die toonbeeld van goed- en gaafheid, maar het sy nie nou ’n bietjie te ver gegaan met hoe sy haar gewig dophou nie?

Net ’n maand ná prins Louis se geboorte het die koninklike skrywer Katie Nicholls die hertogin van Cambridge al as “slim as a pin” beskryf. Maar toe sy einde Oktober ’n staatsbanket in die Buckinghampaleis bywoon, het sy selfs dunner, trouens byna brandmaer, in ’n noupassende Alexander McQueen-tabberd gelyk.

“Ek dink sy’s pragtig, maar ek is bekommerd dat sy te veel gewig verloor het,” het een aanhanger getwiet. “Eintlik jammer om Kate so dun te sien,” was ’n ander een se kommentaar. En nog een: “Ek is ’n groot Kate-aanhanger, maar sy’s te maer.”

Ander wonder of sy nie soos prinses Diana ’n eetsteuring het nie. Haar oorlede skoonma het aan bulimie gely. Iemand in die binnekring het gesê Kate was bekommerd oor ’n derde baba se uitwerking op haar figuur, veral omdat sy in haar laat 30’s is.

“Daarom het sy ’n spesiale poging aangewend om haar spiere te oefen.”

Maar sy betaal ’n prys: Op Wapenstilstandsdag op 11 November het haar swart Alexander McQueen-rok haar skraal gesig afgerem laat lyk.

Kate het op 11 November op Wapenstilstandsdag afgerem gelyk.

Die Britse voedingkundige Claudia Norris sê vroue maak ’n keuse tussen hul gesig en figuur. “As jy te veel gewig verloor, loop jy die gevaar om afgerem en ouer as jou jare te lyk.”

Sommige kenners meen sy verloor gewig omdat sy Louis steeds borsvoed.

“Borsvoeding help met vinniger gewigsverlies ná geboorte; dit verg ’n klomp energie om melk te vervaardig,” skryf die borsvoedingsorganisasie La Leche League op hul webtuiste.

Sy draf gereeld agter haar kroos aan.

“Ma’s wat borsvoed, kan maklik ’n halwe kilogram per week verloor.”

Daar is ook nog die druk om ’n koninklike te wees en jou werk in die openbare oog te doen waar mense nie kan wag dat jy een van jou voetjies verkeerd sit nie.

Babavetjies smelt gou weg

Kate het blykbaar nie meer as 12 kg aangesit toe sy Louis verwag het nie. Toe sy die eerste keer ná sy geboorte verskyn, was daar geen sweem van ongemaklike kilogramme nie.

Ses maande later lyk sy selfs dunner as voor haar swangerskap.

Toe sy in 2013 die kraaminrigting met George verlaat, was daar ’n aanduiding van ’n boepie, maar drie maande later was die maag weer soos ’n strykplank toe sy aan ’n basketbalwedstryd deelneem.

In Oktober het sy in ’n swart uitrusting tennis gespeel.

Sy het selfs slanker gelyk ná Charlotte se geboorte in 2015 en is ses maande daarna by ’n polowedstryd afgeneem waar sy weer in haar noupassende jeans soos haar ou self gelyk het.

“Dis normaal vir die meeste vroue om ’n jaar te neem om hul babavet te verloor,” sê Laura Spicer van die Women’s Health Clinic in Brittanje.

“Sommige vroue se lyfvorm sal nooit weer dieselfde wees nie, van ’n groter ribbekas tot groter borste. Dikwels is dit met elke volgende baba moeiliker om die gewig af te skud.”

Sy oefen graag

Van kindsbeen af was Kate lief vir sport en oefen. En vandat sy in ’n paleis woon, hoef sy nie soos ander ma’s te ry en parkeerplek te soek voor die gim nie. Die Kensingtonpaleis het sy eie gim met deftige toerusting en tog is een van haar gunstelinge die nederige plankposisie waar jy handeviervoet staan met jou lyf amper so reguit soos ’n plank.

Sy oefen blykbaar ’n uur per dag en dit kan enigiets van roei en touspring tot vloeroefeninge wees.

Terwyl sy Louis verwag het, het sy blykbaar die dienste van ’n vooraanstaande Londense persoonlike afrigter gebruik.

Carole Middleton en haar dogters, Pippa (links) en Kate in 2011.

’n Bron het aan People gesê die afrigter het haar een keer per week gesien en elke dag per foon raad gegee. Swem bly Kate se gunstelingsport – sy was in haar skool se swemspan – en sy swem gereeld in die privaat swembad by die Buckinghampaleis.

Sy en Pippa oefen graag saam. Dié het ook haar eie gim by die huis wat sy met haar man, James Matthews, en hul seuntjie, Arthur, deel. Hulle is albei lief daarvoor om akwa-aërobiese oefeninge in die swembad te doen.

“Pippa en Kate neem hul gespierde lywe baie ernstig op,” het iemand in die binnekring laat blyk. Kate doen ook joga en Pilates, draf buite en ski graag. En sy gaan stap byna elke dag met Lupo, die gesin se hond.

Haar eetgewoontes

Kate weeg blykbaar in die omgewing van 55 kg, min vir iemand wat 1,75 m lank is. Sy is gedissiplineerd oor wat sy in haar mond sit en vermy gemorskos. Sy hou van gesonde smoothies en meng graag vitamienryke spirulinapoeier in by haar oggenddrankie van krulkool, spinasie, koljanderblare en bloubessiesap.

Sy is ’n voorstander van rou kos en het in 2014 ook ceviche (gamarineerde rou vis) begin eet.

Kate lyk eksieperfeksie elke keer dat sy haar voet buite die deur sit.

Groentekerries is ’n gunsteling en koolhidrate is uit. Volgens die koninklike sjef Darren McGrady het die hertogin pasta, rys en aartappels op die gesinspyskaart verbied. Hulle het hul eie sjef, maar Kate hou daarvan om soms self iets aanmekaar te slaan.

William verkies die sjef se kos. “Dis haar kos wat veroorsaak dat ek so maer is,” het hy eenkeer gespot.

Kate sit ook nie haar mond aan soetgoed wanneer sy by die koningin tee drink nie. “Sy sal uit ordentlikheid aan ’n skon knibbel, maar dis dit,” het ’n bron verklap.

“Sy wyk byna nooit van haar eetplan af nie. Kate is ongelooflik gedissiplineerd.”

Wat bewonderenswaardig is, maar ’n ekstra kilo of wat sal nie seermaak nie.

Goeie gene en gesinsgewoontes

Kate se ma, Carole Middleton (63), het van kleins af ’n gesonde respek vir hul liggaam by albei haar dogters ingeprent en sus Pippa (35) het net so gou ná haar eersteling se geboorte middel Oktober weer viets en fiks gelyk.

“Carole het nog altyd na haarself gekyk en gesond geëet en sy het ’n goeie figuur,” het haar broer, Gary Goldsmith, onlangs gesê.

“Daardie mentaliteit het sy aan haar dogters oorgedra.”

Carole het destyds vertel sy en Kate het die Dukandieet van baie proteïen en min stysel gevolg voor die troue met prins William. Maar Kate het onder kritiek deurgeloop toe sy van ’n gesonde no. 10-rokgrootte tot ’n piepklein no. 6 krimp.

“Ek dink sy het te veel gewig verloor,” het Pierre Dukan, die Fransman wat die dieet ontwikkel het, destyds aan die Daily News gesê.

“Aan die begin het sy goeie wange gehad. Agterna het sy geen wange gehad nie.”

BRONNE: FABIOSA.COM, DAILYMAIL.CO.UK, DAILYEXPRESS.CO.UK, THESUN.CO.UK, EXPRESS.CO.UK, HELLOMAGAZINE.CO.UK, PEOPLE.COM, MSN.COMWOMENSWORLD.COM

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES