Op eie bodem

KatyCats, die gewag is eindelik verby. Plaaslike aanhangers kan binnekort die Amerikaanse popkoningin (33) in aksie sien wanneer sy op 18, 20 en 21 Julie by die Ticketpro Dome in Johannesburg optree as deel van haar Witness-wêreldtoer.

Katy, wat bekend is vir treffers soos Swish Swish en Dark Horse, kan nie wag om vir die eerste keer in Suid-Afrika op te tree nie.

“Ek is opgewonde om als te sien wat Johannesburg bied,” het sy aan Channel24 gesê. Die New Yorkse DJ-duo The Dolls en Katy se gewese agtergrondsangeres Elle B gaan vir haar open.

Haar hondekind is ook ’n ster

Vergeet van kinders – dié treffermasjien se hondekind is die een wat in haar beroemde voetspore volg. Nugget, Katy se geliefde miniatuurpoedel, het sy eie Twitterprofiel (@NuggetPerry). Nugget het verlede jaar saam met sy trotse ma in ’n televisieadvertensie vir die Amerikaanse bankreus Citigroup gesig gewys. 

Gesondheidsfanatikus

Sy bly fiks en gesond danksy daaglikse jogasessies en meditasie. Katy maak ook seker sy slaap snags 10 uur lank en skakel suiker en suiwel uit haar dieet. “Jy moet rus, eet en oefen. In my 20’s kon ek met ’n babbelas vertonings doen nadat ek ’n burger geëet het; ek kan dit nie meer doen nie.”

Gospelwortels

Haar ouers, Keith en Mary Hudson, is albei pastore. Katy sê sy het van haar geboortedag die “grense getoets”. Haar ouers ondersteun haar baie, sê sy, en “laat dit net daar” wat sekere dinge betref.

“My ouers is ander soort Christene; hulle is baie modern. My pa het vier tatoes.”

Skoon is cool

Wat beskou Katy as die perfekte man? “As jou tande en naels goed versorg is, is jy beslis ’n kandidaat,” het sy in 2015 aan die glanstydskrif Glamour vertel. “As jy nie onder jou naels skoonmaak nie en dan aan my wil raak, vergeet dit. En vir my persoonlik: hoe minder hare, hoe beter.”

Ons reken haar kêrel, die Hollywood-hartebreker Orlando Bloom (41), voldoen aan dié vereistes.

Digitale rekordbreker

Chained to the Rhythm, die eerste enkelsnit van haar jongste album, Witness, is op die dag toe dit uitgereik is meer as drie miljoen keer van die musiekstroomdiens Spotify afgelaai – ’n rekord vir ’n sangeres.

Die video vir die tweede enkelsnit op dié album, Bon Appétit, het binne 24 uur 16,8 miljoen trefslae op YouTube gehad. En so het sy haar eie rekord laat spat wat sy met haar treffersnit Roar opgestel het.

Versigtig met die kritiek

Katy het vanjaar in die gewilde Amerikaanse sangkompetisie American Idol se beoordelaarspaneel by die countryster Luke Bryan en die veteraansanger Lionel Richie aangesluit. “Dit was glad nie maklik nie,” bieg Katy. “Simon Cowell kon onbeskof wees, want hy is ’n bestuurshoof en ’n man.

Maar as jy die rol omswaai, is jy ewe skielik ’n t***. “Daarom is ek maar versigtig.” 

Statistieke oor katy

2010: 

Haar eerste parfuum, Purr, word uitgereik. Met die jare het Katy ’n bykomstighederyk opgebou wat parfuum, grimering en skoene insluit.

2011:

Die sangeres maak haar fliekdebuut in die animasieprent Smurfs. Sy het die stemwerk vir die karakter Smurfette gedoen.

Katy het ’n slag in ’n onderhoud gesê sy voel “baie animasierig”. Sy het die rol in Smurfs 2 (2013) hervat.

100 miljoen:

Verlede jaar het sy die eerste mens op Twitter geword wat met 100 miljoen volgelinge spog.

Sedert sy in 2009 by dié sosialemediaplatform aangesluit het, het sy dit gebruik om liedjies bekend te stel, aankondigings te maak en met haar aanhangers te gesels