Dit sal ongetwyfeld ’n spesiale geleentheid vir die koninklike egpaar wees wat verlede jaar hul 72ste huweliksherdenking afsonderlik deurgebring het. Die koningin het op daardie dag amptelike verpligtinge in Londen gehad en Philip was in Windsor. 

Terwyl die paleis nie hul amptelike planne vir vanjaar bekendgemaak het nie, sal hulle die dag hopelik saam kan deurbring.

Buckinghampaleis het ’n foto van die koninklike egpaar uitgereik om hul huweliksherdenking te vier.

In die kiekie lees die koningin en prins Philip ’n kaartjie wat hul kleinseun prins William en sy vrou, Kate, se drie kinders, prins George (7), prinses Charlotte (5) en prins Louis (2) vir hulle gemaak het.

Die Britse monarg en haar man is diep in hul goue jare, en die band tussen hulle is steeds so indrukwekkend sterk soos altyd. Hoewel nie een van hulle graag stroperig raak oor die ander een nie, het die koningin haar man al as haar “krag en anker” beskryf, en albei het glo ’n ondeunde humorsin.

In 2022 sal die egpaar hul diamanthuweliksherdenking vier. Dit sal saamval met die koningin se platinumjubileum ter viering van 70 jaar op die troon – die langste nóg van enige Britse heerser. 

Hul huwelik is ook beslis een van die langste – en sterkste – huwelike in die Britse koninklike familie.

Hier is van die koninklike egpaar se mooiste oomblikke

Die pasgetroudes op 20 November 1947 by Buckinghampaleis nadat hulle by die Westminster-abdy getroud is. Die destydse prinses Elizabeth het ’n rok deur Norman Hartnell gedra. Op haar kop was koningin Mary se diamanttiara – dieselfde een wat haar kleindogter prinses Beatrice in Julie vanjaar op haar troudag gedra het. 

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die egpaar geniet ’n wandeling op hul wittebrood by Broadlands House in Hampshire, wat aan Philip se oom lord Mountbatten behoort. 

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

Elizabeth en Philip kom in September 1951 by die rolprentpremière van The Lady with a Lamp by die Warner-teater in Londen aan.

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die ma van vier staan op die balkon van Buckinghampaleis tydens die vaandelparade in Junie 1964 met haar jongste kind, prins Edward, in haar arms.

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die egpaar ontspan in 1974 met hul corgi’s en ’n koerant by hul Skotse wegbreekplek, Balmoral-kasteel.

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Amptelike portret van die koninklike paar. 

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

Elizabeth, ’n groot perdeliefhebber, en Philip besoek in 1972 ’n plaas op die Balmoral-landgoed tydens hul silwerhuweliksherdenking.

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die twee kyk liefderik na mekaar tydens hul Statebondstoer na Nieu-Seeland in 1974. Agter hulle is hul dogter, prinses Anne, en haar eerste man, kapt. Mark Phillips.

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die egpaar by Broadlands House in November 2007 tydens hul diamanthuweliksherdenking ter viering van 60 jaar as getroudes. By hulle is hul kinders (van links): prins Charles, prins Andrew, prinses Anne en prins Edward.

koningin elizabeth,prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images