KYK: 5 koninklike troues wat in die inperking plaasgevind het

akkreditasie
Koninklike troues is bekend vir hul swier en glans. Dink maar net aan die troues van prins William en sy vrou, Catherine, in 2011, en dié van William se kleinboet, prins Harry, en Meghan Markle in 2018.

Nes vele ander openbare geleenthede in 2020 moes koninklike troues afskaal en ’n ander gedaante aanneem. Ons loer na vyf adellikes wat vanjaar met ’n kleiner troue tevrede moes wees. 

Prinses Raiyah van Jordanië en Ned Donovan

In die eerste koninklike troue sedert die wêreld grotendeels in Maart vanjaar in inperking gegaan het, het Jordanië se prinses Raiyah (34) op 7 Julie met haar Britse liefie, Ned Donovan (26), afgehaak. 

Raiyah is die jonger halfsuster van koning Abdullah II van Jordanië en haar bruidegom is die kleinseun van die legendariese kinderboekskrywer Roald Dahl. Ned se ma, Tessa, is die naasoudste van die skepper van die kinderboek Charlie and the Chocolate Factory se vyf kinders. 

Die nuus is op Twitter bekendgemaak en kiekies van die intieme seremonie is daarby gedeel.

Onder die gaste by die intieme troue was Raiyah se ma, koningin Noor, Omar Nahar, die Jordaniese ambassadeur aan die Verenigde Koninkryk, en Ned se familie. 

Prinses Beatrice en Edoardo Mapelli Mozzi

Beatrice (32), die oudste dogter van prins Andrew en sy eksvrou, Sarah, die hertogin van York, het op 17 Julie vanjaar met haar Italiaanse verloofde, Edoardo Mapelli Mozzi (37), afgehaak. Die afgeskaalde troue is in die piepklein All Saints-kapel in Windsor, Engeland, gehou.

Daar was net 20 gaste in die kapel, waaronder die bruid se ouma en oupa, koningin Elizabeth en prins Philip.

Die paartjie sou oorspronklik op 29 Mei ewige trou aan mekaar beloof het in die koninklike kapel by St. James-paleis in Londen. 

Hoewel als op klein skaal gebeur het, was daar geen tekort aan nostalgie op Beatrice se groot dag nie. Sy het gestraal in ’n rok wat in 1962 deur die koningin na die première van die fliek Lawrence of Arabia gedra is. En sy het ook gespog met die tiara wat haar ouma Elizabeth op haar eie troudag in November 1947 gedra het. 

Koningin Elizabeth het die tiara wat sy op haar tr
Koningin Elizabeth het die tiara wat sy op haar troue met prins Phillip gedra het (regs) asook die rok wat sy in 1962 na die première van Lawrence of Arabia gedra het (links) vir Beatrice geleen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Beatrice se jonger suster, prinses Eugenie (30), was haar strooimeisie en Edoardo se seuntjie uit ’n vorige verhouding, Woolf (4), het strooijonker vir sy pa gespeel. 

Aartshertogin Eleonore von Habsburg en Jerome d’Ambrosio

Kort ná Beatrice se troue het die aartshertogin Eleonore von Habsburg (26) en haar Belgiese verloofde, Jerome d’Ambrosio (34), ook ewige trou aan mekaar beloof. Die troue op 20 Julie was ’n intieme siviele seremonie by Monaco se registrasiekantoor.

Net die egpaar se ouerpare en Georges Marsan, die burgemeester van Monaco, het die seremonie bygewoon. 

Van links, Georges Marsan, Henri d'Ambrosio, Gisel
Van links, Georges Marsan, Henri d'Ambrosio, Giselle d'Ambrosio, Jerome d'Ambrosio, Eleonore von Habsburg, Karl von Habsburg en Francesca Thyssen-Bornemisza. Foto: Luc Castel/Gallo Images/Getty Images

Eleonore is die dogter van die Oostenrykse politikus Karl von Habsburg en sy vrou, barones Francesca von Thyssen-Bornemisza. Karl se oupa, Charles I, was die laaste keiser van Oostenryk.

Die stralende paartjie Eleonore en Jerome. Foto: L
Die stralende paartjie Eleonore en Jerome. Foto: Luc Castel/Gallo Images/Getty Images

Eleonore en Jerome, ’n renjaer, het in 2017 op ’n vlug van Londen na Nice ontmoet. Nou, drie jaar later, is hulle getroud.

Flora Ogilvy en Timothy Vesterberg

Flora (26), die kleindogter van koningin Elizabeth se niggie prinses Alexandra, en haar Sweedse liefie, Timothy Vesterberg (27), is op 26 September in die koninklike kapel van die St. James-paleis in Londen getroud. 

Flora is die dogter van prinses Alexandra en haar ontslape man, Sir Angus Ogilvy, se oudste seun, James. Die kunskurator het self die nuus op haar Instagram-blad aangekondig.

“Ek en Timothy is in die privaat getroud by die koninklike kapel by St. James-paleis op Saterdag 26 September 2020. Ons is in die wolke en sien uit daarna om volgende jaar dit te kan vier,” het haar inskrywing gelui. 

Haar nuwe eggenoot Timothy werk as beleggingsbestuurder by ’n batefirma in Londen. 

Vir haar groot dag was Flora in ’n wit uitrusting deur Emilia Wickstead uitgetof. Die troukiekie is geneem deur die koninklike fotograaf Hugo Burnand, wat ook in 2011 prins William en Catherine se troufotograaf was op hul groot dag. 

Prinses Eeuphelma Choden Wangchuck en Dasho Thinlay Norbu

Die klein Oos-Asiese koninkryk het op 29 Oktober hul eie afgeskaalde koninklike troue gehad toe prinses Eeuphelma Choden Wangchuck (27), die halfsuster van koning Jigme Khesar Namgyel Wangchuck, en Dasho Thinlay Norbu (28) trou aan mekaar beloof het. Die bruidegom, ’n vlieënier vir die nasionale lugdiens Drukair, is die jonger broer van koning Jigme se vrou, koningin Jetsun Pema. 

Koning Jigme het die nuus oor sy kleinsus se troue in die sosiale media gedeel. 

“Haar Koninklike Hoogheid prinses Eeuphelma Choden Wangchuck is vandag met Dasho Thinlay Norbu getroud in ’n koninklike trouseremonie. Die koninklike troue is by Dechencholing-paleis in Thimphu gehou,” het sy inskrywing op sy amptelike Instagram-blad gelui. 

Die inskrywing het verder gemeld dat die paartjie die seëninge van die huidige koning, sy pa en voorganger, Jigme Singye Wangchuck en ook Jigme Choeda, die hoof-kloostervader van dié Boeddhistiese koninkryk ontvang het. 

Die nuwe egpaar spog ook albei met grade wat hulle aan vooraanstaande universiteite behaal het. Eeuphelma het in 2016 ’n graad in sosiologie aan die Georgetown-universiteit in Washington in Amerika verwerf terwyl Dasho Thinlay ’n alumnus van die St. Stephen-kollege van die Universiteit van Delhi in Indië is. 

Bronne: Tatler, People, Vogue Arabia, Tatler, Instagram

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees