Die koningin se oudste kleinseun, Peter Phillips,
Die koningin se oudste kleinseun, Peter Phillips, en sy vrou, Autumn, se huweliksbootjie is finaal op die rotse. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die voormalige egpaar (albei 43) het vroeër die week in ’n amptelike verklaring gesê al die finansiële aspekte van hul egskeiding is uitgeklaar en deur die hof goedgekeur. 

“Hoewel dit ’n hartseer dag vir Peter en Autumn is, gaan hulle voort om die welstand en opvoeding van hul wonderlike dogters, Savannah (10) en Isla (9), eerste te stel,” lui die verklaring. 

“Peter en Autumn is verheug dat hulle hul sake op vriendskaplike wyse opgelos het, met die kinders wat op die voorpunt van hul denke en besluite is.”

Peter, die seun van koningin Elizabeth se dogter, prinses Anne (70), en haar eerste man, Mark Phillips (72), is die eerste Britse koninklike van sy generasie wat skei.

Hoewel hy die koningin se oudste kleinkind is, het Peter nie ’n koninklike titel nie omdat Anne en Mark die koningin se aanbod vir ’n titel met sy geboorte van die hand gewys het. 

Toe Peter en Autumn se egskeidingsplanne in Februarie 2020 aangekondig is, het bronne na aan die egpaar hul skeiding as “ietwat van ’n bewustelike ontkoppeling” genoem. 

“Daar is geen bitterheid nie. Hulle het ongelukkig uitmekaar gegroei. Hulle praat al ’n ruk lank oor hul huweliksprobleme en die familie weet dat dit sedert verlede herfs nie goed gaan met hulle nie.”

Peter en sy Kanadees-gebore vrou, Autumn, is laas in September 2019 saam in die openbaar gesien toe hulle die jaarlikse Highland Games-byeenkoms in Braemar, Skotland, saam met die koningin en Peter se oom prins Charles bygewoon het. 

Hulle het daardie jaar nie by die koninklike familie vir die Kersdag-kerkdiens by Sandringham in Norfolk, Engeland, aangesluit nie en Peter het op sy eie ’n kerkdiens in Januarie 2020 bygewoon. 

Die tweetjies het onlangs in ’n verklaring belowe
Die twee het onlangs in ’n verklaring belowe om die welstand van hul “wonderlike dogters” te prioritiseer. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Peter het vir Autumn Kelly in 2003 by die Formule Een Grand Prix in haar tuisstad, Montreal, ontmoet. Hy was deel van die bemarkingspan vir Williams Racing en Autumn het in die BMW-gasvryheidstent as ’n “Budweiser-meisie” gewerk. 

Die twee was dadelik aangetrokke tot mekaar, maar Peter het sy bloubloed-bande stil gehou. Hulle het ’n verhouding aangeknoop en Autumn het ’n paar weke ná hul ontmoeting na Engeland gereis. 

Sy het eers ontdek haar nuwe liefde is koningin Elizabeth se kleinseun toe sy na ’n televisieprogram oor sy neef prins William se 21ste verjaardag gekyk het en ’n foto van Peter oor die skerm gesien flits het. Haar ma, Kitty, wat langs haar gesit het, het glo vir haar dogter gesê: “Waarin het jy jouself begeef?”

Autumn het ten spyte van die skok besluit om voort te gaan met die verhouding en het selfs ’n permanente werk in Engeland aanvaar. 

Peter het ná vier jaar saam die groot vraag gevra en hul verlowing is op 28 Julie 2007 aangekondig. Die twee het op 17 Mei 2008 voor 300 gaste by die St. George-kapel by die Windsorkasteel afgehaak. Onder die gaste was koningin Elizabeth en haar man, prins Philip, Anne en Peter se neef prins Harry.

Autumn het ’n trourok deur Sassi Holford en die Festoon-tiara gedra wat haar skoonma vir haar geleen het. Peter se suster, Zara, was een van haar ses strooimeisies. 

Peter en Autumn het in 2003 ontmoet, en vyf jaar l
Peter en Autumn het in 2003 ontmoet, en vyf jaar later die knoop deurgehaak. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die vroue het ’n hegte band ontwikkel en Autumn en Peter het tydens hul huweliksjare naby Zara en haar gesin op Aston Farm gewoon. Dit grens aan Anne se plattelandse landgoed Gatcombe Park in Gloucestershire, Engeland. 

Paleisbronne sê die verbrokkeling van Autumn en Peter se huwelik was pynlik vir die koningin wat ’n hegte band met Autumn het. 

“Autumn is een van die koningin se gunstelinge en ek is seker die koningin sal ontsteld wees hieroor,” het ’n bron verlede jaar gesê.

Maar ten spyte van hul egskeiding is Autumn nog deel van die familie en volgens ’n familievriend sal sy steeds werk saam met Peter se suster, Zara (40), en haar man, die afgetrede rugbyspeler Mike Tindall (42). Sy help om hul gholfbyeenkomste vir bekendes te reël.

“Sy sien elke dag vir Mike en Zara en dit gaan nie verander nie. Hulle het almal ’n hegte band,” het die bron gesê.

“Die familie is hartseer, maar ondersteun die situasie. En Peter en Autumn vat dinge stap vir stap.”

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, THESUN.CO.UK, VANITYFAIR.COM, EXPRESS.CO.UK, BBC.CO.UK
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.