Toe die eerste episode van die derde seisoen van Kokkedoor verlede maand uitgesaai is, was sy oor net een ding hartseer: dat haar pa nie meer hier is om te sien hoe sy as beoordelaar in dié kykNET-werklikheidsreeks op die kassie verskyn nie.

Die flambojante kosskrywer Sam Woulidge se geliefde pa, Ron, is in April oorlede ná ’n operasie waarin ’n gedeelte van sy pankreas verwyder is.

Dit was onverwags, ’n groot skok en vir Sam erg traumaties. Sy en haar pa was na aan mekaar, en sy sou haar ervarings voor die kameras graag met hom wou deel.

“Ek het in my vroeë jare baie rondgeval, maar my pa het altyd in my geglo,” vertel sy met trane wat skielik in haar bruin oë blink.

“Hy sou so trots gewees het om my in Kokkedoor te sien; my ma ook.”

Haar ma, Marie, is in 2013 ná ’n stryd teen borskanker oorlede.

Sam op haar troudag in 2011 saam met haar ouers, m
Sam op haar troudag in 2011 saam met haar ouers, ma Marie en pa Ron. Sy sê sy was gelukkig genoeg om hulle tot in haar 40’s by haar te kon hê. Marie het in 2013 weens borskanker gesterf en haar pa is vroeër vanjaar onverwags oorlede. Foto verskaf

Tydens die verfilming van Kokkedoor in Februarie vanjaar het pa Ron gereeld vir Sam boodskappe gestuur.

“Dan het hy geskryf: ‘Saartjie, ek en jou ma is so trots op jou.’ Asof my ma nog daar was . . .”

Sy glimlag moedig en haar gesig ­verhelder weer toe die gesprek sy draaie neem. Ons kuier vandag by Sam (49) in haar kleurryke dubbelverdiepinghuis teen die hange van Tafelberg in Kaapstad.

Haar huis met sy treffende, fabelagtige dekor is iets om te aanskou – die ene pienk en groen mure, kuns en versamelings van interessante dingetjies net waar jy kyk.

'Etienne het met die meeste goed in die huis gehel
'Etienne het met die meeste goed in die huis gehelp. Die prente is myne; hy het alles bymekaargebring. Hy sal hier kom en sê: ‘Kom ons verf dié muur’ of: “Ons verander iets hier.,' vertel Sam. Foto: Misha Jordaan

Sam, skrywer van die kookboek Confessions of a Hungry Woman, dra koffie aan saam met brownies en Portugese melktertjies.

Dié keer het sy nie self gebak nie, keer sy gou, maar sy weet waar al die beste plaaslike bakkerye is. “As jy uitgevreet en lui is, moet jy slim wees!”

Sam se gesin

Sy woon hier saam met haar man, die gastroënteroloog Jacques Badenhorst (45), en hul sesjarige seun, Sebas­tiaan Sonwabo Badenhorst.

Die egpaar het Sebastiaan, of Seb soos hulle hom noem, in 2013 aangeneem. Die aannemingsproses is destyds skaars ’n maand ná die dood van Sam se ma afgehandel.

“Byna my hele familie is oorlede,” sê sy, “maar die Here het geweet wat hy doen toe hy Seb oor my pad stuur. Ek het altyd geweet my kind is ’n swart seuntjie.”

Sam, haar man, Jacques, en hul seuntjie, Sebastiaa
Sam, haar man, Jacques, en hul seuntjie, Sebastiaan. Hul perspektief het omtrent soos handomkeer verander toe dié klein liggie in hul lewe gekom het. Foto: Misha Jordaan

Al het Sebastiaan nooit sy ouma leer ken nie, vertel Sam hom gereeld stories oor Marie, ’n huisvrou, wat vir haar dogter ’n kosbare resepteboek in haar eie handskrif agtergelaat het.

“Die eerste gereg wat ek vir hom gemaak het, was bottereier – my ma se resep.”

Die seer oor haar pa se dood is nog rou, en wanneer sy oor hom huil, sê Sebastiaan vir haar: “Moenie bekommerd wees nie, ma; oupa is ’n ster in die hemel.”

“Maar die lewe is soet én suur. Ek sal een oomblik oor my ouers huil en die volgende oomblik sal ek iets kry om oor te lag.

“Ek het op 13 aan depressie gely, maar jy leer om daarmee saam te leef. Ek weet hoe dit voel om in die donkerte te lewe; dus weet ek wanneer ’n lig deurkom.”

En Sebastiaan, haar seuntjie “met die goue hart”, is ’n groot lig. Ouma Marie het sy voornaam voor haar dood gekies – dit was die naam van Sam se eerste vriend in haar kinderjare.

“Sonwabo, sy tweede naam, beteken ‘geluk’ in Xhosa,” vertel Sam. “Dis ter ere van sy Xhosa-herkoms. Maar ook omdat hy vir ons soveel geluk gebring het.”

Haar lieflike huis, met “uitspattige kandelare en Tretchikoff-portrette in die toilet”, soos sy dit beskryf, is eintlik die werk van die binne­ontwerper Etienne Hanekom, een van haar beste vriende en Sebastiaan se peetpa, vertel Sam.

Haar kleurryke huis het sy te danke aan haar goeie
Haar kleurryke huis het sy te danke aan haar goeie vriend Etienne Hanekom wat alles perfek bymekaargesit het. Foto: Misha Jordaan

“Etienne het met die meeste goed in die huis gehelp. Die prente is myne; hy het alles bymekaargebring. Hy sal hier kom en sê: ‘Kom ons verf dié muur’ of: “Ons verander iets hier.’ ”

Laat begin

Al is sy deesdae ’n bekende in koskringe en ’n gerekende kos­skrywer, het sy eintlik eers op 30 besef sy wil ’n joernalis word en toe by verskeie publikasies begin werk.

Voor dit het sy, ná haar studie in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, oorsee en in Suid-Afrika “iets van alles” gedoen en onder meer as ’n sekretaresse, kinder­oppasser en reisagent gewerk.

Sy en Jacques ken mekaar al 20 jaar en het mekaar destyds op Onrus naby Hermanus ontmoet.

“Hy het ’n briljante brein. Hy is ’n wetenskaplike, maar hy is ook mal oor woorde en lees graag. Hy is my stabiliteit,” sê sy oor die man met wie sy in 2011 getroud is.

In 2004 het Jacques op ’n toerskip as ’n dokter begin werk, en Sam het vir vier jaar “mev. Skeepsdokter” geword. Terwyl hy na pasiënte omgesien het, het haar liefde vir geregte en speserye van oor die wêreld gegroei.

“Die sjefs het altyd die smake van hul huis berei. Ek het met hulle almal vriende geword. Kos voel vir my na iets wat mense nader aan mekaar bring. Kos doen iets spe­siaals; ’n mens vreet nie net nie.”

Danksy ’n vriend se verwysing het sy ’n kosrubriek vir Woolworths se Taste-tydskrif begin skryf terwyl sy op die skip gewoon het.

Veertien jaar later verskyn haar gewilde rubriek steeds elke maand in die tydskrif.

“Kos is my manier om my storie te vertel,” sê sy. Wanneer sy self kook, hou sy veral daarvan om speserye en knoffel te gebruik.

Haar kombuis is vol warmte en liefde sowel as sketse op papier wat Sebastiaan vir sy ma gemaak het. Sam gebruik veral knoffel en speserye in haar kookkuns. Foto: Misha Jordaan
Pakplek vir Sam se indrukwekkende versameling bree
Pakplek vir Sam se indrukwekkende versameling breekware. Foto: Misha Jordaan

“Ek maak ’n lekker kerrie en waterblommetjiebredie. En ek bak heerlike wortelkoek – dit was my ma se resep. Ek en Sebastiaan bak dit saam.”

Toe sy en Jacques in 2009 besluit om met ’n gesin te begin, het sy besef dit gaan ’n lang pad wees voor die koms van hul kind.

“Ek het vermoed ek is onvrugbaar,” sê Sam. Sy het vrugbaarheidsbehandeling ondergaan, maar “van die begin van die behandeling af gedink: ‘Ag, wat is die punt? Ek wil tog aanneem.’

“Ek het dit altyd in my kop gehad dat ek ’n swart seuntjie gaan hê. Ek het dit jare lank geweet en gevoel.”

Op Oukersaand 2012 het sy uitgevind haar pas afgelope behandeling het nie gewerk nie.

“Ek het die hele Kersdag gehuil,” onthou sy.

Die paar het daarna besluit om ’n baba aan te neem, en Sebastiaan het in September 2013, toe hy vyf maande oud was, deel van die gesin geword.

“Hy is op Vryheidsdag, 27 April, gebore. Dis so ’n betekenisvolle dag vir ons land. Ek vertel hom van apartheid, en hoe sekere ‘vanielje’-mense gedink het dat ‘sjokolade’- en ‘vanielje’-mense mekaar nie kon liefhê nie.

“Ek vertel hom van Nelson Mandela en ons eerste demokratiese stemdag, sy geboortedag.”

Sebastiaan praat Afrikaans en Engels, maar leer ook Xhosa by die gesin se huishoudster, Phumla Nogaya.

“Ek weet hy gaan vrae hê oor sy komplekse identiteit. Maar ek probeer om hom as ’n trotse swart man groot te maak wat nie eendag skaam gaan wees oor sy wit Afrikaner-ouers nie.

“Hy is onweerstaanbaar. Oral waar ons gaan, lok hy mense na hom,” sê sy trots oor hul pragtige kind.

By die voordeur is ’n pakplekkie vir van Seb se speelgoed. Hy hou dit self netjies en verkies dit dat dinge op hul plek moet wees. Foto: Misha Jordaan
Sam geniet dit om te lees. En haar seuntjie, Sebas
Sam geniet dit om te lees. En haar seuntjie, Sebastiaan, is ook mal oor boeke. Sy pa, Jacques, moet elke aand ’n hele paar slaaptydstories lees. Foto: Misha Jordaan

Voor haar dood het Marie al geweet hoe lief Sam gaan wees vir die kind wat sy nooit self geken het nie. Sam onthou haar woorde: “Jou kind is jou kind.”

Hoe het Sam by Kokkedoor beland?

Die vervaardigers van Kokkedoor het Sam al in 2013 genader om ’n beoordelaar te wees in die tweede aflewering van die reeks, maar dit was midde-in haar ma se siekte en haar vrugbaarheids­behandeling, en sy het toe nee gesê.

“Maar toe hulle my verlede jaar weer vra, het ek onmiddellik ingestem,” sê Sam. Laggend voeg sy by dat sy nog altyd “laat was met alles.

“Ek het laat ’n kêrel gehad. Ek het laat besef ek wil ’n joernalis word; dus moet ek nie verbaas wees dat ek op byna 50 die amazing geleentheid gekry het om op televisie aan Kokkedoor te werk nie.”

Wanneer sy geesdriftig oor die reeks gesels, is haar liefde vir kos maak aansteeklik.

“Daar is iets spesiaals daaraan as jy mense van oraloor byeenbring om kos te maak. Dis soos om ’n eier en meel bymekaar te sit en dit lewer dan ’n koek op. Dis magic.”

Tog breek haar hart vir die deelnemers wat die kompetisie moet verlaat. “Maar hulle moet onthou dis net ’n hoofstuk wat eindig; dit is nie die einde van hul storie nie. Gaan huis toe en kook vir die mense wat saak maak.”

Wanneer en waar?
  • Die televisiereeks Kokkedoor word op Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.
  • Sam se medebeoordelaars in die reeks is die sjef en koskenner Hetta van Deventer en die sjef Nic van Wyk.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.