Katlego Maboe het deesdae min rede om sy glimlag t
Katlego Maboe het aanhangers geskok toe dit aan die lig kom dat hy sy lewensmaat verkul het. Foto: Misha Jordaan

So gereeld soos Katlego op die kassie gesien is, net so skielik het hy onder ’n wolk uit die openbare oog verdwyn. Nou, ná maande se stilte, het hy weer sy stem laat hoor.

Katlego (34) het ’n paar dae gelede sy terugkeer tot die sosiale media gemaak. Hy het ’n inskrywing oor “dankbaarheid” gedoen.

By ’n foto van die son oor die see deel hy sy gedagtes oor dankbaarheid te midde van die uitdagende tyd waarin die wêreld verkeer. 

“Die afgelope jaar het soveel van ons weggeneem, vir sommige alles. Al is dit so, glo ek steeds daarin dat daar soveel is om voor dankbaar te wees, veral wanneer ’n mens moeilike vooruitsigte in die gesig staar. 

“Die blote asem in ons longe is ’n teken wat behoefte eggo vir dankbaarheid te midde van die storm wat om ons woed,” skryf hy.

“Dit beteken nie die uitdagings waardeur ons is en steeds gaan moet as nietig weggevee word nie, maar eerder ’n ferm baken dat ons nie verslaan sal word nie.”

In Oktober verlede jaar was Katlego se aanhangers heeltemal onkant betrap toe ’n video op sosiale media versprei is waarin hy in sy kamerjas teenoor sy lewensmaat, Monique Muller, bieg dat hy haar verkul het. 

Dit het glo in 2018 tydens ’n sakereis na Kiëf, Oekraïne, gebeur.

Ná die skok het Monique in ’n video-onderhoud met die vermaakplatform GoBinge beweer dat Katlego haar “fisiek aangerand” het. Katlego het ontken dat hy haar ooit mishandel het.

Die video waarin Katlego oor sy verneukery gekonfr
Die video waarin Katlego oor sy verneukery gekonfronteer word, het soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei.

Sedertdien was daar niks van Katlego gesien of gehoor nie. Die Outsurance-avertensies waarin hy was, is van die lug gehaal en hy was ook nie weer op Expresso te sien nie.

In sy plasing klink hy nou, nege maande later, hoopvol.

“Ons is meer as ons omstandighede,” skryf hy. “Ons voortdurende bestaan en moontlike toekoms hang van daardie geloof af – dat môre die belofte inhou van verbetering en beterskap van ons self en ons omstandighede.”

Hy haal Romeine 8.38-39 aan. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe