Die oomblik toe Reeza Hendricks na die kleedkamer stap ná daardie onlangse krieketprestasie wat van hom die sportster van die oomblik gemaak het, was daar ’n dringende oproep wat hy na Suid-Afrika moes maak.

Sy verloofde, Lee-Ann Barlow, kon nie in Sri Lanka wees om hom in die Proteas se wedstryd teen dié land te ondersteun nie, maar Reeza (29) het geweet Lee-Ann (31) sal, ten spyte van die tydsverskil, vasgenael voor die televisie sit om na die wedstryd te kyk.

Sy het daardie oggend immers al halfses opgestaan om in te skakel. Dit was haar geliefde se groot oomblik op die krieketveld.

Hy het in dié wedstryd in die stad Kandy die vinnigste honderdtal nog in ’n debuut in internasionale eendagkrieket aangeteken deur 102 lopies van net 89 balle in te ryg.

Reeza en sy verloofde, Lee-Ann Barlow, is dolverlief en haak in September vanjaar af. Foto: Sharon Seretlo

Reeza onthou die oomblik steeds glashelder, al het dit reeds ’n paar weke gelede gebeur.

“Ek was regtig in my skik,” vertel die kolwer. “Gewoonlik gaan ek nie tekere nie, maar ek dink ek het dié slag in die lug gespring en geskree. Ek kan daai gevoel nie beskryf nie,” sê hy en sy woorde raak op.

Sy kragtoer het die Proteas die reeks help wen en hom die speler van die wedstryd gemaak. Vandag is Reeza nie in die Groen-en-Goud van sy Protea-pakkie geklee nie; hy lyk gemaklik en ontspanne in jeans, ’n skitterwit T-hemp en gemaklike skoene.

Hy kyk gereeld liefderik na Lee-Ann waar sy langs hom sit. Sy is ’n biokinetikus wat deesdae as binneversierder werk en is glad nie skaam om te erken dat sy ’n rol in sy sukses speel nie.

“Ek moedig hom heeltyd aan,” vertel sy.

“Wanneer hy sy kop vir die volgende wedstryd moet regkry, sê ek vir hom: ‘Jy weet, senuwees is ’n goeie ding,’ en ek gee hom elke nou en dan ’n pep talk. Ek sê altyd ons kan nie regmaak wat verby is nie; ons moet fokus op wat voorlê.”

Wanneer ’n mens nou na Lee-Ann luister, kan jy nie glo sy het nie in krieket belanggestel voor sy en Reeza mekaar agt jaar gelede ontmoet het nie. “Ek het nie geweet waarvoor ek my inlaat nie,” sê sy laggend.

Hoe het dinge nie verander nie, want nou is Lee-Ann sy grootste ondersteuner.

Reeza vertel dit het alles begin toe hy as tjokkertjie saam met sy maatjies in Kimberley se strate krieket gespeel en wedstryde in die De Beers Diamond Oval bygewoon het.

Hy onthou die skare se gebrul wanneer legendes soos Herschelle Gibbs en Jacques Kallis sesse geslaan het. Hy het op die paviljoen sit en droom van die dag dat mense hom ook so sal toejuig.

’n Tien­jarige Reeza saam met een van sy kriekethelde, Jacques Kallis. Foto: Verskaf

“Ek dink ek was so vyf of ses toe ek begin krieket speel en dol raak oor die sport,” onthou hy.

Hy was ’n negejarige kannetjie aan die Laerskool West End in Kimberley toe hy provinsiale krieket vir die Griekwas se o.11-span begin speel.

Sy groot geleentheid het aangebreek toe hy maar nog in matriek was aan die Hoërskool Noord-Kaap: ’n Agent het hom gebel met die nuus dat hy gekies is vir die destydse Diamond Eagles, die span van die Vrystaat en Noord-Kaap wat vandag die VKB Knights genoem word.

“Ek was eerlikwaar verbaas; ek het dit nie verwag nie,” sê hy.

Van toe af was hy ’n gewilde spankeuse en hy het onder meer vir Suid-Afrika se o.19-span gespeel voor hy by sy huidige span, die Highveld Lions, aangesluit het.

“Ek dink dis eers toe ek die Suid-Afrikaanse o.19-span haal dat ek begin dink het ek sal ’n loopbaan van krieket kan maak en dalk eendag vir die Proteas speel.”

Hy het vier jaar gelede saam met die Knights geoefen toe hy die oproep ontvang wat sy lewe verander het.

Hierin is hy meegedeel hy is vir die Proteas se T20-span gekies. En natuurlik het hy Lee-Ann onmiddellik daarna gebel om die groot nuus te deel.

“Toe hy my bel, het ek hom met ’n klomp vrae gepeper. Ek dink ek het selfs gevra of hy jok,” vertel Lee-Ann.

Toe hy sy T20-debuut teen Australië op die Adelaide Oval maak, is hy ongelukkig vir ’n nulletjie geboul. Hoewel hy uiteraard baie teleurgesteld was, het hy nie toegelaat dat dit sy selfvertroue knou nie, en sedertdien is hy ’n belangrike deel van die Proteas se T20-span.

Elke keer wanneer hy sy beenskutte aantrek, weet hy dis met Lee-Ann se volle ondersteuning, al gebeur wat in daardie kolfkampie.

Dié twee het mekaar in 2009 in haar tuisstad, Bloemfontein, ontmoet.

Hulle was toe albei in ’n ander verhouding, maar het vriende gebly en ’n jaar later begin uitgaan. Hulle deel nou ’n woonstel in Bryanston, Johannesburg, en sien daarna uit om die res van hul lewe saam te wees.

Reeza sê sy ouers, Raphael (57) en Soraya (54), en susters, Sharee (25) en Schae (20), behandel Lee-Ann reeds asof sy deel van die familie is. “As my pa kwaad is oor krieket of ongelukkig is oor iets, bel hy haar,” vertel Reeza laggend.

In 2006 saam met sy ­ouers, Soraya en Ra­phael. Foto: Verskaf

Lee-Ann sê sy bewonder sy ouers se steun.

“Hulle sal van Kimberley na Johannesburg ry om na ’n wedstryd te kyk, selfs toe dit nog net skoolwedstryde was.”

Wanneer hy nie op die krieketveld is nie, hou Reeza van braai saam met vriende, kuier saam met die familie en uiteet saam met Lee-Ann.

“Ons hou van soesji-aande en wyn. Ek drink so driekwart van die bottel en hy sal miskien ’n glas of so drink,” vertel sy.

Dis nie altyd maklik om met ’n bekende sportman uit te gaan nie weens die lang tydperke weg van die huis en die aandag van ander vroue. Lee-Ann sê die ding wat haar regtig hinder, is hoe onbeskof mense in die sosiale media kan wees.

“Ons kyk nie na die geheelbeeld wanneer ons sportmense kritiseer nie, en dis baie, baie moeilik vir hulle. Hoe kry jy jou selfvertroue terug as jy ’n insinking gehad het en dan was mense so negatief?”

Sport kan binne ’n oogwink van jou weggevat word, so hoekom ’n gedoente maak van wat jy bereik het en wie jy is?

Sy erken sy moet haarself baiekeer dwing om op haar tong te byt.

Maar nou lê die Groot Dag eers voor. Vroeg in September sal sowat 160 gaste in Bloemfontein bymekaarkom om Reeza en Lee-Ann se troudag saam met hulle te vier.

Ongelukkig is daar nie nou tyd vir die wittebrood nie, want die bruidegom moet vir die komende tuisreeks teen Zimbabwe en die wegreeks teen Australië voorberei.

“Ek is opgewonde oor die toer en hoop ek haal die span,” sê hy.

Hoewel Reeza vol moed is oor sy loopbaan, erken hy dit was nie altyd so maklik nie.

“Ek het in 2012 my enkel gebreek terwyl ek krieket gespeel het, en drie jaar gelede het ’n werwel in my lae rug geskuif terwyl ek sokker gespeel het.”

Ná drie maande se fisioterapie was hy terug op die veld en deesdae speel hy van die beste krieket van sy lewe. Tog lyk dit nie of sy sukses hom ’n groot kop gee nie.

“Sport kan binne ’n oogwink van jou weggevat word, so hoekom ’n gedoente maak van wat jy bereik het en wie jy is?” vra hy. “Ek is maar net myself. Ek weet nie hoe om iets anders as myself te wees nie.”

Dis Reeza – beskeie en plat op die aarde. Twee van die redes waarom sy aanhangers so baie van hom hou.