Peter Phillips, die koningin van Brittanje se ouds
Peter Phillips, die koningin van Brittanje se oudste kleinseun. Foto: Gallo Images/Getty Images

Prinses Anne se seun is oor die naweek in Skotland deur die polisie ondervra nadat plaaslike mense gewonder het hoekom hy tydens die inperking in die land was. 

En dit klink of dit oor die liefde was. 

Peter (43) het blykbaar 740 km van sy huis in Gloucestershire in die suidweste van Engeland gery om in die Skotse dorpie St. Cyrus in Aberdeenshire te gaan kuier by ’n vrou wat skynbaar sy nuwe liefde is.

Lindsay Wallace (40), ’n geskeide ma van twee, is glo ’n jare lange vriendin van Peter se suster, Zara Tindall (39), en het in 2011 Zara se troue met die oudrugbyspeler Mike Tindall bygewoon. 

Albei vroue en Peter was leerders by die privaat Skotse spogskool Gordonstoun.

Peter is glo “smoorverlief” op die aantreklike blondine wat die dogter van ’n oliemagnaat is.

Maar ongelukkig vir hom het die kuiertjie op en wakker inwoners dwars in die krop gesteek. Hulle het hom by die polisie aangegee nadat sy motor in Lindsay se oprit opgemerk is.

Toe die polisie Peter konfronteer, het hy verduidelik hy is op ’n sakereis. Daarom het hulle besluit hy ootree geen covid-19-reëls wat nie-noodsaaklike reis verbied nie. 

Peter by sy ouma, koningin Elizabeth
Peter by sy ouma, koningin Elizabeth. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Woordvoerder vir Peter, ’n bemarkingskonsultant, sê hy was op ’n sakereis vir sy onderneming, XL Medical, wat covid-19-kitstoetse verskaf.

“Ons lewer nie kommentaar oor besonderhede of omstandighede van mnr. Phillips se verblyf wanneer hy vir sake reis nie,” het hy gesê.

Die dorp se mense byt nie aan die verskoning nie. 

“Dit voel verkeerd dat hy van Engeland hierheen gereis het, wat die omstandighede ook al is,” het ’n inwoner gebrom. “Skotland is gesluit, en as jy hierheen vlieg, moet jy vir 10 dae in kwarantyn gaan.” 

Peter is ’n losloper nadat hy in Februarie verlede jaar van sy Kanadese vrou, Autumn (42), geskei is. Hulle was ’n dekade lank getroud. 

Al is hulle geskei, woon hulle weens die inperking steeds in die gesinshuis op sy ma se landgoed Gatcombe Park in Gloucestershire saam met hul twee dogters, Savannah (10) en Isla (9).

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, NEWS.COM.AU