Neil Sandilands.

Hierdie woorde van die akteur Neil Sandilands het aanhangers in die sosiale media opgewonde gemaak oor die vooruitsig om hom terug te hê in ons land.

Kom werk hy hier? Of kom kuier hy net?

"So 'n bietjie van albei, werk en speel," laat Neil geheimsinnig per boodskap op Facebook aan Huisgenoot weet. "Nope not permanent, maar vir ’n goeie ruk, waarskynlik ’n halwe jaar.

"Wag nog op bevestiging van presiese datums ensovoorts, sal sien, maar ook moontlikheid van reeks in Vancouver, so for the moment taking it as it comes. Ook familie-sake," voeg hy by navraag van Huisgenoot by.

Hy woon deesdae in Amerika in die ooste van Los Angeles in Kalifornië.

"Ek doen tombola, groeps- en individuele psigo-analise, is vreemdsnaaks gedurende werkstye, potjiekoskompetisies, juggle (3), TV-programme en films, lees tekste, kritiseer graag, sing op ander mense se albums, kan breedvoerig gesels oor Nietzsche, rugby, politiek, geloof en het (die Amerikaanse aktrise) Christina Hendricks se nommer op my foon," vertel hy op sy Facebook-blad.

"Ramkataande, damestees, koekverkopings, visvang, kinderpartytjies, geesvang en sal ook luister as iemand ‘n politieke party wil stig wie se oorhoofse filosofie bloot dit is: kom ons stig en beoefen soveel as moontlik partytjietruuks. O, en ek braai. Sien uit na jou dorp, jou mense."

Die Suid-Afrikaanse akteurs Kim Engelbrecht en Neil Sandilands in The Flash.

In Hollywood het hy bekend geraak as die superbooswig wat in onder meer die vierde seisoen van die Amerikaanse TV-reeks The Flash te sien was. Hy was hier by ons op die kassie in 2000 die deli-eienaar Bart Kruger in die sepie 7de Laan.


Neil het ook al rolle in gewilde reekse soos House, NCIS en The 100 vertolk.

Ná langer as tien jaar in Amerika het Neil eindelik op 23 Mei 2018 sy burgerskap gekry. Hy word op 1 Mei 45 jaar oud.

In Hap and Leonard.

Een van die onlangse rolprente waaraan hy gewerk het, was saam met die Hollywood-ster Tom Hanks in die cowboy-fliek News of the World.

Vir eers wil die akteur nie te veel verklap oor die projekte waaraan hy hier in Suid-Afrika en in Hollywood gaan werk nie, maar hou hierdie spasie dop!