Lede van die koninklike familie het hulde aan prins Harry se vrou, Meghan, gebring terwyl sy haar verjaardag vier. 

Boodskappe is van die amptelike sosialemediarekeninge van koningin Elizabeth, prins Charles, en prins William en sy vrou, Catherine, aan Meghan gestuur, berig The Evening Standard.

Haar majesteit se verjaardagwens is op die koninklike familie se amptelike Twitter-rekening gedeel saam met ’n roerende foto van Meghan en die koningin tydens hul eerste gesamentlike openbare verskyning in 2018.

Die hertog en hertogin van Cambridge het ook gelukwense gestuur. Die Kensingtonpaleis het ’n foto gedeel waarop Meghan vir ’n kind glimlag. 

“Ons wens vandag die hertogin van Sussex ’n baie gelukkige verjaardag toe,” lui die plasing. 

Prins Charles en sy vrou, Camilla, het ook op hul rekening, Clarence House, van hulle laat hoor.

“Gelukkige verjaardag aan die hertogin van Sussex!” lui die plasing.

Terwyl koninklikes en aanhangers se boodskappe instroom, sal Meghan en Harry na verwagting privaat saam met hul 14 maande seun, Archie, en Meghan se ma, Doria Ragland, verjaardag hou, berig NZ Herald.

Die egpaar woon nou in Los Angeles en sal waarskynlik die laaste jaar van haar 30’s stil vier. 

Harry en Meghan het na Amerika verhuis weke voor die coronaviruspandemie losgebars het en leef sedertdien in afsondering. 

Bronne: The Evening Standard, Twitter, NZ Herald