Die Britse matriarg se man van die afgelope 73 jaar is op 9 April op 99-jarige ouderdom oorlede. Die hertog van Edinburgh is Saterdag begrawe.

Koningin Elizabeth, wat op 21 April haar 95ste verjaardag vier, gaan glo weens haar man se afsterwe en die covid-19-pandemie net ’n klein viering hou. ’n Koninklike bron het aan die Britse media gesê die koningin gaan tyd saam met ’n klein groepie van haar familielede deurbring om haar verjaardag te vier. 

Sy het in ’n boodskap in die sosiale media geskryf sy is dankbaar vir al die seënwense op haar verjaardag. “As 'n familie is dit wel vir ons ’n tydperk van geweldige hartseer. Dis ’n vertroosting om die huldeblyke aan my man te sien en hoor.”

Maar nie die hele gesin gaan saam met haar haar mylpaal vier nie.

Haar kleinseun prins Harry het Dinsdag, ’n dag voor sy ouma se verjaardag, teruggekeer na Kalifornië in Amerika na sy hoogswanger vrou, Meghan, en hul seuntjie, Archie, wat in Mei sy tweede verjaardag vier.

Dinge is glo nog broos tussen Harry en sy broer, prins William, ná Harry en Meghan se opspraakwekkende biegsessie met die kletskoningin Oprah Winfrey. Ná prins Philip se emosionele begrafnis het die broers “babatreë” geneem om hul verhouding te genees toe hulle saam van St. George's-kapel na Windsor-kasteel gestap het.

William se vrou, Kate, het glo vredemaker gespeel.

Die broers en hul pa, prins Charles, het ook later gesels. Charles en William wou Harry glo saam ontmoet sodat woorde nie verdraai kon word nie, berig Daily Mail.

“Die koningin sal nie op haar verjaardag alleen wees nie,” het ’n bron aan The Mirror gesê.

“Sy sal ander hê wat diep vir haar omgee en daar wil wees om haar te ondersteun in haar dringendste uur.” 

Haar dogter, prinses Anne, en skoondogter Sophie, die hertogin van Wessex, was glo van die eerste mense wat haar besoek het.

Die koningin sal die dag rustig in die Windsor-kasteel deurbring en daar word verwag dat sy saam met haar honde sal gaan stap, iets wat ’n groot troos was in die dae sedert prins Philip se dood, berig die Britse media. 

Haar seun prins Andrew het glo in Februarie die twee honde vir sy ma gegee as vertroosting toe Philip in die hospitaal was en van 'n hartoperasie herstel het. Die dorgi heet Fergus, na die familielid Fergus Bowes-Lyon wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in Frankryk oorlede is, en die corgi het sy Muick genoem na Loch Muick, ’n meer op die Balmoral-landgoed in Skotland.

“Die koningin het nie beplan om nuwe honde te kry nie, want sy was bang sy raak te oud,” vertel 'n bron aan The Sun. “Maar Andrew het sy ma verras met twee nuwe hondjies toe sy alleen gevoel het in die kasteel nadat die hertog hospitaal toe geneem is."

Dis ’n tradisie om op die Britse monarg se verjaardag ’n nuwe foto van haar aan die publiek uit te reik, maar daar gaan vanjaar weens die hertog van Edinburgh se afsterwe geen verjaardagfoto uitgereik word nie.

Daar is wel ’n foto van een van haar vorige koninklike verpligtings uitgereik. 

Die koningin se amptelike rouperiode is tot Vrydag – tot dan sal sy nie enige koninklike pligte verrig nie. 

Hoewel sy op 21 April gebore is, het sy ook gewoonlik ’n amptelike verjaardag in Junie wat as die “Trooping the colour”-parade bekendstaan.

Dié parade gaan ook nie vanjaar aangebied word nie, het bronne na aan Buckinhampaleis gesê. Dit het verlede jaar ook nie weens die covid-19-pandemie plaasgevind nie. 

Bronne: Harpersbazaar.com, dailymail.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe