Kykers van kykNET se gewilde maatsoekreeks, 'Boer soek ’n vrou', het in vanaand se episode nege gesien hoe elkeen hul hart teenoor mekaar moes oopmaak.  Maar die krake het reeds begin wys . . . 

Daar was onverwagte drama op Hentie se plaas toe Leah vir hom sê Hester dra iets op die hart.

Die bekommernis was duidelik op sy gesig sigbaar. Toe bars die bom: sy voel die vonk wat daar tussen hulle was, het getaan; daarom sien sy nie kans om met die kuier aan te gaan nie, want dit is nie meer vir haar die moeite werd nie, het sy gesê. En daar pak sy haar tasse!

Voor dit het Hentie, Hester en Hantie in ’n groepsaktiwiteit ’n vetplant-tuin in ’n ou bad op die erf aangelê. Dit het op die oog af gelyk of almal dit geniet, maar Hester het gekla dat sy die idee kry dat Hantie die geselskap oorheers.

Nikola het ook sterk getwyfel of sy die regte keuse vir boer Graham gaan wees. Sy voel nog net vriendskap, het sy gesê.

Boer Graham sorg dat Ilne en Nikola veilig is op d
Boer Graham sorg dat Ilne en Nikola veilig is op die perde.

Graham, Nikola en Ilne het die dag begin met wat veronderstel was om ’n perdrit deur die veld te wees, maar eintlik het net die twee meisies gery terwyl Graham saamgestap het. Hy was te op sy senuwees dat hulle iets sou oorkom, vertel hy.

Omdat niemand afgeval of beseer is nie, het hy hulle tot by ’n gronddam gelei en ’n bottel vonkelwyn oopgemaak.

“Ek was meer op my gemak toe hulle van die perd af is as toe bo-op die perd was,” erken hy.

Willem het saam met Sanel en Carissa ’n piekniek-ontbyt op ’n berg geniet voor elkeen van die twee meisies alleentyd saam met die boer gehad het. 

Damian en Ivan.
Damian en Ivan.

Nes Willem het boer Damian sy twee gaste ook na ’n koppie op sy plaas vir ontbyt geneem vanwaar hulle oor die hele plaas kon uitkyk.

Andrew het in trane erken “’n mens begin gevoelens kry, maar dan raak jy bang dat dit dalk nie jy gaan wees nie”.

Aan die anderkant sê Ivan weer dat hy glad nie 'n emosionele mens is wat maklik emosie kan deel nie.

Dit lyk wel of boer Theunis en sy twee kuiermaats goed oor die weg kom. Marcia en Renette maak selfs heel ingenome beurte om voor in die bakkie te sit!

Maar hoe voel die vyf boere wat na die liefde opsoek is nou ná vanaand se episode?

Damian: Andrew is ’n bietjie van ’n dark horse wat sy gevoelens betref. Ivan was meer ’n oop boek. Ek kon effens meer sien. Niemand is perfek nie; ek het maar my dinge. Eintlik is die groot besluit met wie se nonsens jy die meeste opgeskeep kan sit.

Willem: Ek het reeds al ’n idee in my kop gehad wat gaan gebeur, maar hulle het my baie deurmekaar gemaak, o jinne! Ek het ingeskryf met die idee om iemand te kry en geluk te vind. Ek hoop en bid dat die persoon wat ek gaan kies, dan daai ene is en ’n wonderlike toekoms gaan hê.

Graham: Ek wou hê die dinge moet spontaan en vanself gebeur; daarom het ek dit van dag tot dag gevat. As ’n mens nie vrede in jou hart het nie, dan is dit nie reg nie. As ’n mens vrede het, dan kan jy maar go met die ding. Maar een ding waarvoor ek bang is, is dat ek nie genoeg oopgemaak het voor die meisies nie. Maar ná episode 9 het ek reeds besluit wie ek in die volgende episode gaan kies. Ek is ’n sucker vir verlief word.

Theunis: Die dames het effens moeg gelyk, maar ek het maar gehoop dit is van fisieke uitputting en nie omdat hul moeg vir my geselskap was nie! Dis maar moeilik om te weet wat in ’n vrou se kop aangaan, tensy sy dit presies vir jou sê. En al het sy vir jou gesê wat in haar kop aangaan, kan dit baie vinnig verander. Kommunikasie is dus belangrik.

Hentie: Ek verstaan en respekteer Hester se gevoelens.

Boer Hentie en Hantie leer mekaar beter ken.
Boer Hentie en Hantie leer mekaar beter ken.