Maar net toe sy dink liefde het haar ontwyk, het dit haar gevind. Pascal, wat deesdae in Kaapstad woon, het gedink die nuwe ervaring kan pret wees en besluit om in te skryf. 

“My pelle het niemand merkwaardig gehad om my aan voor te stel nie en ek't gedink dit kan dalk fun wees,” vertel sy.

“Maar my ma het eintlik gesê sy dink ek moet dit doen.”

Tydens die episode wat op Woensdag 25 Maart uitgesaai is, het Pascal, wat bekendheid verwerf het as die verpleegster Karli in die kykNET-sepie Binnelanders, drie moontlike pasmaats ontmoet. Elkeen van die drie mans het ’n lyfkamera gedra terwyl hulle met Pascal en die aanbieder, Vanes-Mari du Toit, gesels het.

Hulle kon mekaar nie van aangesig tot aangesig sien nie en Pascal kon net die omgewing waarin die mans tydens die virtuele afspraak was, sien. So het sy vir Roy van Eck, 'n risiko-adviseur by 'n beleggingsmaatskappy, Roux Wessels, 'n restaurant-eienaar, en Erick Calitz, 'n apteker, ontmoet. 

Die afspraak met Roy was vir Pascal die mees opwindende van die drie en die twee het lekker gesels. 

“ ’n Mens is maar 'n bietjie op jou senuwees, maar dit is ’n lekker gevoel,” vertel sy. Aan die einde van dié lang dag vol virtuele afsprake en baie gesels, het Pascal eindelik besluit om vir Roy beter te leer ken. Eers daarna het sy gesien hoe die drie manne lyk. 

“Ek het geweet ek sou nie vir een van hulle op die oog af gegaan het nie. Ek hou van ’n sportiewe man met 'n blas vel. So ek is bly ek kon hulle leer ken sonder om hulle te sien,” vertel sy oor die ervaring. 

Maar dinge tussen Pascal en Roy het nie verder as daardie laaste ontmoeting gevorder nie. 

“Hy het my nommer gevra en dit was die laaste wat ons van mekaar gesien het,” vertel die blondekop en spekboom-aktivis. 

Tog was Kupido steeds in die omtrek, want ’n paar dae later het ’n boer Pascal se voete onder haar uitgeslaan. 

“Dis absoluut mal! Ek dink dit was so 'n paar dae na ons verfilm het. Ek het ’n boodskap gekry op my Instagram-profiel, van ’n ou wat gesê het hy sal my graag op ’n date wou vat. Ek het ’n bietjie na sy Instagram-profiel gaan loer,” vertel Pascal. 

“Ek hou daarvan as ouens nie te veel behep is met hul sosiale blaaie nie. Ek kon aflei hy het al gereis en hou van die buitelewe en soos dit maar is, was sy uiterlike vir my nie te versmaai nie.

”Die twee het vinnig planne beraam om mekaar te ontmoet. “Ons het mekaar gekry vir ’n MCC tasting by Steenberg wynplaas en dit was heerlik,” vertel sy.

En sedert Oujaarsaand 2019 is Pascal en Ryno Olivier, ’n boer van Piketberg, ’n paartjie. 

“Hy is baie hardwerkend, hy glo in die Here en hy bid vir my en droom saam met my,” vertel Pascal oor die man wat haar hart deesdae vinniger laat klop. “Hy weet wie hy is en waarheen hy op pad is. So dis so lekker. Ons albei love surf en eet!”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe