KURT DARREN

Die gewilde sanger Kurt Darren en sy gesin het verlede jaar vir Paasnaweek by hul huis in Langebaan aan die Weskus uitgespan. Vanjaar gaan hulle met Jan Tuisbly se karretjie ry. 

Die sanger het verlede jaar die oulikste foto’s van sy vrou, Dunay van Heerden, en hul twee kinders, Kyrah (4) en Kade (2), gedeel waar hulle op die strand baljaar en na Paaseiers soek.

"Ons het planne gehad om vanjaar na die Krugerwildtuin te gaan, maar het besluit om eerder by die huis te bly. Dis altyd ’n lekker bederf om tuis te wees as jy besig is," vertel Dunay aan Huisgenoot.

"Ons het ’n groot tuin en daarom gaan ons die Paaseiers vir hulle in die tuin wegsteek en moet hulle daarna soek," sê sy.

EMO ADAMS

Die musikant en televisiepersoonlikheid Emo Adams, wat onlangs as die nuwe aanbieder van SABC2 se gewilde musiekspeletjieprogram Noot Vir Noot aangewys is, gaan gedurende Paasnaweek op die pad wees en daarom gaan sy vrou, Michelle Gildenhuys, en hul kleingoed tuis bly.

Die paartjie het twee seuns, Kadar Zayn (3) en Ziah Malik (2), en Michelle is swanger met baba nommer drie wat in Junie vanjaar sy opwagting maak.  

"Ongelukkig is Emo vanjaar op die pad, daarom gaan ons Paasfees saam met my ma, suster en haar kleinding deurbring,” sê Michelle.

View this post on Instagram

Family ??

A post shared by Michelle Gildenhuys Adams (@michellegildenhuys) on


“Ons gaan ook ’n klein Paaseiersoektog hou omdat die kinders altyd opgewonde oor sjokolade is,” voeg sy by.

MINKI VAN DER WESTHUIZEN

Die televisieaanbieder Minki van der Westhuizen en haar gesin gaan vanjaar die lang pad Karoo toe aandurf.

Minki en haar man, Ernst Joubert, het drie dogtertjies, Katerien (5), Elise (4) en klein Elsa (1). 

"Die kinders is verskriklik opgewonde oor Paasfees. Elise vra gereeld hoeveel slapies nog oor is voor Paasfees," vertel Minki laggend.

"Ons gaan vanjaar 'n bietjie Victoria-Wes toe; vriende het ’n plaas daar. Ek sien uit daarna om saam met familie en vriende te kuier."


View this post on Instagram

@naartjiekids #katerienlief #elisehartjie #coolkids

A post shared by MINKI (@minkivanderwesthuizen) on

"Al beplan ons ’n Paaseiersoektog vir die kinders, is dit ook belangrik om vir hulle die dieper betekenis van Paasfees te leer (dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het) en hoekom ons dit vier," voeg die ma van drie by.

TIM THERON

Die akteur, regisseur en vervaardiger Tim Theron, wat nes Minki op Stellenbosch woon, sê hy en sy gesin probeer gewoonlik rondom Paasfees weggaan vir ’n kort gesinswegbreek. 

Tim, een van die vervaardigers van die Griekwastad-fliek wat later vanjaar op die silwerdoek te sien sal wees, en sy vrou, Juanli, het twee kinders, Sophia (4) en Migael (1). 

“Met klein kindertjies is dit wel 'n bietjie meer complicated in terme van waarheen ons kan gaan, maar gelukkig is daar baie opsies in die Kaap,” vertel Tim aan Huisgenoot. 

“Ons hou ook altyd vir die kinders ’n Paaseiersoektog oor die naweek, en as ons nie naby ’n kerk is nie, maak ons seker dat ons tyd neem om die betekenis van Paasfees aan hulle te verduidelik,” sê hy. 

HEINZ WINCKLER

Die sanger Heinz Winckler en sy gesin gaan gewoonlik vir Paasfees na sy ouers, Elsa en Theo Winckler, in Bettysbaai. 

Heinz en sy vrou, die voorkomskonsultant Aletté-Johanni, het drie seuntjies, Reuben (5), Simeon (6) en Lian (8). 

“Paasfees is vir ons as kinders van die Here ’n baie belangrike naweek op die kerkkalender. Dit is dus belangrik vir ons om vir die kinders te leer dat dit nie oor Paaseiers gaan nie, maar oor Jesus,” vertel Aletté aan Huisgenoot.


"Die kinders is definitief baie opgewonde oor Paasfees omdat hulle weet daar is Paaseiers betrokke.”

“Ons gaan vanjaar dalk weer na my skoonouers toe om net 'n bietjie weg te kom, of saam met vriende na Hermanus,” voeg sy by.