Marie Pentz. Foto: Verskaf
Marie Pentz. Foto: Verskaf

In die regte lewe is sy duidelik net so ondeund soos haar karakter, Mietie, in die gewilde Koöperasiestories, wat deur kykNET aan ’n hele nuwe generasie bekendgestel word.

Tannie Mietie, Veldsman (Emgee Pretorius) en Genis (Jacques Loots) het altyd te lekker op die stoep gesit en skinder oor die dorpenaars van Gezinasrus, wat deur PG du Plessis geskep is.

“Van die drie op die stoep is ek die enigste een wat nog lewe,” sê Marie. “Ek was baie jonger as hulle twee – 39 of 40 – en was aanvanklik nie baie lus om ’n tannie te speel nie, maar ek is bly vir daardie wonderlike tye,” voeg sy by.

“Ons het nooit aan die begin kon dink hoe gewild dit gaan wees nie.” Die reeks is van 1983 tot 1985 op die SAUK uitgesaai. In 1986 het die fliek Liewe Hemel, Genis! begin draai. “Ek het gedink dis ook baie oulik gedoen," meen sy.

Deesdae bly Marie in haar familie se houthuis by die see. “Ek het grootgeword onder die berg in Kaapstad, so ek is maar ’n Kapenaar, maar moes Johannesburg toe trek vir die TV-werk.”

Sy is eintlik ’n verhoogaktrise en het haar buiging op die kassie gemaak in Bosveldhotel in 1980, waarin sy ’n jonger Tilla Nel gespeel het.

Sy het in Oktober 2019 Stilbaai toe getrek.

“Die mense het my herken,” vertel sy. “Maar toe gebeur die inperking en ons dra maskers en mense eien my toe nie meer nie. Dit was lekker vir ’n ruk, maar toe mis ek die geselsies sonder ’n masker,” onthou sy.

“My pa het hier naby op ’n plaas buite Riversdal grootgeword, so ek was bekend met hierdie mooi plek van kleins af. Ek is gewoond aan die wind wat jou omwaai.”

Van links is June van Merch, Marie Pentz, Lee-Ann van Rooi en Ilse Oppelt in die sitkom Fishy Fêshuns.
Van links is June van Merch, Marie Pentz, Lee-Ann van Rooi en Ilse Oppelt in die sitkom Fishy Fêshuns.

Sy was ook die minlike Vera in e.tv se sitkom Fishy Fêshuns, wat in die laat 1990's in Kaapstad, naby die hawe, opgeneem is.

“Ons moes onder die brug parkeer, en daar was ’n ou vroutjie wat uit die bloute luidkeels vir my kom sê het: ‘I’m still alive.’ Nou sê ek dit ook vir jou. Ek lewe.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe