Vir die 7de Laan-aktrise Danielle Retief (29) het dit aanvanklik soos net nog ’n Saterdagoggend gevoel tot haar kêrel, Jaco van der Merwe (34), haar onverwags met ’n trouring verras het.

Jaco, ’n logistieke bestuurder wat ook in die vermaakbedryf is, het gevra of Danielle hom met ’n oudisie kon help wat hy op kamera moes vasvang. Natuurlik niks ongewoons vir ’n akteurspaar nie.

Danielle Retief
Danielle en Jaco. Foto: Verskaf.
Danielle Retief
Foto: Verskaf.

“Ek druk record en hy begin met ’n monoloog oor die liefde en hoe maklik die liefde kan wees as jy die regte persoon vind,” vertel Danielle aan Huisgenoot.

“Hy sluit toe die monoloog af met: ‘My naam is Jaco van der Merwe en ek oudisie vir die rol van jou verloofde,’” sê sy.

Danielle het nog ewe niksvermoedende die kamera afgeswaai toe hy op sy knie afsak, tot hy ’n ring uitgehaal het.

“Ek het gedink dit is deel van die monoloog. Ek het darem nou alles op tape, wat wonderlik is,” vertel sy.

Jaco se monoloog het toe vinnig in ’n dialoog verander en hy het sommer oombliklik die rol van “verloofde” gekry.

View this post on Instagram

This time it's not fiction... #engaged ?? @thomas.supertramp

A post shared by Danielle Retief (@danielleretief) on


Hoewel hulle al voorheen na ringe gaan kyk het, het Jaco sy eie planne gemaak en ’n ring gekies wat Danielle nog nie aangepas het nie.

“Hy het sy eie planne gemaak, maar dit was darem die regte planne. Dit is die mooiste ding wat ek in my lewe gesien het,” vertel sy oor die klassieke ring wat perfek by haar persoonlikheid pas.

Danielle Retief
Danielle en haar sepie-familie. Foto: Verskaf.

Die paartjie het mekaar in Maart 2017 ontmoet toe hulle saam aan een van André Stolz se produksies gewerk het. Hulle het eers vriende geraak, maar het later daardie jaar tydens ’n ander produksie besef dat hulle eintlik meer as net vriende is, en sedertdien is ’n paartjie.

Sy het aanvanklik gedink dinge gaan ’n bietjie anders voel noudat hulle verloof is, maar dit is nie werklik so nie, vertel Danielle.

“Maar ek gaan eerlik wees; dit is lekker om ’n ring te dra,” lag sy.

Al moet hulle ’n bietjie wag om te trou, sien sy baie uit na dié nuwe fase van hul verhouding. Veral met die goeie voorbeeld wat haar ouers vir haar van kleintyd af oor die huwelik gestel het.

“My ouers vier in Desember vanjaar hul 40ste huweliksherdenking, so dit is die voorbeeld waarmee ek grootgeword het,” vertel Danielle oor haar ouers, André en Karen Retief, wat ook ’n akteurspaar is.

Danielle en Jaco het saam besluit dat hulle eers moet wag tot die coronakrisis bedaar het voor hulle werklik aan trouplanne kan begin dink.

“Ons sien baie mense wat klein troues met maskers doen, en dit is wonderlik, maar ons sal graag ’n groot partytjie wil hou,” vertel Danielle.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe