Kimye verby: Kim fuif en Kanye kuier met Bradley Cooper se eks

akkreditasie
Kim Kardashian en Kanye West.
Foto: Gallo Images/Getty Images
Kim Kardashian en Kanye West. Foto: Gallo Images/Getty Images
Drie maande het verloop sedert Kimye op ’n egskeiding besluit het en dit lyk asof die ekse albei met hul lewe aangaan.

Kim Kardashian (40) het die partytjietoneel met mening getref, maar “soek nie op die oomblik iemand nie,” sê mense in die binnekring. Intussen word Kanye West (43) romanties verbind met die Russiese model Irina Shayk (35).

Yeezy en die model is al vir ’n ruk in die geheim romanties betrokke, volgens die Amerikaanse skinderwebtuiste DeuxMoi.

Irina, wat voorheen met die akteur Bradley Cooper – die pa van haar dogter – uitgegaan het, het ’n lang geskiedenis met Kanye.

Irina Shayk en Bradley Cooper
Irina Shayk en Bradley Cooper. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy was te sien in die musiekvideo vir sy 2010-liedjie "Power" en het in 2012 op die loopplank vir sy herfs/winter-versameling by die Paryse Modeweek verskyn.

Irina is ’n paar weke gelede op 'n uitstappie saam met haar dogter, Lea (4), gewaar in ’n DMX huldeblyk T-hemp van R2 770, wat deur Kanye saam met die modehuis Balenciaga ontwerp is. 

As die gerugte van ’n romanse waar is, sê bronne na aan Kim sy is “nie onsteld of die minste gepla nie”, berig The Sun

Sy twyfel of Kanye en Irina ’n paartjie is, sê ’n bron. “Kim glo nie die gerugte oor Irina nie. Vir haar is dit net iemand wat aandag soek rondom hul huweliksherdenking.” 

Kim en Kanye sou op 24 Mei hul sewende huweliksherdenking gevier het. “Sy is nie in die minste gepla daardeur nie. Niemand in die kring lyk of hulle omgee of dit glo nie. Selfs al is dit waar, twyfel ek of sy in hierdie stadium ontsteld daaroor sal wees.”

Vandat hul paaie geskei het, is die werklikheidstelevisiester saam met verskeie bekendes afgeneem. 

Sy is in April romanties verbind met die Colombiaanse sanger Maluma (27) nadat hulle die opening van The Goodtime Hotel in Miami bygewoon het, maar bronne het die gerugte ontken en aan Page Six gesê hulle is net vriende.  

Die Colombiaanse sanger Maluma.
Die Colombiaanse sanger Maluma. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Hulle is net vriende en het baie gemeenskaplike vriende. Daar is geen sprake van romanse nie.”

Die skoonheidsmagnaat het onlangs die Britse miljardêr Jamie Reuben (34) se sterbelaaide verjaardagpartyjie bygewoon, geklee in ’n skrapse tweestuk en hakskoene. 

Jamie is die erfgenaam van ’n $26 miljard fortuin van sy pa, die eiendomsbelegger Simon Reuben, en is die direkteur van Brittanje se grootste perdewedren-onderneming.

Dis onbekend of die vonke tussen hom en Kim gespat het, maar ’n bron sê Kim fokus nou net daarop om die egskeidingsverrigtings seepglad te laat verloop. Kanye het gevra vir gedeelde toesig oor hul vier kinders, North (7), Saint (5), Chicago (3) en Psalm (2), en Kim sal dit na verwagting nie teenstaan nie.

“Kim is baie gelukkig dat hulle dinge so bedaard gehou het. Sy dink Kanye is ’n goeie pa. Sy wil hê hy moet soveel tyd as wat hy wil saam met die kinders deurbring.”

Die bron sê Kim lyk gelukkiger “vir elke week wat verbygaan sedert sy om ’n egskeiding aansoek gedoen het,” omdat sy weet dit was “die regte besluit”.

BRONNE: THE US SUN, THESUN.CO.UK, PAGE SIX

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees