En kort nadat Kim Cloete se eindtoneel uitgesaai is, het sy op Instagram ’n video gedeel waar haar laaste oomblikke op stel in ’n skreeusnaakse poets ontaard het.  

Sy het in ’n inskrywing saam met die video gespot dat dit die einde is wat sy eintlik vir haar karakter sou kies. 

In die video lyk dit of sy en haar sepieman, dr. Steve Abrahams (gespeel deur Clint Brink), doodluiters ’n toneel verfilm waar hulle ’n passievolle soen deel. Dan verskyn dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel) in die vertrek. 

Steve het hom die afgelope drie jaar al verskeie kere in ’n liefdesdriehoek bevind deur sy vrou met Annelize te verkul. 

Die opname word afgesluit met die drie wat mekaar sommer almal grappig liefkoos. 

In ’n video op kykNET se webblad sê Kim dat sy gevoel het die tyd is reg om vir Bronwyn te groet. 

“Ek dink nie ek sê totsiens vir Bronwyn nie. Ek dink ek vat ’n blaaskans van haar en sy van my. Dis bittersoet. Ek het baie lief geraak vir die mense by Binnelanders – hulle is familie,” sê sy in die video.

“Ek het ongelooflike lekker werk saam met Clint, die regisseurs en al die ander akteurs gedoen.”

Dit was die eerste keer in 18 jaar dat sy so lank by een produksie was, en haar voete het gejeuk vir ’n verandering. 

As Bronwyn moes Kim se voorkoms onveranderd bly. Sy verfilm nou aan ’n kykNET-reeks, Fynskrif, en het vir die nuwe rol haar bob in ’n parmantige kort styl gesny. 

Fynskrif is ’n drama wat op die regswêreld fokus en die draaiboek is deur Louis Pretorius en Albert Snyman geskryf. Hulle het voorheen reekse soos Die Boekklub en Die Boland Moorde geskep.

Dit word vanaf 11 Julie op kykNET uitgesaai.