Reandi, wat die rol van Oppiekoffie se bestuurder, Esti, vertolk in Hillside, het foto’s van die kleinding se spesiale dag op sosiale media gedeel. 

“Gelukkige verjaardag aan al die lockdown-babas," het Reandi op Instagram geskryf by kiekies van haar, haar man, Dewald, en hul dogtertjie, Heidi, by haar eerste verjaardagviering. Die kleinding het op 22 Mei haar eerste verjaardag gehad.

“Ons het die mooiste, oulikste geskenke gekoop, en soos ’n tipiese kind het sy die lekkerste met die boks gespeel,” vertel Reandi laggend aan Huisgenoot.

“Ek dink vir haar was die lekkerste van die partytjie om al die bokse te hê en die geskenkpapier af te skeur. Dit was ’n groot treat.”

Heidi het van geboorte af ’n sterk wil en stem, sê haar ma. “Hoe ouer sy word, hoe harder word daai stemmetjie net. En sy kan meer emosies koppel daaraan. Sy weet wat sy wil hê en sy weet wat sy nie wil hê nie.”

Klein Heidi hou ook haar ouers omtrent besig met haar pogings om die wêreld vol te wil stap. 

“Sy kan nog nie self loop nie, so ons moet haar handjie vashou. Maar dis al wat sy wil doen. Sy loop en skop haar strandbal orals, en dan loop sy agter dit aan,” vertel Reandi trots. 

Reandi vertel ook dat hoewel sy dit gemis het om te werk toe hulle weens die pandemie nie kon skiet nie, was dit erg om te terug te keer stel toe. 

“Dit was baie swaar om weer te begin werk, al is ek baie lief vir my werk. Dit was erg om te gaan van dag in en dag uit saam met my man en dogtertjie na volstoom werk. Ons het saam koffie gedrink, voor die kaggel gesit en beskuit eet. En ons het so baie gespeel en gebou," vertel sy.

“Die wêreld raak so besig dat 'n mens soms die basis van 'n mens se bestaan – jou geliefdes – vergeet,” voeg sy by.