Carina het onlangs op Instagram aangekondig sy is swanger met haar en haar man, Deon Nagel, se eersteling.

“Ek het begin Oktober uitgevind ek is swanger. Ek het dadelik ’n gevoel gehad en kon dit aan my lyf voel,” vertel Carina aan Huisgenoot. 

“Ek het toe ’n huistoets geoen, maar nie dadelik vir my man daarvan vertel nie, want ek wou hom op ’n spesiale manier sê.”

Die aktrise het toe een van haar man se laaie met sy klere leeggemaak en die toets met ’n paar babasokkies en ’n babygrow daar ingesit met ’n spesiale boodskap: “Pappa moet plek maak vir my, ek kom Junie 2020.”

“Toe hy van sy klere wou wegpak, het hy die laai oopgemaak en dit gesien. Hy was aanvanklik vir ’n minuut of twee heeltemal geskok, en toe hy eers besef wat aangaan, was hy vreeslik bly en oorweldig deur emosie,” vertel Carina opgewonde. 


Sy het later die opwindende nuus met haar 21 100 Instagram-volgelinge gedeel. 

“Baba Nagel gaan 2020 een groot avontuur maak. Dankie, Liewe Jesus, vir my en @deonnagel se mooiste wonderwerk in ons lewens! God het geweet ons harte het jou nodig gehad,” skryf die aktrise. 

“Ek is vreeslik opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in my lewe,” sê Carina. 

“Ons is ook vreeslik dankbaar en besef elke dag dat dit ’n wonderwerk en groot geskenk van Bo is! Maar terselfdertyd kan ’n mens nie help om so ’n bietjie bang te wees nie! Ek dink ’n mens se hele lewe verander, maar dis ’n verandering waarna ons baie uitsien en wat ons met sy uitdagings en al gaan geniet,” borrel die 7de Laan-aktrise. 

Carina en Deon kry juis hierdie week bevestiging van die geslag van hul eersteling, en sal dit later bekendmaak. “Ons is happy met enige geslag!” laat sy hoor.