’n Vlaag bekendes het sedert Maandag met swart-wit foto’s in die sosiale media losgebars en kettingboodskappe om ’n swart-wit foto van jouself te deel, het soos ’n veldbrand versprei. Maar hoekom? 

Dié sosialemedia-uitdaging is aanvanklik begin om bewustheid te skep oor die geweld en moord teenoor vroue in Turkye. ’n Instagram-gebruiker genaamd @beelzeboobz het op Instagram onthul dat burgers in Turkye daagliks wakker word met nuus dat vroue vermoor is – en die foto’s van die vroue is in swart-wit gepubliseer. 

In September 2019 het skares in hul duisende in die Kaapse middestad opgeruk om te betoog teen geweld teen vroue en kinders.  

Die #womensupportingwomen-uitdaging het plaaslike en oorsese vroue weer ’n platform gegee om stemme te laat hoor teenoor geslagsgeweld teenoor vroue wêreldwyd. 

Plaaslike bekendes het hulself tot Instagram gewend om hul sê te sê oor die geweld teenoor vroue en kinders. 

Jawaahier Petersen  

Die aktrise, wat Kaashifa Mansour in die kykNET-sepie Suidooster vertolk, is onder die bekende plaaslike vroue wat haar stem laat hoor het teen geslagsgeweld in Suid-Afrika.

“Daar is geen plek vir geslagsgeweld en moord op vroue in enige boek, enige heilige boek of enige plek in die samelewing nie. Dit moet stop,” het Jawaahier Woensdag aan Huisgenoot gesê. Haar pleidooi is dat vroue moet saamstaan teen geslagsgeweld en mekaar moet ondersteun.

“My kind is jou kind. Vroue bring lewe in die wêreld. Ons moet eienaarskap neem van ons krag en vir mekaar opstaan. Ons moet saamstaan," vertel die ma van twee.

“Vier vroue is sterker as een, ’n duisend vroue is sterker as vier en 1 miljoen is sterker as ’n duisend,” het sy roerend laat hoor.

Monique Rockman

Die Kaapse aktrise, wat deesdae as Joy in die sepie Suidooster te sien is, is onlangs met ’n ATKV-Mediaveertjie bekroon vir haar rol as die speurder Beatrice Mack in die bonatuurlike rilreeks Die spreeus.

Monique het ook ’n pragfoto van haarself in die sosiale media gedeel met die hutsmerk #teamfemale. 

Minki van der Westhuizen

Minki is ook onder die vroue wat benoem is om ’n foto te deel. Die ma van drie is deur haar goeie vriendin, die stilis Marilize de Clercq, benoem om ook aan die uitdaging deel te neem. Minki het die mooiste foto van haarself en haar twee oudste dogters, Katerien (7) en Elise (5), gedeel. 

Sue Duminy

Sue, vrou van die Protea-krieketster JP Duminy, het ook ’n mooi swart-wit foto van haarself ter ondersteuning van #womensupportingwomen op Instagram gedeel.

“Laat ons ’n lig wees vir dié wat hulself in die duisternis bevind, kom ons lig mekaar op en los die geskinder. Kom ons het mekaar lief, luister en ondersteun mekaar,” het die ma van twee by haar foto geskryf. 

Sue het by haar vroulike volgelinge gepleit om hul hart sag te maak wat vroue betref en mekaar te respekteer en gaaf met mekaar te wees. 

Jo-Ann Strauss 

Die voormalige Mej. Suid-Afrika, wat tans swanger is met haar en haar man, die ortopediese chirurg dr. Michael Held, se vierde kind, het ook vir vroue gevra om saam te staan teen geweld teenoor vroue en kinders. Jo-Ann het onlangs die geslag van haar vierde kind in die sosiale media bekendgemaak. Sy verwag haar derde dogtertjie.

“As ’n ma van twee, byna drie dogters het dit my laat besef dat #womensupportingwomen nie net ’n hutsmerk of neiging is nie, dis ’n lewenslange toewyding,” het Jo-Ann laat hoor. 

Quinne Brown Huffman

Quinne, wat bekend is as Connie in die sepie 7de Laan, het ook haar foto ter ondersteuning van die veldtog gedeel. 

Aisha Baker

Die beïnvloeder en model Aisha Baker het ook dié uitdaging aanvaar en ’n mooi foto van haarself gedeel. “Ek het nog altyd geglo dat wanneer vroue saamstaan, hulle sal regeer,” het Aisha by haar foto geskryf.

Aisha en haar man, die krieketster Wayne Parnell, het 'n tweejarige seun, Khalid.

Clare Wiese-Wentzel

Die TV-aanbieder Clare Wiese-Wentzel het haar vroulike aanhangers ook aangespoor om mekaar te ondersteun.

Clare, wat haar eie mooimaakreeks, Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel, aanbied, meen dat daar geen groter dryfkrag is as vroue wat mekaar ondersteun en mekaar op die lewenspad help nie. 

Rehane Abrahams

Rehane Abrahams, wat ons ken as die feeks Wendy Newman in die telenovelle Arendsvlei, meen sy is nie hier om ander vroue af te druk nie, maar om hulle helder te laat skyn.

“Kom ons laat onsself toe om bo al ons onvolmaaktheid uit te styg eerder as om onsself te martel en ander vroue te kritiseer,” het Rehane op Instagram laat hoor by 'n pragtige swart-wit foto van haarself.