Kim, wat bes bekend is as dokter Jax Davids in die kykNET-sepie Binnelanders, het verlede jaar dié hospitaaldramareeks verlaat en teruggetrek Kaap toe om by haar familie en man te wees.

“Ek het in Julie verlede jaar Binnelanders verlaat. Dit was baie lekker om terug by die huis te wees. Ek is baie familievas. En dit was lekker om weer saam met my man te wees, want dit was vreeslik moeilik om die langafstand-ding te doen,” sê Kim aan Huisgenoot

Terwyl sy in Johannesburg aan Binnelanders geskiet het, was haar man, Chris, in die Kaap. Hy was steeds haar grootste ondersteuner.

“Hy hou my kalm onder druk en wanneer ek stres, al was ons so ver van mekaar. Dit het ons as egpaar net sterker gemaak,” vertel Kim. “Maar al het hy my so ondersteun, wou ek steeds by hom wees.”

View this post on Instagram

A post shared by Kim Syster (@kimmikaykay) on

Toe Kim besluit het om na Johannesburg te trek vir werk, het hulle saam die besluit geneem, sê sy. “Toe ek swanger word, was dit ’n nuwe begin. Maar ek was steeds in Johannesburg, en ons moes als probeer navigeer. 

“Ek het ’n moeilike swangerskap gehad, maar ek was so gelukkig dat die mense by Binnelanders my ondersteun het toe ek sê ek wil teruggaan huis toe.”

Sy het in April 2019 uitgevind sy is swanger. Maar op 18 weke het sy in vroeë kraam ingegaan en hul baba verloor. 

“Ek en my man het ná die verlies van ons kind tot in die kern verander. Jy is nie meer die persoon wie jy was nie. Ons het mekaar weer begin leer ken en ’n nuwe sy van mekaar gesien. Dit was soos iets waar jy nie geweet het van die krag wat binne jou was nie,” sê Kim.

“Ek en my man het dieselfde ding ervaar en dit het ons sterker gemaak. Dit maak of breek jou, en as dit jou maak, vat dit jou tot ’n volgende vlak in jul verhouding,” sê Kim.

“Dit was beslis ’n moeilike ervaring, maar dit het ons nader aan mekaar gebring. En ons dra dit altyd in ons harte en ons praat gereeld daaroor. Ons het ’n ooreenkoms dat ons nie skaam gaan wees oor dit nie, dit was ons kind. En dit help ons om genesing te kry,” sê Kim.

Noudat sy tuis in die Kaap is, geniet sy elke oomblik. “Dit is lekker om by die huis te wees, maar ek het ook ’n bietjie onttrekkingsimptome gehad, want ek het Binnelanders gemis. Ek het sulke fantastiese kollegas gehad. Ek het uitgesien om elke dag werk toe te gaan. Maar dit neem niks weg van hoe lekker dit is om weer by die huis te wees nie. 'n Mens kan seker nie alles kry wat jy in die lewe wil hê nie,” sê Kim.

Gelukkig het sy sowat agt maande voor die inperking begin het by hul huis in die Kaap aangekom. “Ek het lockdown geniet. Ek geniet die stilte. Ek het altyd iets gekry om te doen, soos om boeke te lees," vertel sy.

Sy het ook “baie geëet”.

“Ek en my man het heeltyd met nuwe resepte geëksperimenteer. Ons het mekaar ’n bietjie vet gevoer.”

Omdat haar man in die kosbedryf werk, was hy sedert die begin van vlak 5 van die inperking by die werk. “Hy’s ’n noodsaaklike werker en het nooit afgekry nie. Dus het ek videospeletjies by die huis gespeel en baie dramareekse gekyk,” vertel sy. 

Kim werk tans aan ’n nuwe projek, maar sy kan nie te veel daaroor uitbrei nie.

“Ons skiet dit in die Kaap. So dis darem naby die huis en ek geniet dit. Dis lekker om weer voor die kameras te wees en ’n nuwe karakter aan die lewe te bring.” 

Ná haar miskraam kyk sy anders na haar werk.

“Ek is nou ’n ander mens. As ek ’n nuwe karakter het, wil ek altyd die karakter se geestesoog leer ken. Wat gaan in hul psige aan en omdat ek die ervaring het, help dit my om my karakter mensliker te maak. Enigiets wat jy deurmaak, jy vat dit en stoot dit in jou werk in – dis wat ek doen,” vertel Kim.

As vrou het die ervaring haar ook verander, sê sy. “Dit het my meer empatie gegee met dit wat ander vroue deurgaan. Ek is ’n baie sensitiewe mens, en ná my miskraam is ek nog sensitiewer, maar dit maak my net meer mens.

“Dié wat na aan my is, wil ek nou meer na kyk. Ek is nou sensitiewer vir ander se behoeftes en wil ’n beter suster, dogter, vrou en eendag ’n goeie ma wees.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe