Dit was maar die tweede keer dat hy in die openbaar verskyn het. Die eerste keer het ons ’n glimp van hom gekry toe hy ’n piepklein twee dae oud was, knus toegebondel in sy pa se arms vir ’n amptelike en weliswaar vlugtige, koninklike fotosessie.

Sedertdien het ons nog net ’n paar blitskyke na baba Archie gekry; ’n voetjie hier, ’n half weggesteekte gesiggie daar, in skaars kunstige foto’s wat sy ouers op hul amptelike Instagramprofiel deel.

Maar ná sy doop in die koningin se privaat kapel by die Windsorkasteel, het die wêreld dié koninklike baba, sewende op die lys van Britse troonopvolgers, in al sy glorie te siene gekry.

En hoe groot en oulik is hy nie! Met sy vol mond, ronde wange en wakker oë sit die twee maande oue baba fris en gesond in sy ma se arms op die amptelike familiefoto, een van net twee foto’s wat uitgereik is van ’n dag wat in geheimsinnigheid gehul is. En wat ’n jammerte.

Die publiek was desperaat om te deel in wat ’n goue dag van foto’s en feesviering moes gewees het. Maar pleks daarvan is twee skamele foto’s al wat ons gekry het. Ja, Meghan het pragtig gelyk in ’n wit Dior-rok en dieselfde goue Cartier-oorbelle wat sy op haar troue gedra het; iets wat kenners sê dié twee belangrike geleenthede aan mekaar bind.

Komplimente het vir klein Archie ingestroom. Aanhangers het op sosiale media oor die seuntjie gekoer, hom “baie mooi”, “aantreklik” en “te oulik” genoem. Mense het verskil oor of hy soos sy ma of sy pa lyk.

Sommige meen dis ’n tikkie gemmer wat ’n mens op die koninklike koppie kan sien. Die tweede foto is in die kasteel se roostuin geneem en wys hoe Harry, wat self in 1984 in dié kapel gedoop is, liefdevol afkyk na sy seun, terwyl Meghan na haar man kyk.

Die foto’s is deur ’n vriend van die Sussex-egpaar, die modefotograaf Chris Allerton, geneem en ’n lang onderskrif het beskryf hoe “geseën” die paartjie voel om die dag met hul familie en die peetouers te deel. Hulle het die publiek ook bedank vir “die goedhartige manier waarop hulle hul eersgeborene verwelkom het en dié besondere oomblik vier”.

Baba Archie se doop foto
Op die tweede foto, wat in die roostuin geneem is, lyk die twee dolverlief. Foto: Instagram/@sussexroyal

Maar dit was dit. En die publiek se “goedhartigheid” het mettertyd in verbystering, teleurstelling en ’n groeiende golf woede verander. Wie die peetouers is, weet nugter.

Dit was nog altyd tradisie om die name van die mense wat na ’n koninklike kind se geestelike opvoeding moet omsien, bekend te maak, maar in dié geval het dit nie gebeur nie.

Tel prinses Diana se twee susters, barones Jane Fellowes en lady Sarah McCorquodale onder hulle? Harry is na aan sy twee tannies, en hulle is ook op die amptelike familiefoto.

Of het Harry sy geliefde oppasser uit sy kinderdae, Tiggy Legge-Bourke, wat opgemerk is toe sy by die kasteel aankom, vir dié rol benoem?

Die paartjie het voorheen gesê hulle sou “nabye en ou vriende” vir die rol kies, wat moontlik beteken dat die eer Meghan se beste vriendin, die Kanadese modestilis en ma van drie Jessica Mulroney, en Harry se beste pel uit sy kinderdae, Charlie van Straubenzee, te beurt kon val.

Dan is daar die twee vriendinne saam met wie Meghan twee dae voor die doop by Wimbledon opgemerk is.

Genevieve Hillis en Lindsay Roth was saam met die hertogin aan Chicago se Northwestern-universiteit, en het saam met haar gaan kyk hoe nog ’n goeie vriendin, die tennisster Serena Williams, speel. Is hulle dalk peetma’s? Wel, dalk. Maar soos sake nou staan, is almal in die duister.

Hoewel die dag sonder twyfel vol vreugde en goedgesindheid was, soos die doop van enige geliefde kind tipies is, het die Sussexe se aandrang om die dag in geheimsinnigheid te omvou, min gedoen om die groeiende ontevredenheid met die egpaar in die kiem te smoor.

Mense het die dag met die doop van die hertog en hertogin van Cambridge se drie kinders vergelyk. Toe prins George (5), prinses Charlotte (4) en die eenjarige prins Louis gedoop is, kon aanhangers oe en aa oor heelwat foto’s van belangrike gaste en koninklikes.

peetouers
Potensiële peetouers: Meghan se vriendinne Jessica Mulroney (LINKS); Genevieve Hillis en Lindsay Roth (LINKS ONDER); Harry se pel Charlie van Straubenzee (REGS); en Tiggy Legge-­Bourke, sy gewese oppasser (REGS ONDER).

William en Kate het die gesange wat gesing is, teksgedeeltes en name van hul kinders se peetouers gedeel.

By Charlotte se doop het hulle verder gegaan: Lede van die publiek is genooi na ’n deel buite die St. Mary Magdalene-kerk in Sandringham, en kon van daar af sien hoe die koninklikes en gaste aankom.

Maar dié keer was daar niks van dié aard nie. Gaste het blitsvinnig by die agterste ingange van die kapel in- en uitgeglip.

’n Dowwe foto van prins William, met sy gesig agter ’n donkerbril weggesteek, wat per motor aankom, is omtrent al wat aanhangers te siene gekry het. Charles en Camilla het glo met ’n privaat helikopter ingevlieg.

Al inligting wat oor die diens bekend gemaak is, is dat die aartsbiskop van Kantelberg, Justin Welby, wat ook die Cambridge-kinders en Meghan voor haar 2018-troue gedoop het, die seremonie waargeneem het.

Water uit die Jordaanrivier is volgens tradisie ingespan en Archie het dieselfde dooprok as sy Cambridge-nefies en -niggie gedra. Die dooprok is ’n replika van die een wat koningin Victoria in 1841 laat maak het, en waarin koningin Elizabeth self gedoop is.

Anne Daley (63), een van die min kanniedood-aanhangers wat na die Windsorkasteel is in die hoop om Archie of ’n gas te sien, stel dit so: “Ons is mal oor alles wat met die koninklikes te doen het, maar ons voel seergemaak.

Die een oomblik wil hulle koninklikes wees, en die volgende oomblik nie. Daardie baba is prinses Diana se kleinseun. Ons behoort die doop te kan sien. Hulle wil hul brood aan albei kante gebotter hê.”

Jon Loughrey (64), nog ’n aanhanger wat ure lank in die straat gewag het om die gesin te sien, het gesê hy is teleurgesteld.

“Ek aanvaar dat dit ’n privaat seremonie in ’n privaat kapel is, maar wyle prinses Diana sou wou hê Harry moet meer tussen die mense wees.”

Sy was immers die prinses van harte, en boonop, soos die koninklike skrywer Harry Mount sê, is die Britse publiek se verhouding met Harry “veral besonders”.

“Nadat sy ma so vroeg en wreed dood is terwyl die paparazzi haar gejaag het en ná daardie hartroerende stap saam met sy broer agter Diana se kis in 1997, het die mense nog altyd simpatie met sy behoefte aan privaatheid gehad. Maar die aankondiging dat die doop van hul seun privaat sou wees, het tot die gevoel bygedra dat die Sussexe te ver gaan.”

Harry en Meghan hou voet by stuk dat hulle dinge op hul manier gaan doen, en gee blykbaar min om vir koninklike gebruike, die Britse publiek, in wie se diens hulle eintlik staan, of enigiemand anders.

Die feit dat hulle Archie as ’n privaat burger wil grootmaak terwyl hulle steeds belastingbetalers se geld gebruik vir dinge soos die onlangse herstelwerk aan hul Frogmore Cottage-tuiste, wat sowat R44 miljoen gekos het, laat ’n bitter smaak in die mond. Nou moet aanhangers nog die doop ook verwerk.

Meghan en Harry
Sommige gis of Archie meer soos sy ma (REGS) of pa (LINKS) as baba lyk. Foto's: Greatstock/Splash News en Gallo Images/Getty Images

“Foto’s is altyd uitgereik en die peetouers bekendgemaak, al van die koningin se doop af,” sê Hugo Vickers, ’n biograaf van koningin Mary en die koninginmoeder.

“Harry en Meghan maak vyande van die media met dié geheimsinnigheid.”

Die publisiteitskenner Mark Borkowski sê die Sussexe tree meer soos Hollywoodsterre op deur “doelbewus vyandig teenoor die tradisionele stelsel te wees en nie in enige vorm met die media in gesprek te tree nie”.

’n Bron naby aan die Sussexe het aan die Britse koerant The Sun gesê Harry sit agter die geheimhoudingsveldtog. “Mense dink dalk dis Meghan, maar dis Harry wat die voortou neem. Hy wil hê Archie moet ’n privaat burger wees.”

Katie Nicholl, die skrywer van verskeie boeke oor die koninklikes, sê die prins wil nie hê sy seun moet met dieselfde las as hy grootword nie.

“Hy wil Archie teen die kollig beskerm. Dit kom van ’n man wat voor die kameras grootgeword het, wat in die verlede gesê het hy wens hy is nie as prins gebore nie.

“Ek dink Harry stel van die begin af duidelike grense daar om dalk die verwagtings te bestuur, dat ons nie dieselfde toegang tot dié koninklike baba gaan hê as wat ons in die verlede gehad het nie.”

Maar die koninklike biograaf Sally Bedell Smith glo die strategie kan anders uitwerk as wat hy hoop. “Om wegkruipertjie met sy foto’s te speel en sy geboorte en doop in geheimsinnigheid te hul, het die teenoorgestelde uitwerking: Dit maak die publiek net nuuskieriger.”

Die feit dat die koningin nie by die doop was nie weens ’n “dagboekbotsing” het ook die oë laat rek. Sy het die naweek saam met die hertog van Edinburgh by haar Skotse wegbreekplek, Balmoral, deurgebring.

Was dit net ’n ongelukkige botsing van datums of was dit nog ’n slegte skuif deur die paartjie se nuwe Amerikaanse kommunikasiehoof, Sara Latham, wat gekritiseer is vir die geslote benadering tot die aankondiging van Archie se geboorte?

Soos een koninklike bron sê: Sekerlik kon die koningin haar naweekplanne verander het vir die doop van haar jongste kleinkind?

“Die feit dat sy nie daar was nie, terwyl sy voorheen moeite gedoen het om Meghan tuis te laat voel in die familie, spreek boekdele.”

Die koninklike familie het nog altyd verstaan hoe belangrik ’n goeie verhouding met die publiek is, sê Harry Mount, en Harry en Meghan sal wys wees om hierby te hou.

“Deur al die hoogte- en laagtepunte, het die koninklike familie die publiek nog altyd toegelaat om in hul gelukkigste vierings en mylpale te deel.

“Enige prominente koninklike moet die transaksie aanvaar, ’n amptelike, openbare lewe in ruil vir buitengewone voorregte wat deur die staat en die mense gegee word. Hiervoor moet hulle hul privaatheid in ’n mate opoffer.”

As hul behoefte aan ’n privaat lewe so groot is, voeg die skrywe by, keer niks hulle om uit die openbare oog te “bedank”, hul lewe by Frogmore Cottage op te pak en elders te gaan woon nie.

“Maar solank as wat hulle die vrugte van hul openbare posisie pluk, moet hulle aanvaar dat daar soms uitputtende pligte daarmee saamgaan.”

Aangesien daar nog baie positiwiteit teenoor die Sussexe is, sê Hugo hy hoop die jongste drama “is net geringe tandekryprobleme. Hopelik word ’n goeie verhouding tussen die goue paartjie en die mense weer herstel. Ons, die publiek, is aan hul kant. Al wat ons wil doen, is om van ’n afstand af in hul blye gebeurtenisse te deel. Ons wil nie inbreuk maak op hul privaatheid nie.”

LYFTAAL JOK NIE

Die Cambridges en die Susexxe
Harry, Meghan, Kate en William op die eerste forum van hul Koninklike Stigting in Februarie 2018. Hulle het nou hul eie stigtings. Foto: Gallo Images/Getty Images

Onlangs is bespiegel oor die breuk in die “fantastiese vier”; die kloof tussen William en Kate en Harry en Meghan. En die amptelike familiefoto wys ook dié skeiding, sê Denise Björkman, ’n lyftaalkenner van Johannesburg. Die foto is op dieselfde plek as prins Harry se doopfoto in 1984 geneem.

“Meghan en Harry se foto is verdedigend. Sy en Harry sit naby aan mekaar, en los ’n gaping wat haar van Kate skei. Harry is beskermend.”

Die enigste samehorigheid in die doopfoto is dié van Meghan en Harry saam met Archie.

“Dis ’n ‘ons-en-hulle’-situasie.”

Kate se liggaamshouding wys sy is ongemaklik, maar soos altyd, gewillig om te doen wat protokol vereis.

“Al lyk haar houding effens ongemaklik, is haar liggaam in die rigting van die nuwe ouers gedraai, en leun sy vorentoe.”

William is minder tegemoetkomend. “Sy lippe is effens op mekaar gepers, sy wange gestol in die posisie en sy oë is gespanne. Sy hande is beskermend voor hom gevou.”

Prins Charles en Camilla lyk meer op hul gemak, en hul ervare “protokolglimlagte” is netjies in plek. Hul nabye band is sigbaar.”

Meghan se ma, Doria Ragland, en Diana se twee susters, barones Jane Fellowes en lady Sarah McCorquodale, is sigbaar ongemaklik.

“Die foto wys nie ’n gelukkige familie nie. Dis dalk ’n waarskuwing van wat kom. Die fotograaf kon nie harder probeer het nie. Die familie kon dit makliker gemaak het. Dit is veelseggend.”

Bronne: Express.co.uk, Dailymail.co.uk, Thesun.co.uk, Townandcountrymag.com, Jerseyeveningpost.com