Met die intrapslag bevind jy jou in ’n sprokieswêreld. ’n Reusagtige Kersboom, keurig versier met goue balle, staan langs die trap in die ingangsportaal. Oral is groot rooi strikke en feetjieliggies blink in die sit- en eetkamer waar nóg twee betowerende Kersbome pryk.

In die Wieses se woning verwelkom ’n reuse- Kersbo
In die Wieses se woning verwelkom ’n reuse- Kersboom vol liggies jou met die intrapslag. Foto: Misha Jordaan

Om elke hoek en draai is ’n Kersvader-ornament. Al wat skort, is sneeu op die vensterbanke. Maar vandag gaap die kraaie behoorlik hier in die Paarl. 

“Dit is alles my vrou,” verduidelik die oud-Springbok, rugbyaanbieder en koffiekoning Kobus Wiese (56) terwyl hy by ’n groot houttafel gaan sit.

“Wanneer sy en my dogter die Kersversierings uitpak, raak ek kastig besig met ander afsprake. My seun kies ook sommer koers!” lag hy. “Hulle noem my die Grinch. Maar nou ja . . . Ek weet darem nou al ’n mens noem daai klein liggies fairy lights.” 

Oral waar jy kyk, is vrolike Kersversierings. Foto
Oral waar jy kyk, is vrolike Kersversierings. Foto: Misha Jordaan

Die Wiese-gesin het voorheen op ’n kleinhoewe buite Heidelberg in Gauteng gebly en ook twee jaar lank in hul vakansiehuis by Shelley Point in St. Helenabaai gewoon.

Maar die afgelope vyf jaar noem Kobus, sy vrou en sakevennoot, Belinda (50), en hul kinders, Le Roux (20) en Deminey (17), dié spogwoning in die Val de Vie-landgoed buite die Paarl huis.

Le Roux was vanjaar ’n eerstejaarstudent aan die IMM Graduate School of Marketing, en sy kleinsus, ’n kranige ruiter, skryf volgende jaar matriek aan die Hoër Meisieskool La Rochelle. Kobus hou sy gesin buite die kollig; daarom poseer hulle nie vandag saam vir kiekies nie, maar hy gesels gemaklik oor sy gesinslewe.

“Ek het nog altyd gesê ek gaan terugkom Kaap toe. Ek is mal oor die Boland,” verduidelik Kobus.

Dit is ook hier waar hulle die inperking vanjaar saam deurgebring het. Hoe was dit vir hom? 

“Ek weet van niks in die lewe wat kort- of langtermyn nét negatief is nie,” gee die groot man te kenne.

‘‘n Ou kan vir jouself jammer voel, jy kan ­almal die skuld gee, maar werk uit dit uit’

“Met elke slegte ding is daar ook goeie dinge. Dit is ook hoekom ek Suid-Afrikaners so love. Die Europeërs dink mos ons het ’n verwronge sin vir humor, want ons kan spot met goed wat morbied is en daaroor lag.“Dit was great vir familietyd,” brei hy uit.

“’n Mens het weer begin sê: ‘Hei, kom ons sit die TV af, kom ons speel speletjies.’ Deminey het so ’n speletjie waar jy dinge moet beskryf en dan moet die ander raai wat dit is . . . 60 Seconds, of wat noem jy dit? 30 Seconds! Jinne, ons het party dae gelag dat die trane rol!” vertel die oud-slot en hy lag sommer weer van voor af dat sy lyf so skud. 

PAARL, SOUTH AFRICA â?? NOVEMBER 13: Catch up with
Kerskouse voor die binnebraai. Foto: Misha Jordaan

Eintlik strek Kobus se wortels al diep in die Paarl se grond. Hy is hier gebore, maar het op Lüderitz en Oranjemund in Namibië grootgeword.

Sy pa, Ben, was hoof van veiligheid by die mynmaatskappy Anglo American in die diamantstreek. 

“Hy kon in die verbode gebied inry en dan gaan ek saam. Die ou Land Rovers het mos so ’n tyre op die bonnet gehad – die noodwiel. Dan pas ek net lekker in daai gaatjie in die tyre, en dan ry hy in die woestyn met my rond,” vertel Kobus. “So het ons troppe van die wilde perde in die Namib gaan kyk. Troppe springbokke, troppe gemsbokke . . .”

Sy gedagtes dwaal ver terug. “Dit is hoe ons grootgeword het, ek en my broers en ons sussie, Alana. Ons was baie bevoorreg.” 

So van broers gepraat . . . Kobus het op laerskool reeds Cravenweekrugby gespeel. Toe hy eindelik hoërskool toe moet gaan, was die Hoër Jongenskool in die Paarl sy keuse – tot ouboet Benhard se grootste skok en afgryse.

Benhard, 4 jaar ouer, was toe reeds in Paarl Gimnasium op skool. “Paarl Boys’ en Paarl Gim is áártsvyande, met die grootste interskole in wêreldrugby,” vertel Kobus met oorgawe.

“Benhard skryf toe vir ons pa ’n brief uit die koshuis wat sê as ek Paarl Boys’ toe gaan, sweer hy hy kom nooit weer huis toe nie. My pa moes my uit die seunskool uithaal, en dit is hoe ek in Paarl Gim beland het – iets waaroor ek glad nie spyt is nie,” sê Kobus. Hul jonger broer, Cornel, het jare later ook daar skoolgegaan.

Kobus Wiese by sy huis op die Val de Vie-landgoed
Kobus Wiese by sy huis op die Val de Vie-landgoed net buite die Paarl. Foto: Misha Jordaan

Ná skool het hy by die Paarl Onderwyskollege begin studeer terwyl hy vir Boland rugby gespeel het. Maar dit was nie lank nie, toe bel prof. Manie Spamer, die afrigter van die destydse Wes-Transvaal-span, hom, en Kobus is noorde toe waar hy sowat ’n jaar vir die Mielieboere in die nommer 4-trui uitgedraf en sy studie by die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege voortgesit het.

Vandaar is hy op aandrang van dr. Louis Luyt, die destydse president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, Transvaal toe waar hy die meeste van sy provinsiale rugby vir die Goue Leeus gespeel het.

Hy was ook deel van die legendariese 1995-Wêreldbekerrugbyspan wat daardie jaar die Webb Ellis-trofee op Ellispark omhoog gehou het. Die ekstase, tesame met daardie vuishou van die All Blacks-speler Ian Jones kort voor die eindfluitjie, sal hy nooit vergeet nie.

Tog is rugby nie ál rede hoekom Kobus aan Suid-Afrikaners bekend is nie. Die koffierestaurantfranchise Wiesenhof het ook van hom ’n bekende naam gemaak. “Ek het nog altyd die droom gehad om vir myself te werk,” sê Kobus, wat van kleins af lief was vir kosmaak.

“My ma, Ree, het my leer kook. Terwyl Benhard en Cornel in die tuin gespeel het, het ek haar help kook. Ek kook nie uit ’n boek uit nie. Ek sit dit net in ’n pot en sê dan: ‘Dankie, Here, dit proe decent,’ ” vertel hy laggend. 

Dit was in Europa waar hy met goeie koffie kennisgemaak het.

“Ek is mal oor Italië. Mál. Die ou kultuur, die familievaste mense . . . Ek het tyd in hul cafés en espresso bars deurgebring en begin dink: ‘Jissie, dié ding lyk vir my lekker!’ Maar ek het toe nog nie geweet hoe ek dit sal aanpak nie,” vertel Kobus. 

Vir hul tweede afspraak – die Wieses is al 22 jaar getroud – het Kobus vir Belinda gevat om in die East Rand Mall in Boksburg te gaan fliek.

Ek kry toe ’n mal idee in my kop en vra: ‘Wil jy nie verkoop nie?’

Ná die tyd het hulle ’n koffiewinkel gesoek.

“Weggesteek in die hoek sien ons toe ’n klein koffiewinkeltjie. Maar daar is flippen niemand nie! Ons stap toe maar in en bestel iets, en ek sê vir haar: ‘Hierdie is flippen goeie koffie, die produk is reg, maar hoekom is die plek nie besig nie?’”  

Joviale ou wat hy is, knoop Kobus op die plek met ’n man agter die toonbank ’n geselsie aan. “Ek kry toe ’n mal idee in my kop en vra: ‘Wil jy nie verkoop nie?’ Hy sê: ‘Nee, dis sy seuns se onderneming en dit is nie in die mark nie, maar gee my jou nommer.’ ” 

’n Jaar later lui Kobus se selfoon – die einste man agter die toonbank vra toe of hy nog daarin belangstel om die koffiewinkel te koop. “En ek sê: ‘Julle het ’n deal.’ Ons het nie ’n oomblik se opleiding nie, geen ervaring nie. Hulle het vir ons die sleutels op ’n Vrydagmiddag gegee en gesê: ‘Good luck!’”

Saam het hy en Belinda in 1994 moue opgerol en begin werk. Hulle het hul eie spyskaart ontwikkel, en Kobus het sommer self die bone gerooster. ’n Jaar later is die naam na Wiesenhof verander, en in 1998 het die Wiesenhof-groep tot stand gekom. 

Vandag het hulle 72 franchisewinkels reg oor die land. Die hoofkantoor is steeds naby Heidelberg waar hulle die handelsnaam se koffie rooster en produkte ontwikkel.

Kobus, wat ook ’n SuperSport-aanbieder is, reis dus nog weekliks Gauteng toe vir werk. 

In Februarie het kykers wel kopgekrap toe hy skielik nie meer op SuperSport se Afrikaanse rugbyprogram SuperRugby verskyn het nie. Maar oor dié saak wil Kobus niks rep nie. Hy is wel intussen weer terug en sal minstens twee keer per maand die program se ankeraanbieder wees.

Kobus skink ’n koppie boeretroos. Hy meen hy is ba
Kobus skink ’n koppie boeretroos. Hy meen hy is baie tuis in die kombuis, en as hy nie koffie brou nie, maak hy graag kos. Foto: Misha Jordaan

Dit was bepaald ’n onderstebo jaar. En ja, Wiesenhof trek steeds swaar weens die inperking.

“Ons het nou weer stadig maar seker begin oopmaak; weer begin opbou,” vertel Kobus en voeg ernstig by: “Daar is net een keuse: sit skouer aan die wiel en werk úít die ding uit. Dit is wat sport my al die jare geleer het: ’n Ou kan vir jouself jammer voel, jy kan almal blameer en gatvol wees, maar  wérk uit dit uit.” 

Hoewel die ekonomie ly, probeer Kobus om deel van die oplossing te wees met behulp van verskeie liefdadigheidsprojekte by sy koffiewinkels en sy betrokkenheid by droogtehulp.

“Mense het weer na mekaar toe begin terugdraai,” sê hy oor die gevolge van die coronaviruskrisis.

“En weet jy wat my hart absoluut laat custard klop? Die feit dat die ouens sê: ‘Boys, die regering gaan ons nie help op sekere vlakke nie. Maar kom ons help mekaar.’ Dit is fantasties. Die ouens draai na mekaar toe. Hulle sê, kom ons survive. En dít is ’n positiewe ding.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe