Hy en sy vrou het gesorg vir twee kinders wat in hul pleegsorg was – en toe word hulle boonop geseën met twee van hul eie. Maar saam met die soet, was daar ook die suur.

Dit was vir die 27-jarige deelnemer van Witrivier moeilik om gedurende die verfilming van Kokkedoor so lank van die huis en sy geliefdes weg te wees.

“Dit was baie moeilik vir my om hulle vir so 'n lang tyd alleen te los. Ek dink wat vir my die ergste was, was toe my vrou, Michélle (28), tydens verfilming aan Kokkedoor verjaar het.” Dit was die eerste keer vandat hulle getroud is dat hy nie haar verjaardag bygewoon het nie. 

“Dit was nogal hartseer, maar die enigste groot dryfkrag wat ek elke dag gehad het, was om te weet hoe langer ek in die reeks bly, hoe beter en groter toekoms kan ek vir hulle gee. Dit het my staande gehou,” vertel Pieter.

My stiefpa, Eric, is ook drie weke terug oorlede, so nou is my ma nog alleen op die oomblik.

Maar vanjaar het ook baie hartseer vir Pieter en hul gesin ingehou. Dit was vir hom moeilik om weg van die huis te wees, met sy ma, Magdel, wat ’n stryd teen maagkanker voer.

“Haar kanker was in remissie, maar dit is nou weer terug. Dit is vir ons baie erg, maar ons moet vir haar sterk staan. My stiefpa, Eric, is ook drie weke terug oorlede, so nou is my ma nog alleen op die oomblik, wat dit ook erg maak.

Hy en Michélle, ’n onderwyseres, het vanjaar pleegouers geword vir kinders wat ’n behoefte aan tydelike ouers het. 

“My ma was aangeneem, en een ding wat my vrou geraak het, is dat as iemand nie vir my ma daai geleentheid gegee het om haar aan te neem nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie. 

“Sy het in ’n goeie huis grootgeword waar sy ’n kans op ’n beter lewe gekry het.”

Dit is iets wat hy en Michélle ook graag vir ander kinders wou gee. “Die mooi ding van pleegsorg is dat die kinders se regte ouers tydelik deur ’n moeilike tyd gaan en meeste van die tyd hul lewe wil regruk om weer na hul kinders te kan kyk. Dan moet daar net ’n paar engele wees wat sal sê: Luister hier, ek sal na jou kinders kyk en kry jy solank jou lewe reg.”

Pieter sê sommige ouers gaan deur moeilike tye en soek dan net ’n tydelike veilige hawe vir hul kinders. “Want daai kind van hulle kan dalk die volgende dokter wees wat ’n groot verskil in die wêreld kan maak of ’n ingenieur kan word wat die wêreld sal laat regop sit. En as iemand nie in daai kind glo nie, hoe kan sy daardie potensiaal ontwikkel,” sê Pieter. 

En toe gebeur dit: Dié paartjie wat engele vir ander pleegkinders was, het hul eie twee bondeltjies vreugde gekry. Klein Zion (18 maande) is dié paartjie se biologiese seuntjie en Samuel (4 maande) is hul aangenome seuntjie.

“Dis ’n ongelooflike gevoel om nou twee kinders te hê. Zion het Samuel onmiddellik aanvaar as sy boetie. As Samuel huil, dan bring hy vir hom ’n bottel. Dit maak my hart so gelukkig en bly,” vertel Pieter opgewonde.

Samuel, wie se aanneming vandeesweek amptelik gemaak is, is aanvanklik in dié paartjie se sorg geplaas omdat hy ook prematuur gebore is, soos hul seuntjie, Zion.

“Dit was die Here se wil hoe ons nou bymekaar uitgekom het, want ons het daardie ervaring met so ’n klein baba gehad.

My ma was aangeneem, en een ding wat my vrou geraak het, is dat as iemand nie vir my ma daai geleentheid gegee het om haar aan te neem nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie.

“Maar jy moet baie hare op jou tande het met babas met koelieksindroom,” voeg Pieter by. 

Hulle twee kinders is sy ma se eerste kleinkinders. “Haar kleinkinders laat haar sterk staan.”

Dit maak sy vrou en ma baie trots om hom op Kokkedoor te sien.

“Hulle kan nie wag om Donderdagaande te kyk nie. My ma het ’n hele Kokkedoor-klub wat saam met haar kyk. Dit was haar grootste droom om my daar te sien. Dis lekker om te sien hoe trots hulle is. Dit maak my ma altyd baie emosioneel. En as sy soms hartseer is, kyk sy na vorige episodes van die reeks om naby aan my te voel."

Toe sy jare gelede geskei is, het dit finansieel gesukkel. Pieter is genoop om op die ouderdom van 11 jaar oud by restaurante te gaan werk. “My grootste dryfkrag was ’n paar Bronx-skoene. Ek was so moeg vir kinders wat my gespot het oor my PEP-skoene. Nie dat daar iets fout is met PEP-skoene nie,” voeg hy by. 

As dit nie vir hul finansiële moeilikhede was nie, sou hy nooit in die kosmaakbedryf beland het nie, sê Pieter.

“Ek is baie bevoorreg dat my lewe so ’n draai gemaak het om my by kosmaak te bring.”

“Dit was ook altyd vir my baie belangrik om my ouers trots te maak en hulle te eer,” vertel Pieter, wie se pa, Johann Malan, vier jaar gelede oorlede is. 

En deesdae is hy beslis ’n bekende, danksy Kokkedoor. Hy word nou deur aanhangers voorgekeer, vertel hy laggend. “Dan dink ek dis ’n vriend of familielid en dan moet ek myself knyp en besef ek die enigste manier hoe hulle jou eintlik ken, is deur Kokkedoor. Dis ongelooflik.”

Kokkedoor is Donderdagaande om 20:00 op kykNET op kanaal 144.