William, hier in Mei afgeneem by Holyrood-paleis,
William, hier in Mei afgeneem by Holyrood-paleis, is blykbaar seergemaak deur sy broer se gedrag. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hulle was hul ma se oogappels. William was die aantreklike een, het wyle prinses Diana van haar oudste in sy tienerjare gesê, en Harry die minsame, ondeunde een.

In hul jeugjare was die twee broers baie geheg aan mekaar, en met hul ma se dood is hulle in hul smart verenig.

Maar sedertdien het ’n broedertwis die twee uitmekaargeskeur, en gaap die kloof tussen die twee prinse nog groter as die Atlantiese Oseaan wat hul woonplekke skei.

Tog is daar hoop op versoening.

Prins William (39) se vrou, Kate (39), is oorgehaal om vredemaker tussen haar man en sy jonger broer te speel. Sy is selfs bereid om enige wrewelrige gevoelens wat sy self dalk teen Harry (36) en sy vrou, Meghan Markle (39), koester, opsy te skuif, reken kenners.

“Ten spyte van die hertog en hertogin van Sussex se Oprah-onderhoud, toe Meghan Kate daarvan beskuldig het dat sy haar oor die blommemeisierokke laat huil het, het Kate bo dit alles uitgestyg,” sê die Britse veteraanjoernalis Camilla Tominey.

En as iemand hulle so ver kan kry om die strydbyl te begrawe, is dit Kate, meen die koninklike kommentator Katie Nicholl. “Die feit dat sy en Harry altyd so geheg was aan mekaar is van onskatbare waarde om die breuk heel te maak.”

Voor William en Kate se troue in 2011 het die rooikopprins selfs gesê: “Ek wou nog altyd ’n suster gehad het en nou het ek een gekry.”

Met die geboorte van sy en Meghan se dogter, Lilibet, op 4 Junie het Harry eerste vir Kate – en nie sy broer nie – ’n teksboodskap met die goeie nuus gestuur.

Harry is in die openbaar baie eerlik oor sy gevoel
Harry is in die openbaar baie eerlik oor sy gevoel oor die monargie en sy vervreemde familie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy het ook glo ’n deurslaggewende rol gespeel om die gemoedere te kalmeer voor die twee prinse saam in Londen ’n standbeeld van hul ma op 1 Julie sou onthul.

Teen Huisgenoot se druktyd is berig die geleentheid op wat Diana se 60ste verjaardag sou gewees het, is weens die pandemie afgeskaal.

Net haar twee seuns en ’n handvol van haar familielede sou dit bywoon.

Dit sal die eerste keer wees dat die twee broers van aangesig tot aangesig kom sedert Harry se besoek in April aan Engeland vir sy oupa, prins Philip, se begrafnis.

Toe is dit as ’n bemoedigende teken beskou dat Kate ná die gedenkdiens ’n geleentheid vir William en Harry geskep het om met mekaar te praat, maar nou blyk dit die skynbare vrede was van korte duur.

’n “Verwoede rusie” het glo daarop gevolg en die prinse het “mekaar ingevlieg”, onthul Robert Lacey, ’n historikus, skrywer oor die koninklikes en konsultant vir die Netflix-reeks The Crown.

Diana en die seuns in Mei 1995 by ’n diens in Hyde
Diana en die seuns in Mei 1995 by ’n diens in Hyde Park. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die vredesgesprekke wat ná William se terugkeer na Los Angeles sou volg, is afgelas uit vrees dat Meghan alles aan die TV-kletskoningin Oprah Winfrey “of die een of ander tentakel van die Sussex-netwerk” sou uitlek, verduidelik die skrywer.

William meen glo Meghan het Harry verander. En as Kate vrede tussen haar man en sy broer wil bewerkstellig, sal sy Job se geduld, Salomo se wysheid en Gandhi se diplomasie nodig hê, reken Robert.

Hy het onlangs sy boek Battle of the Brothers: William, Harry and the Inside Story of a Family in Tumult bygewerk.

Hier volg ’n uittreksel waarin hy die oorsprong van die tweespalt tussen hulle ondersoek.

Die uittreksel

Vir Harry het die skeuring tussen hom en sy broer duidelik geword die oomblik in Oktober 2018 toe hy en Meghan triomfantelik van hul Australiese toer terugkeer.

“Dit was die eerste keer dat die familie kon sien hoe ongelooflik sy met die werk vaar,” het hy in sy opspraakwekkende onderhoud met die kletsprogramkoningin Opray Winfrey gesê.

Maar op dieselfde vraag het William op ’n meer spesifieke gebeurtenis gefokus: die rusie vroeër daardie maand tussen hom en sy broer.

Albei broers stem saam oor hoe bitterlik hulle aan die begin van Harry en Meghan se verhouding koppe gestamp het oor William se poging om sy broer te laat briek aandraai met die hofmakery.

Maar albei het daarna met hul lewe aangegaan.

Dit het gelyk of die vrede herstel is teen die tyd dat William in Mei 2018 sy broer na die kansel vergesel het.

Toe, vyf maande later, het die beslissende skeuring gekom.

Ons weet nou William en Harry het al voor die Sussexe se vertrek na Australië nie meer met mekaar gepraat nie. En die twisappel was Meghan wat glo die personeel geboelie het.

Dié wat uit hul diens weg is, het hulself informeel in die Sussex Survivors’ Club georganiseer.

Jason Knauf.
Jason Knauf. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hulle het eindelik teruggekap. Jason Knauf (34), die gesamentlike kommunikasiesekretaris vir Kensingtonpaleis, het bekommerd geraak oor die talle stories wat hy van vertroude kollegas hoor dat hulle sleg behandel is.

“Ek is baie besorg,” skryf Jason in Oktober 2018 in ’n e-pos aan William se privaat sekretaris, Simon Case, “dat die hertogin twee persoonlike assistente in die afgelope jaar uit die huishouding kon boelie.”

Die kritiek het ook tot by Harry gestrek. “Ek het ’n gesprek tussen Harry en een van sy topassistente gehoor,” vertel ’n howeling. “Harry het oor die foon geskree.”

Prins William was briesend toe hy hoor van die “dossier van rampspoed” wat Jason versamel het.

“Ek onthou Christian Jones (William se perssekretaris en latere privaat sekretaris) het vir my verduidelik die Cams (die hertog en hertogin van Cambridge) besef hul personeel word nie hope geld betaal nie; daarom is hulle net baie gaaf met hulle,” het ’n koninklike korrespondent vertel.

“Daarom was dit ’n baie diepe botsing van filosofieë, met Meghan wat aan ’n Hollywood dienskultuur gewoond is – van presies kry wat sy wil hê wanneer sy dit wil hê in Harry se beroemde woorde.”

Vir William het Jason se bewerings ook iets bevestig wat die prins reeds lank vermoed het: dat Meghan vyandiggesind is teenoor die koninklike stelsel. Maar haar prokureurs en reklameverteenwoordigers het al die bewerings van afknouery ontken en as deel van ’n “smeerveldtog” beskryf.

Harry en Meghan in 2018 op hul toer in Nieu-Seelan
Harry en Meghan in 2018 op hul toer in Nieu-Seeland. Foto: Gallo Images/Getty Images.

William het aan ’n vriend vertel die oomblik toe hy van die bewerings hoor, het hy Harry gebel – en toe hy uitbars en sy vrou woedend verdedig, het die ouer broer deurgedruk.

Toe Harry die foon briesend neergooi, het William persoonlik met hom gaan praat.

Die rusie tussen die sibbes was vurig en bitter. William het geglo Meghan volg ’n “agenda”. Hy was ook ontsteld omdat sy skynbaar sy geliefde broer van hom gesteel het.

Later sou howelinge ’n hashtag skep – #freeHarry. Dit was net deels ’n grap.

“Meghan het haarself as die slagoffer uitgebeeld,” vertel ’n personeellid by Kensingtonpaleis, “maar sy was die boelie. Hulle het gedink sy is ’n volslae narsis en sosiopaat.”

Kate, William en Harry in gelukkiger dae in 2016 o
Kate, William en Harry in gelukkiger dae in 2016 op koningin Elizabeth se verjaardagviering. Foto: Gallo Images/Getty Images.

William was diep “seergemaak” en “verraai”, soos hy sy gevoelens aan sy vriend beskryf het.

Harry was op sy beurt net so kwaad dat William die bewerings teen Meghan kon glo.

In sy onderhoud met Oprah het hy dit aan die wêreld duidelik gemaak hy beskou sy familie se reaksie op Meghan as wesentlik rassisties.

In die maande ná die skeuring het Harry nog meer daarvan oortuig geraak dat sy familie aan “onbewuste vooroordeel” ly.

William het op sy beurt net so sterk oor Meghan gevoel en dat haar ondermynende “agenda” uit die werksaamhede van die Britse monargie verwyder moes word.

Toe stories oor die skeuring tussen hulle begin uitlek, is algemeen aanvaar dat die liggeraakte Harry die bal aan die rol gesit het om sy en William se gemeenskaplike huishouding by Kensingtonpaleis te skei.

Hy is immers die broer wat by die paleis weg is.

Maar dit was William wat die beslissende stap geneem het.

Ná sy woedende konfrontasie met sy jonger broer in die herfs van 2018 het hy sy privaat sekretaris opdrag gegee om hul twee huishoudings dadelik te begin verdeel.

William wou op ’n daaglikse basis van Meghan geskei wees – en dit het beteken hy sou ook van sy broer geskei word.

Soos ’n vriend dit stel: “William het Harry uitgegooi.”

Bronne: Mirror.co.uk, Dailymail.co.uk, Geo.tv, Telegraph.co.uk, Cbsnews.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe