Kim en Kanye skei: Skokoomblikke in hul huwelik

akkreditasie
Kim Kardashian en Kanye West se paadjies gaan amptelik skei. Die werklikheidster en sakevrou het Vrydag 'n skeisaak teen haar man van byna sewe jaar begin. Ons kyk terug na die skokoomblikke in die glanspaar se huwelik.

E! News het Vrydag berig Kim (40) het aansoek gedoen vir gesamentlike toesig van hul vier kinders, North (7), Saint (5), Chicago (3) en Psalm, wat in Mei sy tweede verjaardag vier. 

Dit kom nadat die paartjie se huwelik ná maande breekpunt bereik het. "Dit het tot die punt gekom waar hulle al maande lank nie tyd saam as 'n getroude egpaar deurgebring het nie," vertel iemand in die toweragtige binnekring aan E! News. "Hulle het mekaar gesien vir die kinders se onthalwe, maar het apart gebly. Kim weet die huwelik is verby. Sy weet al 'n ruk lank."

Kim het teruggehou met die egskeidingdokumente omdat sy bekommerd was oor haar kroos. "Sy wou seker maak sy maak die regte besluit vir die kinders," onthul die bron. Kim en Kanye praat sedert Februarie nie met mekaar nie, en hy het uit hul huis uitgetrek.

Die egpaar, wie se paadjies in 2003 die eerste keer gekruis het, het in 2012 begin uitgaan terwyl Kim besig was om van haar tweede man, die voormalige basketbalspeler Kris Humphries, te skei.

Kim en Kanye het in 2013 hul eersteling, North West, verwelkom, en ’n jaar later op 'n sprokiestroue in Italië afgehaak.

Die eerste amptelike foto van Kim Karda­shian en Kanye West se troue op Instagram. Foto: Instagram/@kimkardashian

Hulle het intussen nog drie kinders ryker geword. Nou kom hul sprokie tot 'n einde.

Kim en Kanye het oor die jare nuwe betekenis aan die frase “deur dik en dun” gegee.

Kim se rooftog

In Oktober 2016 is Kim van juweliersware van byna R130 miljoen beroof terwyl sy in die Franse hoofstad, Parys, was.  

Die ster was vasgebind en gemuilband terwyl gemaskerde diewe haar woonstel geplunder en juweliersware en elektroniese goedere gesteel het. 

In die 13de seisoen van haar familie se werklikheidsreeks, Keeping Up with the Kardashians, het Kim hart oopgemaak oor die voorval.

Terwyl die ster teen die trane baklei het, het 'n emosionele Kim vir haar susters Khloé (36) en Kourtney (41) van die vreesaanjaende aanval vertel. 

Sy’t ook bekendgemaak dat sy vas geglo het sy sou in die woonstel sterf. 

“Hulle gaan my in die rug skiet. Daar’s geen uitweg nie,” het sy vertel. “Dit ontstel my om daaraan te dink.”

Kim was veronderstel om 'n maand na die aanval haar terugkeer by die Angel Ball in New York te maak waar haar wyle pa, die prokureur Robert Kardashian, vereer is. Kim moes egter die geleentheid misloop en terugvlieg Los Angeles toe nadat haar man, Kanye, vir uitputting in 'n hospitaal opgeneem is.  

Hy is dieselfde jaar met bipolêre gemoedsteuring gediagnoseer.

Die vete met Taylor Swift

Kanye en die sangeres Taylor Swift was aartsvyande sedert hy in 2009 op die verhoog gestorm en haar onderbreek het terwyl sy by die Musiekvideo-toekenningsaand 'n prys vir beste musiekvideo deur 'n vroulike kunstenaar vir haar liedjie "You Belong with Me" ontvang het. Hy het toe verklaar Beyoncé moes eintlik gewen het.

Hulle het in die jare daarna die strydbyl probeer begrawe, maar in Februarie 2016 het die vete weer opgevlam nadat hy sy snit “Famous” uitgereik het. In die liedjie sing hy: I feel like me and Taylor might still have sec. Why? I made that b**** famous. 

Die kloue was behoorlik uit. Taylor se aanhangers, die Swifties, het die rapper aangeval. Kanye het intussen op Twitter teruggekap. “Sy het gedink dit is snaaks en dit haar goedkeuring gegee,” het hy gesê.

Taylor het egter ’n ander deuntjie gesing. “Kanye het nie vir goedkeuring gebel nie,” het haar reklameagent gesê oor hy haar 'n "b****" in sy liedjie genoem het nie. “Maar hy het vir Taylor gevra om sy enkelsnit ‘Famous’ op haar Twitterprofiel bekend te stel.” 

Taylor het die liedjie van die hand gewys en hom gewaarsku oor die uitreiking daarvan. 

Kim het toe ook in die kryt geklim en aan die tydskrif GQ gesê Taylor het beslis die lirieke goedgekeur. 

In Julie 2016 het Kim ’n geredigeerde video van dié oproep waarin sy dit glo goedkeur op Snapchat gedeel en daarby geskryf: “Dis Nasionale Slangdag!” 

Na ’n geweldige heen en weer tussen die sterre, het die volledige weergawe van Taylor en Kanye se 25 minute lange oproep in 2020 aanlyn verskyn. 

Dit het bewys dat Taylor al die tyd die waarheid gepraat het. 

Kim Kardashian en Kanye West. Foto: Getty Images/G
Kanye West en Kim Kardashian. Foto: Getty Images/Gallo Images

Kanye en slawerny

In Mei 2018 het die ster aanhangers geskok toe hy opmerkings oor slawerny gemaak het.

“Jy hoor vir 400 jaar lank oor slawerny. 400 jaar? Dit klink soos ’n keuse,” het hy tydens 'n TMZ Live-onderhoud gesê.

Dit was vermoedelik toe die huwelik ’n 'keerpunt' bereik het, het ’n bron aan Us Weekly gesê.

“Hulle was in ’n baie rowwe plek na die voorval,” het die bron aan Us Weekly gesê. 

“Kim het haar doodgeskaam vir Kanye se belaglike en verregaande kommentaar. Dit het baie gekos om verby dit te beweeg.”

Kanye het in 2018 in sy liedjie "Wouldn't Leave" erken hy was bang Kim los hom na sy uitlatings oor slawerny.

Dié twiet-storm 

In Julie 2020 het Kanye opspraakwekkend aangekondig hy gaan aan die Amerikaanse presidentsverkiesing deelneem.

Kort daarna het hy in ’n twiet-storm intieme besonderhede oor sy gesin en sy huwelik met Kim verklap. Hy het onder meer onthul dat hy en Kim oorweeg het om 'n aborsie te kry toe hulle uitvind sy is swanger met hul eersteling, North.

“In die Bybel staan daar, ‘jy sal nie doodmaak nie’. Ek onthou hoe my meisie my gebel het terwyl sy skree en huil, en ek het net in daardie stadium gedink ek is ’n rapper, ek het verskillende meisies gehad en als . . . en hier sê sy: ‘Ek is swanger’. Toe sê ek ‘ja’ en toe, ‘o, nee’,” het hy geskryf.

“Sy het gehuil. Vir een maand en twee maande en drie maande het ons gepraat oor miskien nie die kind hê nie. Sy het die pille in haar hand gehad,” het hy bygevoeg. 

Kim Kardashian
Kim en Kanye by die 2013 Met Gala. Foto: Gallo Images/Getty Images

Volgens Kanye was dit ’n openbaring van God wat hom anders laat besluit het. 

In nog twiets het hy beweer dat hy al van Kim probeer skei het sedert sy in November 2018 'n beraad oor die hervorming van die kriminele stelsel saam met die rapper Meek Mill bygewoon het. In nog 'n twiet het hy sy skoonma, Kris Jenner, as "Kris Jong-Un" beskryf, met die verwysing na die Noord-Koreaanse leier Kimg Jong-oen. Hy't die twiets later verwyder.

Tog het die paartjie in 2019 hul troubeloftes hernu na die geboorte van hul jongste kind, Psalm. Maar nou is dit finaal verby tussen die twee.

BRONNE: INSIDER.COM, VANITY FAIR, US WEEKLY

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees