Die internetsensasie van Survivor-faam, Katinka di
Die internetsensasie van Survivor-faam, Katinka die Kat (Oosthuizen Weyers) thet die afgelope jaar covid-19 oorleef, maar ook positiewe lewensveranderende dinge beleef deur onder meer te trou. Foto: Katinka Productions

Om jou skielik in ’n inperking en die wurggreep van ’n pandemie te bevind, is dalk nie so vreeslik anders as om op ’n verlate eiland uit te spoel nie . . .

Baie dinge is weg wat jy as vanselfsprekend aanvaar het, jy moet aanpas by jou nuwe omstandighede en oorleef met wat jy het. Vra maar Katinka Weyers (née Oosthuizen), oftewel “Katinka die Kat” van Survivor-faam.

In 2018 het dié blonde skoonheid, toe net 19, kykers van die M-Net-reeks Survivor South Africa: Philippines se verbeelding aangegryp as die jongste deelnemer ooit aan dié oorlewingsreeks.

Sy het haar strategiese vaardighede toe al gewys deur die topdrie te haal.

Emosies loop hoog toe Jeanne, Katinka en Annelize hul geliefdes sien. Foto:

En gesels jy vandag hier by Katinka (23) se ouerhuis op Mosselbaai met haar, kom jy gou agter: 2020 was vir haar eweneens ’n jaar van aanpas en oorleef.

Sy het tydens vlak drie van die inperking getrou, permanent Kaap toe getrek, haar loopbaan as ’n sosialemediabeïnvloeder verstewig en covid-19 oorleef. Die Kat het alweer nog een van haar lewens ingespan.

Maar haar ervarings op die Survivor-eiland het haar gehelp om die beste van die afgelope jaar te maak, vertel sy.

“Hoewel 2020 ’n laagtepunt in die meeste mense se lewens was, het daar tog lewensveranderende dinge in my lewe gebeur. Daarom was dit vir my eintlik ’n hoogtepunt. Dit het my geleer om nie ver vooruit te beplan nie . . . To expect the unexpected. Om selfliefde te beoefen en roetine te skep.

“Balans is belangrik. Voor die pandemie het ek van myself vergeet. Werk en reis het oorgeneem en ek het oorweldig gevoel.”

Hulle sou op 9 Mei in ’n intieme seremonie getrou
Hulle sou op 9 Mei in ’n intieme seremonie getrou het, maar weens die inperking was dit nie moontlik nie. Katinka Oosthuizen het toe met die idee vorendag gekom dat sy en Braam Weyers vir mekaar ’n brief moet skryf en op daardie dag op die St. Blaize-staproete naby Mosselbaai voorlees. Foto: Katinka Productions

Voor die inperking het sy as aanbieder van die VIA-reeks Klink soos naweek twee keer per maand Johannesburg toe gependel, vir vyf seisoene van die program.

Maar verlede jaar kon sy tot bedaring kom – en ook besin oor wat sy van haar toekoms wil hê.

Dit was dié dat sy en haar geliefde, Braam Weyers (23), op 4 Julie verlede jaar in ’n woud op Wildernis in die Suid-Kaap getroud is. Net hul ouers en fotograwe was teenwoordig, maar hulle het kaartjies verkoop aan aanhangers wat die plegtigheid regstreeks aanlyn wou volg.

“Om mense ’n geleentheid te gee om deel te wees van die spesiaalste dag in ons lewe, en ’n donasie vir ons pad vorentoe,” verduidelik sy.

“My werk is om aanlyn te vermaak en inspireer. Mense kon kaartjies koop of nie. Ons het ons grootste dag vir mense aanlyn oopgemaak, hoekom kon ons nie geld daarvoor vra nie?”

Op 4 Julie is hulle toe in ’n woud op Wildernis ge
Op 4 Julie is hulle toe in ’n woud op Wildernis getroud. Foto: Katinka Productions

Hul virtuele troue was ’n hupstoot vir haar status as internetster, maar eintlik het sy reeds op 15 jaar die eerste tree geneem met die stigting van haar vlog Katseblad.

Sy het ook sedert haar skooldae geld verdien deur video’s vir YouTube te maak en met die verkope van haar reeks tweedehandse klere, Golden Olden Finds.

Boonop is sy en Braam sedert middel 2018 vennote in hul huweliksvideografie-onderneming, Katinka Productions. “Hy is nou die mastermind,” lag Katinka. Hy het my stokperdjie in ’n voltydse werk verander.”

Die twee woon deesdae in Durbanville, Kaapstad, maar is met Huisgenoot se besoek weer in die Mosselbaai-omgewing vir een van hul trouproduksies.

Katinka is nie die enigste in haar familie wat covid opgedoen het nie. Terwyl ons langs die swembad gesels, groet haar ma, die bekende skilder Maria Oosthuizen (50), deur die kamervenster.

“Jammer, ek is nie ongeskik nie, maar in week ses van my post-covid kry ek toe bronchitis by my man.”

Die Kat en die Kat se Snor. Katinka, beter bekend
Die Kat en die Kat se Snor. Katinka, beter bekend as die internetpersoonlikheid Katinka die Kat, en haar man van ’n paar maande, Braam, ’n dominee se seun van Kariga (voorheen Uitenhage). Foto: Katinka Productions

Katinka se jongste broer, Rigter (18), het ook covid onder lede gehad, maar dit gou afgeskud.

“Al wat ek self oor die virus kan sê, is jou liggaam is sterk as hy teen so iets kan veg. Ek het my reuk- en proesintuie verloor en my eetlus. Wie wil nou agter tekstuur aan eet? Ek het absoluut geen energie gehad nie, wat vir my ’n moeilike pil was om te sluk,” vertel Katinka.

Sy het weens die ervaring 10 kg verloor.

Maar nou is die Kat weer so springlewendig en vol houding soos aanhangers haar op haar rapliedjie The Sass ervaar het.

In dié eerste rapvideo van haar, wat verlede November aanlyn uitgereik is, het sy haar “innerlike Paris Hilton” laat uitkom. “Die liedjie is heeltemal my persoonlikheid: van die video tot die woorde en selfs die humor wat ek gebruik.”

Aan dié vir wie The Sass te wild was, waarsku sy by voorbaat: “Die volgende rap is op pad om julle om die ore te klap.”

Sy was ook in die musiekvideo Doef Doef te sien saam met die kunstenaars Loufi, What the Faf, Synth Peter, en Wortel Kombat. Weens die inperking het Katinka haar stukkie daarvan in haar eie motor opgeneem.

Die video het al ’n miljoen kyke gekry, en die liedjie was ook gewild op radiostasies.

Ja, sy hou daarvan om haar energieke en ekstroverte persoonlikheid met die wêreld te deel, maar van die woord “beïnvloeder” hou sy niks. “Ek doen net my ding, en as mense daarby aanklank vind, great.

Hulle benader hul huwelik nes hul onderneming, vertel Katinka.

“Ons vat elke dag soos dit kom en maak die meeste daarvan, en in hierdie finansiële nagmerrietyd glo ons die Here sal voorsien solank jy bly doen wat jy kan. ”

Tog was die pandemie ’n wipwarit weens ekonomiese onsekerhede en persoonlike verlies. “My en Braam se oupa’s is albei die afgelope jaar oorlede.”

Op regsadvies praat Katinka en haar familie nie in hierdie stadium oor haar broer, Sharl (22), se baba by Gretha Wiid se dogter, Giano (23), nie.

Maar sy gesels wel openlik oor haar eie liefdeslewe en oor Braam. “Ons lewe saam en werk saam, dis vir my baie lekker. Dis soos om jou beste vriend heeltyd by jou te hê,” vertel sy.

Die twee het mekaar in Mei 2018 op Stilbaai ontmoet toe Katinka in ’n bemarkingsvideo opgetree het vir die maatskappy waar Braam toe gewerk het – een wat natuuruitstappies reël.

Braam het nie geweet wie sy is toe hulle mekaar ontmoet het nie, onthou Katinka laggend. “Hy het wel geweet wie my ma is, want sy ouers het van haar kuns in hul vakansiehuis op Mosselbaai.”

Vir albei was dit liefde met die eerste oogopslag. Einde Mei was hul eerste afspraak, en verlede Desember het hulle verloof geraak.

Hul sosialemediatroue op Wildernis in Julie was eintlik hul “tweede troue”, vertel hulle laggend.

Hulle sou eers op 9 Mei getrou het, maar die inperking het dit gekelder. Toe gaan stap hulle op daardie datum in hul trouklere naby Mosselbaai en lees hul troubeloftes aan mekaar voor.

Noudat hulle getroud is, is Braam die een wat soggens eerste opstaan om koffie te maak.

“Hy is ’n koffiesnob en maal sy eie bone. Dan bring hy dit boontoe en hou ons Bybelstudie,” vertel Katinka. Daarna kyk sy in die bed wat aanlyn aangaan terwyl Braam in hul tuiskantoor adminwerkies doen.

Wanneer hy klaar is voor die rekenaar, neem sy oor en doen redigeerwerk aan hul trouvideo’s. Braam is verantwoordelik vir die stilfoto’s. So middagete se kant gaan hulle saam gimnasium toe.

Smiddae doen sy haar sosialemediawerk vir maatskappye wat haar huur en maak dalk ’n snaakse video vir haar eie Instagram-blad. Braam verkies egter die gholfbaan, vertel hy, “want die see is te ver en koud”.

Saans maak hulle saam kos en kyk televisiereekse soos Suid-Afrika se omstrede Love Island. “Ek hou van ander mense se drama en om ’n Afrikaanse woord hier en daar te hoor . . . Ek wil die volgende aanbieder wees,” skimp Katinka hardop.

Hulle brand ook dat die reisbeperkings hulle binnekort sal toelaat om eindelik wittebrood in Bali te gaan hou.

“Die kaartjies is lankal geboek!” Tog meen hulle die uitgestelde wittebrood is ’n goeie ding, want hulle ken mekaar nou al beter. “Nou kan ons reis en alles indrink sonder drama.”

Braam is nie ’n man vir die kollig nie, maar hy kom praat darem sy stukkie oor die getroude lewe en sy avonture saam met die Kat: “Dis baie lekker, ek kan nie kla nie. Ek sê vir mense dis dating op steroids.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe