Die paartjie het op 22 Mei vanjaar vir die eerste keer ouers geword en klein Heidi het onmiddellik haar ouers se harte gesteel. 

Volgens Reandi kan sy nie glo die tyd het so vinnig gevlieg en dat klein Heidi reeds drie maande oud is nie. 

“Sy is nog so klein, maar as ek na haar geboortefoto’s kyk, dan sien ek hoe baie sy al gegroei het. Sy raak ook by die dag vriendeliker,” borrel Reandi. 

En te oordeel aan die foto’s wat sy van haar dogtertjie in die sosiale media deel, hou Reandi daarvan om vir Heidi die oulikste klere aan te trek. 

“Oe, ek is mal daaroor,” vertel sy opgewonde. 

“Ek kan nie wag om in die oggende op te staan en op te dress nie. Nou kan ek dit dubbel doen met myself én met haar. Sy is nog te klein om te stry, so ek speel lekker pop,” vertel sy verder. 

En hoewel haar aanhangers dink Heidi lyk soos haar ma, meen die aktrise sy trek ook na haar pa. Reandi sê klein Heidi het beslis haar ogies en neus, "maar die bekkie is verseker haar pa s’n". “Sy is ’n goeie mengsel van ons albei.”

Die aktrise is tans op kraamverlof, maar keer aan die einde van September terug na 7de Laan se stel. 

“Ek mis die stel verskriklik baie en sien baie uit daarna om terug te gaan,” sê sy. 

“Die toneelspeldroom is net te groot en al te lank deel van my lewe om nie terug te keer nie.”

Tog wens Reandi sy kon vir klein Heidi saamvat. “Dit sou die ideale wêreld gewees het,” sê sy.

“Dit gaan beslis nie maklik wees om my kleine lyfie minder te sien nie, maar hopelik sal die werk my aandag ’n bietjie aftrek,” voeg sy by.