Kykers onthou Bart Kruger as die saggeaarde sjef in 7de Laan wat soms effens lomp, maar altyd vriendelik was. Maar as jy vandag in Neil Sandilands se karakter in die televisiereeks The Flash vasloop, sal jy waarskynlik die hasepad kies. 

Neil is deesdae as die skurk Clifford DeVoe, ook bekend as The Thinker, te sien in die vierde seisoen van die Amerikaanse televisiereeks The Flash.

Hy het onlangs ’n video op Instagram gedeel wat wys hoe hy in die karakter omskep word.

The Thinker is die aartsvyand van die hoofkarakter, die blitsvinnige superheld The Flash, wat deur die Amerikaanse akteur Grant Gustin gespeel word. 

You shall think tonight....#TheFlash #TheCW

A post shared by Neil Sandilands (@realsandilands) on

Grant het net lof vir Neil se toneelspel en het hom al as ’n “legende” beskryf. Hy het selfs vertel Neil is een van die beste akteurs saam met wie hy al gewerk het.

Neil was ook al in ander televisiereekse soos NCIS en The 100 te sien sedert hy hom in 2014 in Los Angeles gevestig het.

Neil is nie al Suid-Afrikaner wat in die vierde seisoen van The Flash, wat in Januarie hier op M-Net begin het, te sien is nie. Die voormalige Isidingo-ster Kim Engelbrecht, wat onder meer in die Afrikaanse fliek Konfetti te sien was, vertolk die rol van The Mechanic, die vrou van Neil se karakter, The Thinker. 

Grant het ook net goeie goed oor haar spel te sê gehad toe hy in Januarie 'n voorskou van een van die episodes deel. "Sal die held val? Kim het vir ons 'n meestersklas aangebied," het hy by die video geskryf.

Bronne: InstagramChannel24Neilsandilands.com