Carmen het in die sosiale media gedeel dat hul seuntjie op 27 Oktober gebore is.

Sy het Donderdag op Instagram twee foto’s van haar en Mark gedeel. Op die een foto wys sy haar koeëlronde magie terwyl sy op ’n hospitaalbed lê. Daar is ook ’n kiekie van Mark wat heel rustig lyk met ’n selfoon in die hand. By die foto’s skryf sy: “Ons laaste ontspansessie net voor ons ons seun ontmoet het!” 

Carmen het in September op Instagram kiekies van haar ooievaarstee gedeel. Sy het toe vertel hoe "perfek" dit was. “Ek is so dankbaar vir als wat julle gedoen het,” het Carmen op Instagram vertel. Onder die gaste by die ooievaarstee was die voormalige Proteas-krieketkaptein Jacques Kallis se verloofde, Charlene Engels.

Carmen en Mark, die voormalige Proteas-paaltjiewagter, het in 2017 afgehaak. Die paartjie het op hul groot dag stralend gelyk; Carmen in 'n spierwit kanttrourok en Mark deftig in 'n stylvolle swart pak.

Talle bekendes soos die rugbyspeler Schalk Burger se vrou, Michelle, en die radio- en TV-aanbieder Bailey Schneider het reageer op Carmen se hospitaalkiekie op Instagram.

"So opgewonde vir jou!" het Bailey geskryf, terwyl Michelle reageer het met drie blou hartjie-emoji's.

Die Proteas-ster JP Duminy se vrou, Sue, het Carmen sterkte toegewens. "Sterkte Carms!" het Sue laat hoor. Carmen het toe verklap dat hul kleinding al eintlik op 27 Oktober gebore is. “So verlief,” het sy oor hul babaseuntjie bygevoeg.