Toe die 19-jarige Kate Middleton in September 2001 by die glorieryke St Andrews-universiteit in Skotland aangekom het, sou sy seker nie kon dink dat sy 20 jaar later die vrou van die toekomstige koning van Engeland sou wees nie. 

Sedert sy in 2011 met William getroud is, het die boorling van die dorpie Bucklebury op die Engelse platteland ontpop as ’n liefdevolle ma, ’n kampvegter vir die behoeftes van jong kinders en die kunste, en ’n glansryke modeikoon. 

So het die beeldskone hertogin oor die laaste dekade gestraal. 

Liefdevolle eggenoot en ma

Kate en William is op 29 April 2011 in ’n sprokieseremonie in die Westminster-abdy in Londen getroud. 

Foto: Gallo Images/Getty Images
Op hul troudag in 2011. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tien jaar later is die vonk tussen die twee duidelik nog vuurwarm - dit kan op hul openbare verskynings gesien word.  

20 jaar nadat hulle ontmoet en 10 jaar na hul trou
20 jaar nadat hulle ontmoet en 10 jaar na hul troue is die Cambridges nog dolgelukkig. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2013 het die universiteitsliefdes vir die eerste keer ouers geword toe hul oudste seun, prins George, gebore is. “Dis baie emosioneel. Dis so ’n spesiale tyd. Ek dink enige ouer sal weet hoe dit voel,” het sy destyds gesê. 

In Mei 2015 het George ’n kleinsus, prinses Charlotte, gekry en in April 2019 het hul jonger broer, Louis, sy opwagting gemaak. 

In Desember 2020 het die Cambridge-gesin ’n spesia
In Desember 2020 het die Cambridge-gesin ’n spesiale vertoning ter ere van gesondheidswerkers in Londen bygewoon. Foto: Galo Images/Getty Images

Volgens koninklike bronne is Kate en William daarop gestel om hul kinders self groot te maak, in teenstelling met vorige koninklike kinders waar oppassers grotendeels verantwoordelik was vir hul dag-tot-dag belange. Die gesin het wel ’n oppasser, Maria Turrion Borrallo, wat al sedert 2014 vir hulle werk. 

In 2020 het ’n vriend van Kate aan People gesê dat die hertogin verkies om tuis ’n minimalistiese roetine te volg. 

“Sy is of in haar oefenklere, of ’n rok en drafskoene, baie min grimering en besig om jammer te sê dat sy laat is om die kinders by die skool te kry voor sy haar uit die voete maak. Dis die lewe van ’n werkende ma van drie – sy het net ’n ander werk as meeste mense,” het die vriend verklap. 

William en Kate wil hul kroos, George, Charlotte e
William en Kate wil hul kroos, George, Charlotte en Louis, so normaal as moontlik grootmaak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Naweke neem sy haar kinders na Mable’s Paint Pot, ’n kunsvlytsentrum naby hul plattelandse tuiste Anmer Hall, in Norfolk. Daar verf George, Charlotte en Louis erdewerk en koop lekkergoed. 

Kampvegter vir kinders en die kunste

Kate het sedert haar troue haar aan liefdadigheidswerk toegewy. Hoog op haar lys is die welstand van jong kinders en die bevordering van die kunste. 

Sy is die koninklike beskermvrou van onder meer Action for Children, Action on Addiction, East Anglia Children’s Hospices (EACH), die Foundling-museum, die National Portrait Gallery en ook die Natural History Museum.

Kate beywer haar vir die bevordering van kinderont
Kate beywer haar vir die bevordering van kinderontwikkeling. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2020 het sy ook ’n nasionale peiling gedoen om vas te stel wat die belangrikste kwessies is in die vroeë jare van kinders se lewens. 

Kate en William is ook albei ywerige sportgeesdriftiges en word gereeld in die koninklike losie by Wimbledon se tenniswedstryde gesien en ondersteun ook die Britse seiljagspan en ander atlete. 

kate middleton,koninklikes,regatta
Al het Kate haar beste gegee, het haar span steeds laaste gekom. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis ook duidelik dat Kate en William graag hul liefde vir kuns en sport aan hul kinders wil oordra. Kate is al gewaar terwyl sy George en Louis na museums in Londen neem. Sy en William het ook George en Charlotte saamgeneem na ’n sokkerwedstryd van William se gunstelingspan, Aston Villa. 

Kate, William, George en Charlotte woon ’n sokkker
Kate, William, George en Charlotte woon ’n sokkkerwedstryd tussen Aston Villa en Norwich by. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tydens die inperking in 2020 het Kate vertel dat sy die kinders met buitemuurse aktiwiteite en kuns besig hou. 

Modeikoon

Met die aankondiging van haar en William se verlowing in November 2010, het Kate die koppe laat draai in ’n donkerblou rok van die modehuis Issa. Die rok het onmiddellik uitverkoop en daarmee saam het die “Kate-effek”begin. In die laaste dekade het handelsmerke wat Kate graag dra toenames ervaar in hul verkope nadat sy in hul uitrustings gesien is. 

Die rok wat aanleiding gegee het tot die
Die rok wat aanleiding gegee het tot die "Kate-effek". Foto: Gallo Images/Getty Images

Kate dra gereeld uitrustings van Britse modehuise soos Alexander McQueen, wat vir haar trourok verantwoordelik was, en ook Jenny Packham, wie se rokke sy gedra het met haar kinders se eerste verskyning ná hul geboorte. 

Kate en William met hul eersteling, George, buite
Kate en William met hul eersteling, George, buite die St. Mary-hospitaal in Londen. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kort na Charlotte se geboorte in 2015. Foto: Gallo
Kort na Charlotte se geboorte in 2015. Foto: Gallo Images/Getty Images
Met Louis se geboorte in 2019. Foto: Gallo Images/
Met Louis se geboorte in 2019. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het ook sedert sy deel geword het van die Britse koningsgesin heelwat al gepronk in peperduur juwele en tiaras uit die koninklike kluise. In 2019 het sy die koppe laat draai met hierdie swart Alexander McQueen-aandrok waar by sy die Cambridge Lover’s Knot-tiara en skitterende diamantoorbelle gedra het.  

Kate se pikswart Alexander McQueen-aandrok is een van haar ikoniese mode-oomblikke. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ten spyte van al die glans en swier waartoe sy toegang het, word Kate ook gereeld geloof vir die feit dat sy vorige uitrustings keer op keer dra.

Kate Middleton
Foto: Gallo Images/Getty Images

En nes enige ander ma bewaar sy ook haar kroos se klere en is Charlotte en Louis al in klere gesien wat voorheen aan George behoort het. 

Bronne: People, Hello, royal.uk, Marie Claire, Town and Country, NowToLove