Daar is ’n onmiskenbare glimp van staal in die 17-jarige Ethan du Preez se blou oë. 

’n Kyk waarvoor selfs Suid-Afrika se mees bekroonde Olimpiese swemmer, Chad le Clos, versigtig moet wees.

Want vroeër vanjaar het Ethan gedoen wat baie mense sou dink onmoontlik moet wees: Al is hy net ’n skoolseun, het hy die legendariese Chad (29) in die swembad uitgestof om vir die Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.

Huisgenoot het by Ethan in sy tuiste, Milnerton, die Kaapstadse kusvoorstad met die poskaart-uitsig oor Tafelberg, gaan kuier om uit te vind hoe erg benoud Chad moet wees. 

Die antwoord is baie. 

Ethan oefen soos ’n masjien – ure elke dag. Hy swem al sedert die ouderdom van sewe kompeterend. Hy het al soveel medaljes gewen dat sy ma dit by die huis aan die gordynrelings ophang. 

Die enigste tyd wat ons hom kan kry om vir ’n geselsie stil te sit, is ná ’n strawwe oefensessie en voor sy ma hom kom oplaai. 

“Die Spele is waarnatoe ek nog heeltyd werk,” vertel die lenige jong kêrel met die breë skouers by die Milnerton High School Aquatic Centre. En dinge lyk goed. 

Foto: Corrie Hansen
Foto: Corrie Hansen

Hy het vanjaar reeds twee keer Olimpiese standaardtye aangeteken en vir die Spele se 200 m-vlinderslag gekwalifiseer. 

Verlede maand het hy en Chad albei vir die Spele gekwalifiseer toe hulle in Gqeberha (Port Elizabeth) teen mekaar geswem het. Chad het dié keer gewen, maar in Februarie was dit Ethan se beurt: By die Grand Prix 3 in Durban het dié jong seun vir sy held ore aangesit. 

Die tyd van 1:56:16 waarin hy in Durban die 200 m-vlinderslag voltooi het, was sy beste tyd nog. “Maar daarna moes ek vier weke afvat omdat ek my been ietwat beseer het . . .”

Nou wag hy hoopvol dat SASKOK (die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee) amptelik sal bevestig dat hy in die Olimpiese span ingesluit is, verduidelik sy afrigter Bálint Richter.

Dié Hongaars gebore afrigter en Chanelle van Wyk, ’n voormalige top- Suid-Afrikaanse swemmer, help Ethan al sedert sy laerskooldae by die swemklub Cybersmart touwys maak.

Ethan saam met Bálint Richter, een van sy afrigte
Ethan saam met Bálint Richter, een van sy afrigters by die Cybersmart-swemklub in Kaapstad. Foto: Corrie Hansen

Terwyl die Olimpiese standaard vir die 200 m-vlinderslag 1:56:48 is, het die Milnertonse tienerster dit met ’n tyd van 1:56:44 in die eindronde by die nasionale kampioenskap in die Oos-Kaap oortref. Dié keer kon hy Chad egter nie baasraak nie.

“Chad het my met so ’n halwe lyflengte geklop. Ek was besig om hom in te haal, maar die laaste entjie het my gepootjie,” verduidelik Ethan.

Die wedywering tussen hom en Chad – wat 20 was met sy destydse skoksege oor Michael Phelps in 2012 by die Londen-Spele – is darem nie lelik nie. 

“Ons is pelle,” vertel Ethan. “Ek het al ses weke by hom in Durban oorgebly en hy het my help oefen. Hy het sy ervaring en van sy truuks met my gedeel . . . vanselfsprekend nie álles nie, maar dit het my gehelp.

“Ek sal dus sê buite die water is ons goeie vriende, maar in die water is dit báie kompeterend.”

Die kampioen Chad le Clos en Ethan du Preez op die
Die kampioen Chad le Clos en Ethan du Preez op die nasionale kampioenskapsbyeenkoms in April vanjaar. Foto: Gallo Images/Anton Geyser

Swemlesse op twee 

Waar die swemtalent vandaan kom, is nie duidelik nie. Nóg sy ma, Melanie, nóg sy pa, Mauritz, was swemmers.

“Hulle het my aanvanklik strand toe gevat, en ek het blykbaar net ingespring en my eie ding gedoen.” 

Hy het wel sportgene. Melanie, ’n rekenmeester, het op haar dag netbal en hokkie gespeel, en die Westelike Provinsie in judo verteenwoordig. Mauritz, ’n sakeman, het rugby gespeel tot hy beseer is en chirurgiese penne in sy skouers moes kry.

“Ethan was altyd ’n waterbaba. Ons het hom rondom die ouderdom van twee al vir swemlesse geneem en hy het kort voor lank vir almal weggeswem,” beaam Melanie toe sy haar seun later kom oplaai.

“Hy het op omtrent vyf met klubswem begin, en ek dink hy was sewe toe hy aan sy eerste gala deelgeneem het. Hy was nege toe hy sy eerste goue medalje gewen het.”

Van medaljes gepraat: Ethan het so opgang gemaak deur al die vlakke van swem – van WP-kleure op laerskool tot eindelik die Junior Wêreldswemkampioenskappe en Jeug- Olimpiese Spele – dat Melanie spoedig sy medaljes aan die ente van gordynrelings tuis begin ophang het.

Op ’n kol was hy onder meer die vinnigste 16-jarige in die 200 m-vlinderslag wêreldwyd.

’n Mens hoef bloot na sy oefenroetine te luister om uitasem te raak.

“In ’n week doen ons 50-100 km, dis 5-10 km per sessie. Elke sessie duur twee tot twee en ’n half uur. Dan het ek ook ’n gimsessie tussen my oggend- en namiddagswemsessies. Dis vir spierversterking. Ons span meestal ons liggaamsgewig – en hier en daar gewigte – in, en ons fokus meestal op die skouer- en beenspiergroepe.”

Ethan doen boonop hipoksiese oefeninge, soortgelyk aan hardlopers wat in berge oefen waar die lug dun is sodat hulle meer suurstofdoeltreffend kan raak. 

“Jy hou basies jou asem vir ’n sekere afstand of tyd op. Jy sal byvoorbeeld tydens die vryslag eers met elke vyf armhale asem haal, dan ’n teug elke sewe armhale, dan elke nege armhale en so aan.

“Hoe minder teue jy hoef te neem, hoe vinniger swem jy. Dit gaan ook oor beter longkapasiteit.”

Hy het nie ’n ons vet aan sy lyf nie, maar sy eetroetine is nogal nie so streng as wat ’n mens sou raai nie. 

“Ek eet basies wat ek wil, hoewel steeds meestal gesond. Ek kan af en toe gemorskos eet,” sê Ethan. Sy gunstelingkos is pizza.

Om sy lyf van sy moordende program te laat herstel, sorg hy dat hy twee uur slaap tussen oefensessies inkry, en agt ure snags.

Kry hy darem naweke ’n blaaskans?

“Ons het Saterdagoggende vroeg nog ’n tweeuur-sessie, maar ek vat darem Sondae af . . .”

Wanneer hy homself nie so in die swembad moor nie, ontspan hy graag deur tuis videospeletjies te speel, soos Fifa en Skyrim, “of net saam met pelle rond te hang”, vertel Ethan. Sokker (Arsenal is sy span), aksiekomedies (hoewel Lord of the Rings sy gunstelingfliek van alle tye is), Ford Mustangs (“die 1980-modelle”) en Krugerwildtuin-vakansies is van sy ander gunstelinge. 

Hy hoop om vorentoe die wêreld te sien. Toe hy met die Jeug- Olimpiese Spele in Argentinië was, het hy na Uruguay gereis, en dit het hom lus gemaak vir meer. 

Ja, sy wil bars van trots oor haar seun se vasbera
Ja, sy wil bars van trots oor haar seun se vasberadenheid, sê sy ma, Melanie. Foto: Corrie Hansen

Raak hy senuagtig wanneer hy dink hy kan binnekort op die wêreld se grootste sportverhoog verskyn?

“Ek weet nie regtig nie,” grinnik hy. “Ek fokus net op myself, op my resies.”

Dat hy nou een van Suid-Afrika se “nuwe swemsensasies” genoem word, is nie iets “waaraan ek baie dink nie”.

Melanie is “supertrots” op haar seun. “Ek’s vir seker sy grootste aanhanger. Ek’s absoluut oorstelp, baie opgewonde vir sy onthalwe, want hy het baie, baie hard gewerk om sy doel te bereik. Hy het gesê hy gaan dit doen, en hy het.” 

Mauritz voeg per WhatsApp by: “Pa se beer . . . die wonderlikste jong man in die wêreld.”

En Ethan se eie raad aan al die jonger swemmers wat nou ongetwyfeld sy loopbaan dophou?

“Bly net toegewyd, vasbeslote; moet nooit opgee nie, al is dit hoe moeilik.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe