Soos te verwagte is die eetgoed vandag hemels: filogebak met Mediterreense groente, koedoesalami en kaas. Afgerond met eksotiese lekkertes soos basilie-sjokoladetertjies, makadamia­neute en droë frambose.

Ons kuier immers by een van die gewildste deelnemers aan die derde seisoen van die kykNET-reeks Kokkedoor. 

Kykers ken Sonja de Beer (52) as ’n energieke raakvatter in die kombuis, en hier in haar mooi rooidakhuis op die lowergroen erf in Pretoria is sy net so ’n geesdriftige gasvrou as wat sy ’n kookwater kok op die kassie is. Hoe dan anders?

Maar toe Sonja ons vertel van die moeilike pad wat sy kort voor die verfilming van die reeks gestap het, raak die vrolike gesels ernstiger. 

Want net enkele weke voor haar oudisie vir Kokkedoor het die sakevrou en voormalige huishoudkundeonderwyseres ’n skokdiagnose ontvang: Sy het borskanker. 

En dit was so hittete of ons het haar nooit in die program gesien nie.  

Want net enkele weke voor haar oudisie vir Kokkedoor het die sakevrou en voormalige huishoudkundeonderwyseres ’n skokdiagnose ontvang: Sy het borskanker.

Toe haar dokter haar verlede jaar op Vrydag 12 Oktober bel en die nuus meedeel, het sy nie onmiddellik besef hoe ernstig dit is nie, onthou sy nou. 

“Toe dit my eindelik later daardie week tref, het ek buite op die gras gaan sit, en ek was so emosioneel. Ek het toe goed gehuil. En kyk, jou eerste vraag is altyd: Hoekom ek? En al antwoord wat na jou toe terugkom, is: Hoekom nie jy nie?” vertel sy, en die trane blink in haar oë.

’n Maand en verskeie mediese onder­soeke later moes sy ’n mastek­tomie ondergaan. 

En net sewe dae ná die groot operasie het sy ’n e-pos gekry waarin sy na die oudisie vir Kokkedoor in Johannesburg genooi is.

In daardie stadium was Sonja so uit­gemergel en gedaan dat sy nie kans gesien het om voort te gaan met die inskrywing nie, maar ’n staatmakervriendin in die Jakarandastad, Adele van der Merwe, het haar aangepor en oorreed. Adele het beloof sy sou saam met haar na die oudisie gaan.

Volgens Sonja was die oudisie baie uitputtend en is sy eindelik huis toe in trane van pyn. 

Soos ons nou weet, was die deurdruk en pyn toe alles die moeite werd, want toe die reeks van einde Januarie tot middel Maart vanjaar in Kaapstad verfilm is, was sy een van die 30 deelnemers voor die kameras. 

Nou is sy een van die laaste agt deelnemers in vier spanne uit wie die wenspan aangewys sal word.

“As jy binne ’n ding is, dan gaan jy baie keer net aan, maar as ek nou terugdink, was dit ’n baie rowwe tyd,” vertel sy.

Sy moes haar emosioneel en fisiek staal vir die uitdaging van die lang ure op die stel.

sonja de beer,kokkedoor,kok
Sonja is mal daaroor om kreatief te wees en moeilike resepte aan te pas sodat dit makliker is vir ander mense om dit ook te maak. Foto: ER Lombard

Kokkedoor was vir my lekker, maar dit was ook ’n kopskuif,” onthou sy. 

“Ek moes baiekeer sterk wees en vir myself sê ek gaan nie op my seer fokus nie; ek kán hierdie ding doen.”

Aan die begin moes sy “net my lyf en alles regop hou”, sê Sonja oor die verfilming van die eerste paar episodes. 

Sy was so moeg en seer dat sy tussen tonele gereeld êrens eenkant gaan lê en musiek luister het. 

Omdat die verfilming binne net drie maande ná haar groot operasie begin het, het die chirurg vir haar genoeg sterk pynpille gegee.

“Dit was die eerste keer dat ek weer fisieke harde werk moes doen en dit het beslis dinge vir my moeiliker gemaak.”

Sy het aanvanklik verkies dat die ander deelnemers nie van haar stryd teen borskanker weet nie, want sy wou nie anders behandel word nie. 

Dit was ook vir haar belangrik dat haar pyn nie haar spanmaats benadeel nie.

“Ek is baie gedrewe en wil altyd ’n ding klaarkry wanneer ek dit begin het.”

“Dis dalk hoekom ek soos ’n fighter lyk; ek moes veg om myself regop te hou. Die pad wat ek met my siekte gestap het, is deel van die rede dat ek sterk gestaan het.”

Gelukkig het die ander deelnemers haar toe goed leer ken en ondersteun. 

“Dis dalk hoekom ek soos ’n fighter lyk; ek moes veg om myself regop te hou. Die pad wat ek met my siekte gestap het, is deel van die rede dat ek sterk gestaan het.”

Hulle het eers nader aan die einde van die reeks uitgevind sy het so kort voor die verfilming ’n mastektomie ondergaan.

“Namate die groep kleiner geraak het, het die ander deelnemers my werklik gedra en bemoedig,” vertel Sonja. 

“Dit het my weer laat besef jy moet jou storie deel. Soos wat jy mense bemoedig, word jy ook bemoedig.” 

“As jy self deur moeilike tye is, word jy ’n soort bemoediger vir ander,” sê Sonja. 

“Ek weet die liewe Vader wou hê dat ek deur daardie skendingsproses gaan om iets in my te dra – iets wat empatie en hoop vir ander mense gaan gee.” 

Sy glo sy kyk nou met sagter oë na mense en weet jy moet by iemand se hart uitkom en altyd die storie agter die mens leer ken.

“Dit is wat Kokkedoor my geleer het: Moenie op jouself fokus nie, en kyk eerder na ander mense. Vergeet van jou eie swaar. En as jy dít doen, kan jy deurdruk.”

Hoewel kykers haar elke week op die kassie sien, volg Sonja en haar gesin die episodes by vriende omdat hulle nie self ’n TV-stel het nie. 

“Daar is nie tyd in ons huis vir TV ook nie; dan gaan ons mekaar nooit sien nie. Ons maak tyd om by ’n tafel te sit, te eet en te kuier.”

Sonja en haar man, Wilhelm, ’n mikrobioloog aan die Universiteit van Pretoria, woon al die afgelope 21 jaar in hul huis op die universiteit se proefplaas. 

sonja de beer,william whire,kokkedoor
Sonja kook hier saam met haar ­mededeelnemer ­William White, wat ­onlangs uit die reeks gestem is. Foto: Verskaf

Dit is hier waar hulle hul kinders, Zach (23), Petro (21) en Marthinus (15), grootgemaak het. Die jongste twee woon nog in die huis.

Die omgewing is prentjiemooi, en buiten die geluid van ’n vragmotor of ander plaasvoertuig af en toe hoor jy net die getjirp van voëls. 

As een van vyf kinders wat op ’n plaas buite Middelburg in die Oos-Kaap grootgeword het, is Sonja dolgelukkig en baie tuis in dié omgewing. 

“Van my mooiste kinderherinnerings is ook van plaastye, die Junievakansie­kuiers by my oupas en oumas op hul ­plase in die Colesberg-omgewing,” onthou Sonja. 

Haar liefde vir kook is veral gekoester deur haar ouma aan moederskant. 

“Ek onthou hoe ek in hul plaashuis se gang afstap en ruik hoe sy die koffiebone rooster. En elke Donderdagaand het sy deeg ingesuur sodat jy Vrydagoggend vars aartappelsuurdeegbolletjies kan eet,” sê Sonja.

Dié goeie herinnerings het haar veral geïnspireer om ons koserfenis te bewaar.

“Ek wil hê ons Suid-Afrikaners moet die kostradisie-aflosstokkie aan ons kinders aangee.”

Om dié rede het sy 15 jaar gelede haar eerste kookklas aangebied. Dit was by ’n vriendin se huis en die klas het uit ses vroue bestaan. 

Nou bied sy gereeld kookklasse aan, onder meer in haar eie agtertuin, by mense se huise en by Euro Appliances, ’n winkel wat kombuistoebehore verkoop, in Pretoria. 

“Dit is wat Kokkedoor my geleer het: Moenie op jouself fokus nie, en kyk eerder na ander mense. Vergeet van jou eie swaar. En as jy dít doen, kan jy deurdruk.”

“Ek sal ’n vrek moeilike resep aanpas en so maklik maak dat elkeen wat by my klas uitstap die resep by die huis kan maak,” verduidelik sy haar klasgee-filosofie.

“Ek wil ook mense motiveer om weer brood te bak sodat hul kinders brood en beskuit in die huis kan ruik.”

Uit die klasse het sy ’n reeks produkte soos speserye, bykosse en slaaisouse onder die etiket Sonja’s Flavour Co. ontwikkel. 

Na afloop van die Kokkedoor-reeks wil sy meer tyd aan die verspreiding van haar produkte bestee. 

Sy beplan ook ’n heruitgawe van haar resepteboek, Kom kuier om my tafel, wat in 2013 verskyn het. 

En ja, natuurlik sal die nuwe boek ’n paar Kokkedoor-resepte en foto’s insluit.

“My hartstaak is om met kos mense bymekaar te bring en hulle lekker te laat voel. 

“Ek sê altyd in my kookklasse: As jy met liefde kos maak en jy sit jou hart in die kos, gáán dit vir mense lekker wees.” 

  • Kokkedoor is Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien. Die laaste episode word op 10 Oktober uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.